Muile

8 11 2010

Die afgelope ruk is Vanessa Goosen nogal heelwat in die nuus.  Sy was glo op haar dag ‘n finalis vir Mej Suid-Afrika, maar sou al jare terug vergete gewees het was dit nie dat sy in Thailand met dwelms betrap was nie.  Was dit weer nie vir die feit dat sy aan Mej SA deelgeneem het nie, was sy net een van die massas.  Een van die honderde (of is dit dalk duisende) “naamlose” Suid-Afrikaanse vroue wat in ‘n oorsese tronk aangehou word omdat hulle dwelms vervoer het. 

As ‘n mens kyk hoeveel mense al met dwelms betrap is, wonder ‘n mens of dit regtig vir die base die moeite werd is.  Elke keer wat iemand gevang word, is dit ‘n hele paar dollars by die drein af.  Ek neem egter aan dat die wat gevang word ‘n druppel in die emmer is.  Ek het byvoorbeeld al van die vrou gehoor wat in die tjoekie was oor minagting van die hof.  Sy moes in die hof verskyn het oor dwelmmisbruik klagtes, maar het nie haar afspraak nagekom nie.  Sy was ten tye met heroien in haar skoene oppad Mauritius toe.  Terug in SA toe is sy summier opgesluit, maar vir die “lesser of two evils”. 

Iemand gaan moeilik oortuig dat hulle onbewus was van wat gaan aan as hulle met ‘n paar pakkies in hulle maag en ‘n paar ander gate betrap was.  Hulle moes tog seker rot geruik toe hulle dit af moes wurg – dit is mos nie iets wat normaal is nie.  Net ‘n sot dra ‘n vreemdeling se pakkie deur die doeane punte.  Niemand gaan jou ‘n oorsese reis gee net om ‘n onskuldige pakkie saam te sleep nie.  Tog kan ek ook verstaan hoe mense per ongeluk hiermee in die jam land. 

Jy moet ‘n pakkie van jou ma se vriendin na haar dogter oorsee neem.  Een van jou vriende vra jou om vir hulle ‘n pakkie terug te bring.  Erger nog, jy het plek in jou tas en bied dit goedgunstelik vir ‘n vriend aan wat ‘n probleem met pakplek het.  Jy pak jou tas in jou huis, waar jou huismaats ook teenwoordig is en iets kan inglip.  Net ‘n paar ideale geleenthede vir ‘n “pakkie”, terwyl dit meestal doodonskuldig is. 

Ons lewe in ‘n tyd wat niemand meer vertrou kan word nie.  Wat maak jy?  Weier jy die pakkie of deursoek dit eers en/of sluit jou kamer toe terwyl jy pak?  Of is jy net krities met wat jy aanvaar en maak staat op die goedwilligheid van mense wat jy ken? 

Hoe voel julle oor die muile?  Was julle al in ‘n posisie waar jy moontlik ‘n slagoffer kon wees?  Watter muil stories kan julle deel?

Breinvasbrand:  Watter Suid-Afrikaanse akteur was onlangs met dagga by hom op ‘n Suid-Afrikaanse lughawe betrap?

Breinlosbrand:  Olga was reg met die Louvre.


Aksies

Information

9 responses

8 11 2010
JWW

Wel, ek reken as jou “vriende” dit aan jou kan doen, moet jy ernstig beter vriende gaan kry en baie gou ook !

Dit is in meeste gevalle seker baie arm mense wat geen ander midele het om so baie geld op eenslag te maak nie. . .

8 11 2010
Xena Phoenix

Dit is feite daardie. Die probleem is jy weet dit nie noodwendig tot jy met jou gat in ‘n Thaise tronk sit nie.

8 11 2010
demoerin

Mense doen snaakse goed vir geld as jy in die knyp is.

Ek dink die blote feit dat iemand my ‘n muil gaan noem, is genoeg om my af te sit 😆

8 11 2010
Xena Phoenix

Wel, aangesien ‘n muil die helfte van ‘n donkie is, behoort jy eintlik gevlei te voel.

8 11 2010
Olga

more, more. Ar iets te goed is om waar te wees, is dit dalk te sleg om waar te wees. Niemand gaan my of jou gratis en mahala n vakansie oorsee gee nie. Hoekom luit die klokke nie by die aanbod nie?

8 11 2010
Xena Phoenix

Om naief te wees is seker nie ‘n sonde nie, maar dit is beslis ‘n siekte. Party mense sal glo die son is pers.

8 11 2010
toortsie

jong, as jy oorsee toer, is daar maar gereeld mense wat vra of jy dalk iets sal saamneem. so het ons vir iemand gaan kuier oor die water, haar ma wou net ‘n klein ietsie saamstuur, siestog sy verlang so!! So ‘n koevert grootte. Toe die pakkie met BAIE MOEITE hier uitkom, is dit ‘n bierboks vol!!! RONDVOL!!! Ek het die goed saamgeneem (darem self ingepak, so ek kon sien wat dit is), maar so ‘n knor gegooi dat hulle NOOIT weer gevra het dat ek iets saamneem nie. Mens het NET 20 KG tot jou beskikking, as jy oorgewig betaal, is dit JOU koste!! Ek raak sommer suur as iemand vir my so ‘n guns vra en weier volstrek. maar vriende kan dit nie altyd verstaan nie. So kan jy MAKLIK in groot moeilikheid beland!!

8 11 2010
toortsie

ek wonder net, die mense wat so pakkies saamstuur – het hulle nog nie van pos of koerierdiens gehoor nie???

8 11 2010
Xena Phoenix

Dit kos geld en jy vat mos nie klere saam op vakansie nie, doen jy? 😯

Lewer kommentaar op demoerin Kanselleer antwoord