Olga het vir my huiswerk gegee om ‘n paar gevleuelde woorde oor vuur te spreek.
Vuur is seker een van die elemente wat die mensdom nog altyd gefassineer het. Dalk omdat vuur op ‘n stadium al was wat die kos kon gaar kry en wat so ‘n bietjie die donkerte verjaag het.
Ek het nogal heelwat los gedagtes omtrent vuur. Veral hoedat dit vriend en vyand kan wees. Vuur wat in baie gevalle noodsaaklik vir die ekologie is (ek dink aan proteasade wat net ontkiem nadat dit gebrand het), kan dit ook ‘n hele omgewing se ekologie uitwis. Hoedat kinders wat met vuurbrand in hulle beddens gaan piepie en grootmense hulle vingers gaan brand. Vuur bring erge verwoesting en is genadeloos in sy eise, maar vuur is ook die vonk waarmee vriendskap gevier word.
Daar is niks so lekker in die Winter as ‘n kaggelvuur wat gesellig saam knetter nie. Sit nou daarby ‘n lekker, dik bredie (of sop as jy verkies) en ‘n paar uitsoek DVD’s. Gooi die DVD’s of TV by die deur uit en speel bordspeletjies. Sluk alles af met ‘n goeie rooi wyn of amper beter nog, sjerrie of port. As dit nie jou tone laat krul nie, warm sjokolade of koffie gaan ook goed werk. Eintlik is die spyskaart en aktiwiteit van minder belang. Die kaggelvuur maak die vertrek snoesig en die samesyn in die tyd is ‘n natuurlike bymiddel.
As dit sommer is, beteken dit glad nie dat die vure nou geblus moet word nie. Dit is dan weer tyd vir waatlemoen, swempartytjies en natuurlik braaivleis. Hoeveel van ons lewens slyt ons nie langs ‘n braaivleisvuur nie? Hoeveel nuwe vriendskappe word nie om ‘n braaivleisvuur gesmee of hernieu nie? Kuier in die somer sonder braaivleis is amper ondenkbaar.
Daar is dan ook nog kampvure en ‘n groep vriende wat om die vuur sing en / of stories uitruil. Ons het as studente een keer saam gaan kamp. Na ete het ons ook ons sit langs die vuurgekry en kort voor lank het ons alles en wat nog gesing. Die een leier (die een wat veronderstel was om ouer en heelwat verantwoordeliker te wees) het ‘n “gat” in sy blikbeker gehad. Dit wou net nie vol wyn bly nie. Hoe meer iemand dit met wyn probeer stop het, hoe groter het die gat geword. Hoe groter die gat, hoe meer het hy Bohemian Rhapsody gesing.
Ek wonder of dit toevallig was omdat die Idiane rondom ‘n vuurtjie die vredespyp gerook het?
Ek deel nou vuriglik huiswerk aan Nell; Knipoog en Demoerin uit.
knap gedaan, dankie.
Oulik!!! Ek sal graag jou vriendin, Laviga, se weergawe ook wil lees!!
My ma hulle het altyd gesê, as jy met vuur speel gaan jy in jou bed piepie… Wonder waar kom hulle daar aan?
[…] weg vir ‘n paar dae om te rus… dan kom jy terug na ‘n inbox vol werk – en huiswerk. Hierdie is my gedagtes om VUUR – Ek gaan niemand tag nie, maar speel gerus saam – […]