Hoekom blog jy?

30 10 2010

Dit is soort van tradisie.  Een of ander tyd kom ‘n blogger by ‘n tyd wat Son woord droogte gedoop het.  Eendag as ek in die regte bui is, sal ek nog die vergelyking tussen ‘n stukkende blog en Stukkende gedig van Breyten Breytenbach tref.  In die huidige plek en ruimte is ek gelukkig hopeloos te vlak daarvoor.

 Ek dink die meeste mense begin blog vir een rede en selfs ‘n ideaal.  Tog hou ‘n mens aan blog vir ander rede.  Die hoofrede is seker omdat jy dit geniet.  Blog is hopeloos te veel werk as jy nie genot daaruit put nie.  Vir baie mense is hulle blog ‘n aanlyn dagboek, maar ek het regtig nog nooit daardie begeerte gehad nie.  Hoekom blog ek dan?  Verskeie redes, maar ek dink dit gaan hoofsaaklik oor die volgende redes.

  • Mense wat my goed ken weet dat ek alles omtrent tot op die been analiseer.  Sommige mense sal dit wroeg noem – ek persoonlik beskou myself as ‘n denker.  Blog help nogal om my gedagtes te orden en boek daarvan te kan hou.
  • Ek is verslaaf aan allerhande interessante brokkies.  Met ‘n blog het ek ‘n goeie verskoning om oor alles wat ek wil op te lees.  Dit kan dan sommer vir ‘n blog onderwerp ingespan word.
  • Noem my verwaand, maar saam met die vorige punt, dink ek dat ek ‘n bydrae lewer om meer inligting in Afrikaans beskikbaar te stel.  Moenie my vra hoekom nie, maar baie mense google in Afrikaans – hopelik kan ek hulle in die regte rigting help.
  • Die mense waarmee ‘n mens in aanraking kom.  Dalk nie almal goed vir jou nie, maar daar is baie min vervelige mense in die omtrek. 
  • Ek het ‘n spesiale talent vir strooi praat.  Dit moet seker vir iets goed wees, maar vir die oomblik gebruik ek dit om mee te blog. 
  • Dit is ‘n goeie platform om idees te deel en jou idees uit te daag.  Ek is mal oor ‘n goeie debat. 

Vandag wil ek eerder vra hoekom blog jy?  As jy dan nie self ‘n blog het nie, hoekom lees jy wel blogs?  Wat van blog haat jy?  En as jy besonders dapper is, wat is jou grootste grief as jy ander blogs lees? 

Dalk moes ek eintlik huiswerk uitgedeel het.  Ek neem aan julle kan ‘n skimp vang.





Province, Die Curriecup kom weer

30 10 2010

 

Ek gaan nie veel sê nie.  Ek sal nie sommer vir Leon my woordvoerder maak nie, maar in die geval sê hy dit die beste.

WP!!!!!!!

Maak van die Haai Bokkoms!!!!!!!!