Ek is ‘n groot aanhanger van algemene kennis. Ek sal die hele dag doodgelukkig wees as ek kan chappie papiertjies lees. Daar is mense wat wil sien, mense wat wil doen, mense wat wil weet en ander wat nie ‘n duiwel omgee nie. Ek is baie beslis in die wat wil weet se kliek.
Algemene kennis word deur baie as nuttelose inligting beskou. Hoe iets wat soveel deure vir jou oopmaak nutteloos kan wees, gaan my verstand te bowe. Algemene kennis verbreed jou uitkyk en maak jou wêreld net soveel groter. Gewoonlik hoef jy nie eers moeite te doen om dit te kry nie. Jy sal goed doen as jy net onthou wat jy in die laerskool geleer het en verder net na die wêreld oplet. Maklik.
Soms kan mense se gebrek aan algemene kennis my stom laat. Ons sit nou die dag in ‘n groep en praat van vroulike legendes. Almal dink dadelik aan Marilyn Monroe en ‘n paar onthou van Diana as ‘n nagedagte. Op die punt noem iemand Cleopatra. Dadelik is die groep verdeeld – die eerste groep is opgewonde oor die moontlikhede wat Cleopatra bied en begin sommer ook oor Nefertiri te praat. Die ander? Hulle weet nie wie Cleopatra is nie.
Cleopatra wat seker meer vrou was as wat Marilyn en Diana saam was. Die heerser van Antieke Egipte en die minnares van Julius Ceasar en Mark Antony. Hoe kan iemand nie weet wie Cleopatra is nie?
Goed en wel, almal hou nie van geskiedenis nie. Baie mense het Macbeth op skool gedoen en nie Julius Ceasar nie. Hoekom sal ‘n mens iemand Google as jy nie eers weet van haar bestaan nie? Maar werklik mense, ek het regtig gedink almal het darem Asterix gelees en gekyk. Kon hulle regtig vir Cleopatra mis?
Dit bring my tot iemand wat my nou die dag vertel het die internet maak die huidige geslag dom. Ons is blykbaar meer geneig om Google te beraadslag as ons eie oordeel. Volgens hom is Google se woord wet en sal mense dit dikwels nie bevraagteken nie. Mense sal ook nie sommer self ‘n probleem probeer oplos nie.
Natuurlik het ek gestry – ek is immers doodgelukkig verslaaf aan die internet. Na die Cleopatra voorval moet ek egter oor sy siening dink. Het die gemak van die internet ons lui gemaak? Intelligensie is nie verwant aan kennis nie, maar eerder wat met die “aangeneemde” kennis gemaak word. Om te weet is een ding, maar wat gaan jy maak met wat jy weet?
Die internet is immers ‘n baie geduldige dienaar. As jy die lus en die tyd het, sal jy bewyse van bykans enige iets opspoor. Jy sal argumentsonthalwe kan bewys dat die AK 47 oorlog en vrede bewerkstellig het. Sou jy nie dadelik jou wenkbroue gelig het oor vrede nie, het jy waarskynlik ‘n probleem.
Die internet kan vriend of vyand wees. Kritiese denke is wat bepaal of dit jou vriend op vyand gaan wees. Sou jy alles vir soetkoek opeet, dan is ek bevrees het jy internet se dienaar geword. Met kritiese denke bly jy altyd in beheer. En nie noodwendig net met internet gebruik nie.
Hoe voel julle hieroor? Weet julle darem wie Cleopatra was?
Breinvasbrand: Wat was Obelix se hondjie se naam?
Breinlosbrand: Olga was reg met Owen Parnell.
Wie runnik saam?