Onlangs het daar ‘n bom gebars rondom Babbelbekkie Kleuterskool in Pretoria. ‘n Video wat deur een van die onderwysers gemaak is het getoon hoe kinders in die kleuterskool mishandel word. Daar is onder andere beeld materiaal van hoe die skoolhoof ‘n kind oor die enkels slaan en hoe kinders aan ‘n tafel en ‘n matras vasgebind is. Alles glo in die naam van tugtiging en dissipline.
Natuurlik is daar ‘n paar vrae wat daaroor gevra word, insluitend hoekom dit amper ‘n jaar geneem het om die video’s openbaar te maak. Blykbaar het die ouers almal ‘n kontrak geteken waarvolgens hulle die skool toestemming gee om hulle kinders te tug. Geen kontrak is bokant die wet nie en die wet stel duidelik dat lyfstraf nie in skole toegelaat word nie. Nadat die video uitgekom het, is lyfstraf in geheel by die kleuterskool opgeskort. Die skoolhoof is van haar pligte teenoor die kinders onthef, maar kon nog administratiewe en huishoudelike pligte verrig.
Die skoolhoof is toevallig ook die skooleienaar se ma. Raai wat? Die nuwe skoolhoof het dieselfde van as Jacques Kruger. Ek dink nie ‘n aanname dat sy ook familie is vergesog nie.
Monique Deetlefs (22) is die onderwyseres wat die video gemaak het. Sy is op betaalde verlof geplaas hangende ‘n tug ondersoek. Dit sal niemand seker verbaas dat sy toe ook skuldig bevind is nie. Onder andere op 5 aanklagte dat sy lugtyd van die hoof se selfoon gesteel het en dat sy kinders onderskeidelik aan ‘n tafel en matras vasgebind het om die skool sodoende in ‘n slegte lig te stel. Sy is na die verhoor dan ook afgedank.
Dit bring my dan by die liewe ouers. Daar is natuurlik diegene wat hulle kinders summier uit die skool gehaal het. Dan is daar diegene wat die hele storie as ‘n heksejag afmaak. Ek kan net my kop skud oor van die kommentaar wat op die berig gelewer is. Daar is mense (wat trots is om aan die skool verbind kan word) wat verheug is dat Deetlefs afgedank is. Een voer aan dat die “diefstal van lugtyd” (kan iemand terloops verduidelik hoe jy lugtyd steel?) boekdele oor Deetlefs se karakter spreek. Sy is dus nie ‘n betroubare getuie nie. Nog een voer aan dat as jy kan lieg, kan jy steel en moor ook.
Kom ons veronderstel vir ‘n oomblik dat die beweringe rondom Deetlefs waar is. Wie is dan nog steeds oorhoofs verantwoordelik vir die welstand van die kinders? Die hoof, nie waar nie? Hoe kon Deetlefs toegelaat word om kinders aan tafels en matrasse vas te bind?
Ongeag of die video kwaadwillig gemaak is of nie. Feit bly staan dat ‘n kind oor die enkels geslaan is. Geen regdenkende mens slaan ‘n ander oor die enkels nie. (Kan dit dalk wees dat enkels nie te veel merke laat nie?). Na jare in die posisie is dit nogal waarskynlik dat dit eerder die reël as die uitsondering is. Kan dit op enige vlak goed gepraat word? Waarmee kom die ander toesighouers weg?
Gestel nou ‘n kind is dood as gevolg van die versorging en/of tugtiging wat hulle by die skool ontvang het, sou die lojale ouers dan ‘n ander deuntjie sing? Wat meer is nodig om hulle te laat insien dat van die praktyke in die skool onaanvaarbaar is? Is die blote feit dat die hoof wat ‘n kind herhaaldelik oor die enkels slaan rooi lig genoeg nie?
Hoe voel julle hieroor?
Breinvasbrand: In watter fliek is Arnold Schwarzenegger ‘n undercover kleuterskool onderwyser?
Breinlosbrand: 5:00
Wie runnik saam?