Iemand vra my nou die dag: “Xena, gaan jy ooit eendag groot word?”
😯
Ek sluk amper my koffiekoppie in. Dit is iemand wat ek van skool af ken en wat my sedert skool net ‘n handvol kere gesien het. Dit is nie die vraag self wat my skok nie, eerder die manier waarop dit gevra is. Half geamuseer en beterwetig, soos wat ‘n mens met ‘n kind praat.
“Natuurlik nie .” antwoord ek met minagting en plaas daarmee die vraer op die verdediging.
Niks minder as reg nie. As groot word beteken dat ek my inner kind moet versuip, stel ek nie daaraan belang om groot te word nie. Ek wil nog uitbundig kan lag en soms net mal gaan. Ek wil nog kan droom en fantaseer. Ek wil ook sien wat ‘n kleuter kan sien en hulle wêreld kan verstaan.
Wat beteken groot word in elk geval? Mag jy as ‘n groot mens nie meer jou self vermaak met onskuldige pret nie? Moet jy opsluit stadig probeer wees en nie meer lag nie? Moet jy idees van ‘n 100 jaar terug handaf en jouself daarmee bespotlik maak?
In daardie geval bly ek regtig vir die res van my lewe ‘n kind.
Ja, ek is so mal soos ‘n paashaas. Ek sal sonder skroom my kop uit ‘n venster druk en ‘n bobbejaan in 3 tale vra waar daar ‘n luiperd is. Ek tree dalk nie altyd 100 % verantwoordelik op nie, maar ek vat verantwoordelikheid vir my dade. Of sorg ten minste dat ek nie gevang word nie.
Ek is gemaklik met die mens wat ek is. Jammer vir jou as dit jou ongemaklik laat.
Wie runnik saam?