Onbekende aanhalings

16 10 2010

Ek het eendag gehoor aanhalings is vir iemand wat nie hulle eie gedagtes in woorde kan omsit nie.  Dit kan dalk wees, maar dit behoort nie iets van ander se woorde weg te neem nie.  Almal het tog hulle sêdingetjies en dit is soms net lekker om dit te kan leen.  Geen mens sal tog ooit die waarde van hulle eie woorde ken nie. 

Deesdae draai byvoorbeeld “of wat ertjies kos nie” in my kop.  Vir die wat nooit romans lees nie of dit nooit hardop sal erken nie.  Die kom van Ettie Bierman se Rooikop te Koop – ‘n boek wat ek al in die laerskool gelees het.  Dit pas perfek by die mense wat oor niks anders oor hulle huishoudelike sake kan praat nie.  Hulle het geen belangstelling in nuus, boeke, musiek, nuus, skinder of selfs sport nie.  Hulle dag tot dag bestaan, hulle eie klein wêreld, is die volle omvang van hulle gesprekke.  Ek ken sulke onbelese mense, goeie mense, maar hulle maak my altyd bewus daarvan dat ek geen idee of belangstelling in die prys van ertjies het nie. 

Schalkie van Wyk het weer in “Teer soos ‘n vlinder” ‘n liefde opsomming wat vir my nogal sin maak.  Liefde is so teer soos ‘n vlinder wat jy in jou hand hou.  As jy jou vingers te oop hou, gaan die vlinder wegvlieg.  As jy jou hand te styf toeknyp gaan jy die vlinder dooddruk.  Dus as jy ongeërgd in die liefde is, gaan die liefde ontsnap.  As jy te jaloers is, gaan jy die liefde dood maak.

In die “Motorfiets rabbedoe” praat die een man die heeltyd wye draaie om die dit wat hy tieners gevang doen het.  Sy vroulike kollega onderbreek hom dan en vertel hom dat “dit word gemeenskap of seks genoem”.  Tot sy groot skok natuurlik.  Ena Murruy praat weer van “kougom spiere” in die “Meisner Kliniek”.  Tipies vir wanneer iemand dink jy is nie sterk genoeg om iets self te doen nie. 

Vandag soek ek julle aanhalings.  Sommer van mense wat julle ken.  Dalk sommer ook julle eie?  Watter uitdrukkings het julle al teëgekom wat net te goed was om te ignoreer?