Toortsie het my ingelig dat 15 Oktober Blog Aksie dag is. Die idee is om die wêreld se bloggers te verenig deur om oor dieselfde onderwerp te skryf. Die onderwerp vanjaar is water.
Daar is ‘n skimp dat ons oor die belangrikheid oor die suiwerheid van water moet praat, maar ek is nie besonders goed daarmee om skimpe te snap nie. Water is so ‘n wye onderwerp, dat dit ‘n sonde is om dit in ‘n blik te druk. Daarvan wil ek darem nie beskuldig te word nie.
Dit is eintlik ironies hoe maklik water wel in ‘n blik gedruk kan word. Terselfde tyd kan water ook ‘n blik laat bars sou dit die water behaag. Daar is seker niks meer vervelig as ‘n glas water nie. Daar is seker ook geen ander drankie waarvoor daar so opreg gebid kan word as ‘n glas water nie. Die mens trek so dikwels hulle neuse vir water op, maar dit is iets wat noodsaaklik is vir oorlewing.
Water is daar om te verstom. Water maak dikwels ‘n fees vir die oog. Wie word koud gelaat deur die manjifiekheid van ‘n waterval. Water verskaf plesier en is ‘n wonderlike medium om mee te speel. Water onderhou lewe, maar dieselfde water kan lewe uitvee. Water kan gemoedere salf, maar soms ook vrees inboesem.
Water laat plant en dier die aarde bedek. Dieselfde water kan weer alles op die aardoppervlak wegvee. Vir dieselfde geld kom niks tot stand sonder water nie. Niks is egter bestand teen die aanslag van water nie. Tog word die massas water as huis gesien deur miljoene diere en plante.
Water kan kristal helder wees, maar water kan ook ‘n gifnes wees. Water reinig, maar kan ook maar lekker mors. Water kan verkoel, maar ook verhit. Water is ook die enigste middel op aarde wat in ‘n vaste vorm minder dig is as in vloeibare vorm (Ys dryf op water). Dit is wat water in staat stel om lewe te onderhou.
Dit laat my dink aan ‘n aanhaling van Bruce Lee:
Don’t get set into one form, adapt it and build your own, and let it grow, be like water. Empty your mind, be formless, shapeless — like water. Now you put water in a cup, it becomes the cup; You put water into a bottle it becomes the bottle; You put it in a teapot it becomes the teapot. Now water can flow or it can crash. Be water, my friend.
Hoe voel jy oor water?
Breinvasbrand: By watter temperatuur is water die digste?
Breinlosbrand: Olga was reg met Macbeth.
Wie runnik saam?