Woorde van Wysheid

28 02 2010

Vandat Visoog ons met sy teenwoordigheid vereer, spook hierdie gedagte met my.  ‘n Mens kan nie jare lank dieselfde gesegdes (preek) hoor sonder dat daar iewers iets vashak nie. 

Ons laerskoolhoof het sulke half deurskynende, emosielose groen oë gehad.  My ma het altyd ‘n bynaam vir almal en altyd gehad.  Vandat sy die eerste keer sy oë opgelet het, was sy lot bepaal.  Hy sou in ons gesin Visoog heet.  Toegegee, al het sy oë mens rillings gegee, was hy ‘n baie goeie skoolhoof gewees.  Ek onthou hom en sy gesegdes baie beter as die man wat hom in st 3 of 4 opgevolg het.

Visoog (ja, ek kan nog sy regte naam en van onthou) se gunsteling seepkissie was die beeld in die spieël.  Hy het ons altyd gevra hoekom gaan ons skool?  Hoekom moet ons leer en ons huiswerk doen?  Dit was nie om ons ouers te plesier of om die onderwysers tevrede te stel nie.  Nee, ons gaan skool vir die mens wat ons in die spieël sien.  Dus ons self.

Blykbaar het hy ook ‘n spieël in sy kantoor gehad om die les te beklemtoon vir diegene wat ekstra motivering nodig gehad het.  Ek was nou nie een van hulle nie, ek was baie soet op skool gewees.  Wel, op laerskool in elk geval. 

Destyds was dit ‘n holrug geryde cliché, maar daar is tog ‘n rede hoekom iets ‘n cliché word.  Dit is omdat dit ‘n onbeskaamde waarheid is.  En dit strek verder as net dat harde werk op die ou einde jouself beloon.  Alles wat jy op aarde doen, ongeag aan wie of vir welke rede jy dit doen, het ‘n invloed op die persoon in die  spieël. 

Ek gaan vergifnis as ‘n voorbeeld gebruik.  Vergifnis is nie net ‘n geskenk teenoor die “oortreder” nie, dit is ‘n groter geskenk aan jouself.  Die dag wanneer jy waarlik vergewe, gooi jy die las van haat en woede van jou skouers af.  Jy gaan makliker beweeg en gelukkiger wees as die oortreder.

Watter gesegdes van onderwysers het by jou vasgehak?  Watter was dalk absolute snert?

Breinvasbrand:  In watter skool is Harry Potter?

Breinlosbrand:  Mej Muis





Oplossing 022

28 02 2010

Algemene Kennis

  1. Charmaine Phillips
  2. Thozamile Taki
  3. Gewildste sepie
  4. Nando’s
  5. Na’vi

Uilspieël 

  1. Invictus is nie benoem vir ‘n Oscar as beste fliek nie en die ander was. 
  2. Amanda Bynes se van is nie Fox nie, die ander s’n is wel. 
  3. Cameroon is ‘n skaapras en die res is beeste.
  4. Landros is nie ‘n skaakstuk nie. 
  5. Britanje se vlag is blou, rooi en wit en die ander is net rooi en wit. 

Couples Theraphy

  • Wit das = Tiara
  • Parys = Vaal
  • Cosmopolitan = Vodka
  • Sahara = Gladiator
  • Namib = Kalahari

Liedjiepret

  1. Losing my religion – REM
  2. Lookout, here comes tomorrow – The Monkees
  3. Longfellow Serenade – Neil Diamond

Bonuspunte: 

Nommer kopkrap

Staan oor

Toorwoorde

  1. Noordoostelike deel van die Vrystaat 
  2. Lugverkeerbeheer
  3. Onder minder begaafdes blink ‘n middelmatige uit.
  4. Streepsuiker
  5. Staan oor




Chariots of Fire 021

27 02 2010

Algemene Kennis

  1. Wie was die vrou saam met Pieter Grundlingh aandadig vir moorde wat in 1983 gepleeg is?
  2. Wie is die suikerrietmoordenaar?
  3. Waarvoor was 7de Laan met ‘n SAFTA bekroon?
  4. Wie se nuwe advertensie lui:   “Dianne, there’s only one place where it’s OK to use fowl language.”?
  5. Wat word die kreature genoem waaroor Avatar handel?

Uilspieël

  1. Invictus; District 9; Inglourious Bastards
  2. Nicole; Megan; Amanda
  3. Afrikaner; Drakensberger; Cameroon
  4. Landros; Biskop; Koning
  5. Denemarke; Switserland; Britanje

Couples Theraphy

(Plaas die woorde in pare bymekaar.  Elke regte paar kry een punt.)

Vodka; Wit das; Namib; Vaal; Tiara; Gladiator; Cosmopolitan; Sahara;  Kalahari; Parys

Liedjiepret

Ek verloor my geloof deeltjie vir deeltjie elke dag.  Wie kan nou nog aan die Paashaas glo?  Niemand weet eers of hy maar nie die eiers versprei en of hy (seker sy) dit self lê nie.  Kyk, hier kom more, maar ons raak nie wyser nie.  Of dalk wil ons net nie.  Die lang ou serenade is tog ‘n soveel mooier storie.

(Geen een woord titels sal aanvaar word nie.)

Nommer kopkrap

3; 6;  _; _;  21

Toorwoorde

  1. Riemland?
  2. LVB?
  3. In die land van blindes is Eenoog koning?
  4. Pakslae?  (12 letters)
  5. NUKULOSE?




My oppasbytjie

26 02 2010

Hallo Maatjies

Ek het julle net gou vinnig kom wys hoe lyk  my oppasbytjie.  😆  Sy dink sommer sy is snaaks, kyk hoe het sy in ‘n klip verander.  👿  Sy is seker maar net fotoskaam.

Tannie Ougat het my gevertel wat ‘n oppasbytjie is.  😯  Sy sê alle maatjies kry ‘n bytjies wanneer hulle op die aarde kom woon.  Die bytjie moet hulle oppas dat hulle nie seer kry nie.  Merriegriet sê ek het 12 bytjies nodig om my uit die kos te hou.  😡  Sy is tog net jaloers omdat haar bytjie nie so mooi soos myne is nie.

Die bytjie se tassie is plat en loop voor haar voete saam.  Dit is ‘n groot tassie.  😯  Merriegriet sê dit is omdat daar ‘n maatjie onder haar voete dood is.  Gmf!  Sy vergeet weer dat ek ‘n slim heks is.  Ek weet mos dit is ‘n bytjie en nie ‘n spook nie.

Ek moet my bytjie nou gaan wakker maak.  Dalk leer sy my om my toorwoorde te onthou.





Die Taalstryd

26 02 2010

Lizz Meiring het nou die dag ‘n taamlike sterk brief rakende die taalstryd geskryf.  Dit was in die Beeld,  ek kry dit nie nou so vinnig nie.  Dit kom basies daarop neer dat ons vloermoere kan gooi tot ons blou in die gesig is, maar dit doen net mooi niks vir Afrikaans nie.

Volgens Meiring lê Afrikaans se behoud in kuns.  As ons, wat onsself Afrikaners noem, nie Afrikaanse kuns ondersteun nie, sal dit Afrikaans nie ‘n asem hê en dus sterf.  Jy moet Afrikaanse boeke lees, Afrikaanse musiek luister en Afrikaanse opvoerings bywoon, as jy wil verseker dat Afrikaans die taal van die toekoms is.  Verder het sy geskimp dat dit nie genoeg is om kunstefeeste by te woon nie, jy moet ook plaaslike teaters ondersteun.

Ek kon nie help om te wonder of sy vir die voorbestaan van Afrikaans of vermaakkunstenaars pleit nie.  Daar is egter ook waarheid in wat sy sê.  Dit was juis die gedig Wintersnag (Marais) wat Afrikaans tot ‘n volwaardige taal bevorder het.  Ongelukkig was daar nie juis in die verlede kompetisie gewees vir die kunsvorme nie.  Die volk was anti-Engels, dus as jy dit wat jy doen in Afrikaans gedoen het, was dit goed genoeg.  ‘n Halwe eier is beter as ‘n leë dop.

Mense het tog later besef dat Engels nie ‘n sinoniem vir boos is nie.  Die Afrikaanse mark moet met ‘n sterk, internasionale mark meeding.  Juis omdat die Engelse mark so groot en wyd is, kan net die bestes in die openbare mark oorleef.  Die paddas in ‘n baie klein poeletjie was in die moeilikheid.  Die meerderheid was bloot net nie goed genoeg nie.

Dit was dus nie ‘n gebrek aan belangstelling wat mense van Afrikaanse kuns vervreemd het nie.  Die kwaliteit het veel te wense na gelaat.  Gelukkig het kunstenaars dit besef en deesdae is daar baie wat nie ‘n tree terug hoef te staan nie.  Maar daar is nog steeds diegene wat die golf van ek-is-Afrikaans-en-dit-is goed-genoeg probeer ry, baie suksesvol ook.

As ek moet betaal om kuns te bevorder, verwag ek kwaliteit vir my geld.  Ek is nie ‘n martelaar nie, nie eers vir Afrikaans nie.  Wanneer ek waarde kry op my belegging en Afrikaans kan daardeur bevorder word, is dit bakgat.  Verder praat ek Afrikaans en maak seker dat dit nie onder die mat in gevee word nie.

Wat dink julle?

Breinvasbrand:  Wie was die padda se meisie in “Die padda wou gaan opsit”?

Breinlosbrand:  DMI was reg met Ruth Handler.





Nuusbrokkies

26 02 2010

‘n Ma van Kagiso, Johannesburg het haar nege jarige seun met ‘n strykyster bygekom.  Sy sal vandag in die hof verskyn daaroor.

Donovan van der Merwe (23) was in 2008 aangerand en vermoor nadat hy Emmarantia Miles se boud geknyp het.  Sy het hom afgesnou toe hy dit die eerste keer gedoen het.  Die tweede keer het sy hom drie keer deur die gesig geklap en toe neem die manne oor.  Miles (30), Byron Steele (22), saam met mnre. Fabian Graham Redcliff (21) en Freddy Monti Steele (49) is gister aan sy moord skuldig bevind.

Solidariteit het The stories of South Africans the president didn’t want to hear vrygestel gister, met Steve Hofmeyr as aanbieder.  Daarop vertel mense hoe hulle deur misdaad geraak is.  Die dokumentêr is gemaak na aanleiding van 400 000 briewe wat oor misdaad aan die president geskryf is.  Die presidensie het geweier om die briewe te aanvaar.

Dawn Brancheau (40) het verdrink nadat die stormvis (killerwhale) wat sy afgerig het haar gegryp het.  Dit is die derde geval waar die spesifieke stormvis by ‘n mens se dood betrokke was.  Hmmm – weet mense nou nog nie dat ‘n mens nooit ‘n wilde dier kan vertrou nie?





Kan iemand dit dalk verduidelik?

25 02 2010

Ek is dalk nie die skerpste potlood nog nie, maar ek is by verre ook nie die stompste potlood nie.

Daar is wel iets wat ek nie kan klein kry nie.

Gestel nou ek begin ‘n besigheidsforum waaraan net blankes mag behoort of ek hou ‘n skoonheidskompetisie waar net blanke deelnemers wat heteroseksueel is aan mag deel neem.  Sien julle die prentjie?  Wat sal gebeur?  Ek sal die millenium se nuwe Hitler wees.  Almal oor die hele wêreld sal my wil kruisig.

Tog kry ‘n mens ‘n Black Business Council en ‘n black vereniging vir amper elke moontlike beroep.  Daar is ‘n swart en indiër Mej Wêreld en ‘n mens kry kompetisies wat uitsluitlik vir homoseksueles is.  Net om ‘n paar voorbeelde te noem.  Niemand skimp eers dat dit op diskriminasie gegrond is nie.

Vir my 300ste inskrywing op Herriemerrie, mag ek vra wat op aarde is die verskil?

Mag ek my verstout om te sê dat dit net diskriminasie is as ‘n blanke (soos in Caucasian), heteroseksuele, man of Christen gaan voordeel trek?





Nuusbrokkies

25 02 2010

Elektrisiteit gaan met 25 % per jaar oor die volgende drie jaar verhef word.  Hoe meer elektrisiteit jy gaan gebruik, hoe duurder gaan dit raak.  Huishoudings wat 800 kWh elektrisiteit gebruik, sal bv net 8,5% en 10% meer betaal.  As jy egter meer as 2000 kWh gebruik, kan dit jou 35% meer uitwerk.  Dus moet jy maar spaar waar jy kan.

‘n Man van Brakpan was deur die polisie aangerand omdat hy glo dronk op straat was.  Quentin du Plessis (30) sê hy het in die loop van die middag net 3 biere geniet.  Terwyl hy huis toe gestap het, het die polisie hom in die vangwa geboender.  By die stasie het hulle beurte gevat om hom aan te rand.  Hy is die volgende dag hof toe waar hy ‘n R300 boete moes betaal.  Die landros het hom aanbeveel om ‘n saak te maak.  By die aanklagkantoor was hy vertel:  “to get out of here before we f*** you up again”.  Hy het wel later deur ‘n polisie kennis ‘n verklaring gemaak.

‘n 14 jarige snotkop het ‘n ander 14 jarige in Middelburg beskuldig dat hy sy albasters gesteel het.  Hy wou dit met geweld terug neem, maar die ander seun het maar eerder by die huis ingevlug.  Toe steek die aanvaller maar die gesin se hond met ‘n mes dood. Die DBV ondersoek ‘n saak van Diere Mishandeling.

Die versoeningproses met die Reitz 4 het misluk en nou sal hulle wel hof toe moet gaan.  Hulle prokureur blameer die Menseregtekommissie.  Adv. Mothusi Lepheana die streekhof het Vrydag aangekondig dat die skoonmakers hulle van die proses onttrek het.  Jonathan Jansen beskou dit net as ‘n kinkel in die pad en reken daar kan nog baie gebeur voor Julie.  Die Reitz 4 sal deur adv. Kemp J. Kemp SC verdedig word.  Hy is mos die man wat Zuma los gekry het.

Die grap van die dag is dat Malema nou die jeug wil wys hoe word daar besigheid gedoen.  Met sy “Ek het onbeperkte toegang tot Zuma. Ek is vriende met al die premiers. Ek is na aan al die ministers,” wil hy nou besigheid doen.  Die enigste probleem is:  “Sodra ’n swart jongmens sake doen, dink mense hulle is korrup.”  Ek het onlangs baie duur vir ‘n HAT betaal en raai wie se foto het ek onder korrup raakgeloop?





Nuusbrokkies

24 02 2010

2 van Hettie Britzz se aanvallers is aangekeer.  Sy goed nie vergelding nie, maar wil eerder die aanvallers in die oë kyk en oor hulle keuses praat.  Dit is nog nie seker of een van hulle haar verkragter was nie. 

100 kanale of nie, almal weet dat daar nie altyd iets is om te kyk op DSTV nie.  Hulle beplan om hulle programme met pornografie uit te brei.  Die moontlikheid dat hulle ‘n sekskanaal of 2 gaan begin is ook nie uitgesluit nie. 

Werner Badenhorst, Asterhof se huisvader, het ‘n bevel teen Springbok Bar gekry.  Die kroeg is 30 m vanaf Asterhof (en sy woonstel).  Springbok bar is tot die vroeë oggend ure oop met baie geraas.  Die perseel waar hulle is, is ook nie geoormerk vir ‘n vermaaklikheidsperseel nie.  Die eienaars moet die lawaai beperk. 

‘n Pediater van Sussex, Engeland, staan 471 aanklagte van molestering in die sig.  Earl Bradley het ten minste 103 kinders gemolesteer en het dit op video opgeneem.  As ‘n mens nie eers ‘n pediater by jou kinders kan vertrou nie  . . . .

Robert Mugabe het onlangs 86 geword.  Die Zanu-PF hou blykbaar van die idee dat hulle leiers in die tuig moet bly tot die dood hulle in haal.  Mugabe behoort dus in 2013 weereens gekies te word as hulle leier.  Ontleders meen ‘n mens moet gewoond raak aan Mugube tot sy dood president gaan bly.  Werklik?  Ons weet dit mos al lankal. 

Die liewe Elton John.  Onlangs het hy in ‘n onderhoud gesê:  “Ek dink Jesus was ’n deernisvolle, super-intelligente gay man wat menslike probleme verstaan het.”  Mense is nie gelukkig daaroor nie, baie sweer om nooit weer iets van hom te koop nie.  Kerkleiers reken dat hy die pot nie sover missit nie, maar dat hy liefs Jesus se orientering aan die akademici moet oorlaat.  John sê dit is net sy mening en dat elkeen hulle eie Jesus moet definieer. 

En om mee af te sluit:  ‘n Spanjoel het ‘n meeu ‘n bietjie te ver gejaag by Seven Sisters aan die suidelike kus van Engeland.  Hy het oor die krans gestort en 90 m ver tot in die see geval.  Hy het geen ernstige beserings nie, sy een long het net plat geval.





Dokter Dokter

23 02 2010

Ek, Xena Phoenix, hou net mooi niks van dokters nie.  Ek erken, die oorsaak is waarskynlik ‘n dik streep jaloesie.  Net omdat ek nie saam met hulle die room kan afskep nie.  Behalwe dat ek nie dink dat ek so ‘n gulsige dokter sou wees nie, ek was naïef genoeg om mense in hulle ellende te help.  Nie om ryk te word nie.

Ek was in my lewe al meer by ‘n tandarts as by ‘n dokter.  Net nog een keer by ‘n spesialis gewees en dit was vir my ore.  Hy kon my boonop nie vertel dat sinus veroorsaak dat ek ‘n kers uit my ore kan trek nie.  Hy het dit wel mooi skoon gemaak, op ‘n veel aangenamer manier as om dit te laat uitwas.  Ek jok nou, my verstandtande was ook deur ‘n spesialis uitgeslag, maar ek het hom net 3 minute voor die prosedure gesien.

In elk geval, dit is eers wanneer ek te bang is om verby ‘n emmer te loop, dat ek oorweeg om na ‘n dokter te gaan.  Dit het my nogal eendag berou toe ek nie my sinus self kon wegdokter nie en toe met bronchitis gesit het.  Dit het my geleer om maar eerder te gaan wanneer ek myself nie vinnig genoeg kan help nie.  Ek het darem gewoonlik ‘n goeie idee wat ek makeer voor ek gaan en bewaar haar siel as sy nie saamstem nie.  Ek bly daar tot ek presies weet wat aangaan en met haar saamstem.  Ek is nie simpel genoeg om haar te vertel wat ek dink wat fout is nie.

Ek het nie regtig ‘n huisdokter nie, maar daar is die een vrou wat ek op ‘n meer gereelde basis sien.  Ek hou nie juis van haar nie, maar ons verstaan mekaar goed.  Sy is baie lief daarvoor om ‘n uriene monster te vra.  In die dae van my sotheid het ek dit geredelik gegee, tot ek agter gekom het sy doen ‘n swangerskaptoets op my.  Ek mag ‘n student gewees het, maar ek weet mos dat ek nie swanger is nie.  Sy hoef my wragtig nie agteraf te toets nie.

So kom ek weer op ‘n dag by haar met ‘n bielie van ‘n migraine.  Glad nie lus vir haar of haar strooi nie.  Ek is nog besig om te gaan sit, toe ek badkamer toe gestuur word.  Dit is mos net hier waar ek moet besluit of ek ‘n hartaanval of ‘n beroerteaanval moet kry.  Ek wou haar nog hel toe pos, toe gooi sy al klaar wal met verduidelikings.  Hoofpyn kan glo op ‘n hormoon wanbalans toon wat sy in my uriene kan toets.  Ek het maar haar woord gevat en sy het in haar spoor getrap.  Sy het nog nooit weer ‘n uriene monster gevra nie en dit is al goed 7 jaar later.

Dit maak my nog steeds nie lief vir haar nie.  Tot dusver kan ek darem sê (touch wood) dat ek nog nie aan die hand van ‘n dokter se onnoselheid gely het nie.  Waarskynlik omdat ek alles bevraagteken wat hulle my vertel.  Ek ken ook genoeg mediese terme om nie verward te raak  nie.  Verder kan ek nie minder omgee dat hulle dalk dink dat ek dom is nie, ek betaal baie om te hoor wat fout is.

Vandag is dit julle beurt om ons almal van vooraf bang te maak vir medici.  Watter stelle het julle self al afgetrap met ‘n dokter wat aangejaag het?  Watter riller verhale het jy al van ‘n dokter se sotheid gehoor?

Breinvasbrand:  Wat is Lexie Grey se bynaam in Grey’s Anatomy oor haar geheue?

Breinlosbrand:  Freek was nogal reg met die invloed wat uiterstes op die geheel kan hê.  Jayde se voledige definisie omskryf dit dalk net beter.