Ek was eendag by die dokter gewees. Die besoek is deur die medies gedek, maar ek moes die medisyne uit my sak uit betaal het. Ek het daardie dag onder andere antibiotika gekry. Ek was natuurlik nie baie gelukkig met die wending gewees nie en het almal wat wou hoor vertel wat ek daarvan dink. Tot my ma my vertel dat haar kat veearts toe moes gaan. Sy antibiotika was dubbel die prys van my antibiotika.
Met een drastiese verskil. Ek kon my voorskrif na ‘n apteek geneem het wat die medisyne van die medies sou eis. Die kat het nie medies gehad nie. Ek kon na ‘n staatshospitaal toe gegaan het en daar omtrent kosteloos behandel geword het. Die kat kon veearts toe of siek bly. Teen die veearts se prys. Was daar doodeenvoudig nie geld vir die medisyne nie, was dit maar daarnatoe. Dit is maar net ‘n kat. Of ‘n hond, of ‘n bees, of ‘n skaap . . . Dan word ek vertel dat mense wat lief is vir diere veeartse word.
Gaan loop ‘n mens deur enige minder-gegoede buurt, tref die oormaat diere jou altyd soos ‘n vuis tussen die oë. Mens skud maar jou kop en wonder hoe die mense diere durf aanhou as hulle hulleself nie eers kan voer nie. Dit is verseker vir die meerderheid gevalle wel ‘n geval van hulle gee net nie om nie. Maar as ons nou regverdig wees, moet ons erken dat daar wel die enkeles is wat vir hulle vierpotige vriende lewe. Wat eers hulle troeteldiere sal voer en dan, as daar iets oorbly, self sal eet.
Natuurlik het hulle nie geld vir die luukse vir ‘n veearts nie. Natuurlik sal hulle diere aanteel teen ‘n skrikwekkende tempo. Veeartse vra kontant en kontant is die een ding wat hulle nie het nie. As die wollerige maatjie siek raak, is gebed die enigse uitweg. Niemand kan van die veearts verwag om verniet te werk nie. Selfs die DBV is glad nie skaam om hulle pond vleis te eis nie.
Die probleem is nie net beperk tot die laer ekonomiese klasse nie. Die gemiddelde gesin met uitgawes soos behuising, skoolfonds, elektrisiteit, kos, klere, motors ens het, het ook nie altyd die kontant vir ‘n onvoorsiene probleempie met die hond of kat nie. Dit is hartseer, die is nie regverdig nie, maar dit is die realiteit. Een wat die weerloses moet betaal.
Ek wil graag weet of die tariewe van veeartse billik is. Goed en wel, hulle moet ook ‘n bestaan kan maak. Hulle het hard geswot om te kom waar hulle is. Maar, is daar nut aan hulle as mense hulle nie kan bekostig nie? Is daar iewers ‘n middeweg waarvan ek nie bewus is nie?
Gestel nou daar is ‘n week elke jaar waarin diere gratis gesteriliseer kan word, sal die gevalle van dieremishandeling en -verwaarlosing nie aansienlik minder wees nie?
Wie runnik saam?