Die buksie van Hoopstad

28 01 2010

Agter in my kas kruip daar ‘n skelpienk tennisraket weg.  Nie omdat ek my skaam vir die kleur nie (nooit gesien nie), maar eerder omdat ek graag meer gereeld sal wil speel.  Al is ek pateties op ‘n baan, met geen “ball sense” en hopeloos te lui om te hardloop, hou ek van tennis.  Ek sal dit ook geredelik op televisie kyk.  Steffi Graf en André Agassi is by uitstek my gunstelinge:  julle het tog nie gedink dit is toevallig dat die twee met mekaar getrou het nie.  Maar enige iemand wat by Graf vrees ingeboesem het, verdien my respek.  Veral as sy nog boonop ‘n Suid-Afrikaner is.

Amanda Coetzer is op 22 Oktober 1971 in Hoopstad gebore.  Haar ouers was Nico en Suska Coetzer.  Sy het in 1988 begin professioneel speel.  Sekerlik een van die kleinste vrouens in professionele tennis, Coetzer is maar 1.57 m lank en weeg 54 kg.  Sy sal dus nie sommer as een van die wêreld se grootste spelers onthou word nie, maar sy is gewis Suid-Afrika se beste vroulike speler op datum. 

Vir die grootste gedeelte van haar loopbaan het Coetzer in Hilton Head, South Carolina gewoon.  Sy was afgerig deur Gavin Hopper.  Haar loopbaan het in 1997 ‘n hoogtepunt bereik.  In November van dieselfde jaar was sy 3de op die ranglys gewees van vroue tennis, haar hoogste ooit. 

Coetzer het nooit een van die Grand Slams gewen nie.  Sy het wel al die semi-finale rondes van die Australiese Ope en die Amerikaanse Ope behaal.  Coetzer het 9 titels in haar professionele loopbaan ingepalm, die grootste daarvan is seker die Hilton Head in 1998.  Saam met Wayne Ferreira het sy die Hopman Beker vir Suid-Afrika gewen.  Sy het Suid-Afrika ook drie keer in die Olimpiese Spele verteenwoordig. 

Glad nie sleg vir ‘n meisie van die Vrystaat nie, maar dit vergelyk maar vaal teenoor Steffi Graf wat 107 titels ingepalm het en 22 Grand Slam titels agter haar naam het nie.  Tog is Coetzer een van net 6 spelers wat Graf in een jaar 3 keer op haar neus kon laat kyk het.  Sy is ook een van 4 spelers wat Graf meer as een keer in Grand Slam toernooi ore kon aansit.  In 1995 het sy Graf se wedloop van 32 oorwinnings in ‘n ry beëindig in die Kanadese ope.  Graf het ook haar grootse pak slae van Coetzer gekry.  Dit was in die kwartfinale in Berlin en die telling was 6-0, 6-1.  Coetzer het met Graf binne 56 minute kaf gedraf.

Graf was nie die enigste nommer een speler wat deur Coetzer die loef af gesteek was nie.  In 1999, het Coetzer die enigste speler geword wat Graf, Martina Hingis en Lindsay Davenport kon wen terwyl hulle die beste in die wêreld was.  Haar krag was juis daarin dat die hoë gekeurde spelers haar nooit kon afskryf nie, sy het net te dikwels met hulle klaar gespeel.

Coetzer het amper $6 miljoen verdien met tennis toe sy in 2004 afgetree het.  Sy is getroud met Arnon Milchan wat 27 jaar ouer as sy is.  Milchan was die vervaardiger van onder andere Pretty Woman.  Hy is ‘n Isreali.

Breinvasbrand:  Wat was Amanda Coetzer se bynaam (behalwe Buksie van Hoopstad)?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met galjoen.





Nuusbrokkies

28 01 2010

Ruben Kruger is gisteraand in die ouderdom van 39 oorlede.  Kruger voer sedert 2000 ‘n stryd teen breinkanker.  Hy is in 2007 en 2009 geopereer om gewasse te verwyder.  Kruger was vanaf 1993 – 1999 lid van die Springbokspan, hy het 36 toetse gespeel en 7 drieë gedruk.  Kruger laat Lize (sy vrou), Zoë (7) en Isabella (4) (sy dogters) agter.

‘n Ma van Weltevredenpark in Johannesburg het verlede Dinsdag met haar baba tougetrek om te keer dat hy ontvoer word.  Die baba is maar 20 maande oud.  Hulle was oppad kleuterskool toe, toe ‘n man haar met ‘n mes in haar rug haar na ‘n parkie gedwing het.  Sy was eers met ‘n tou om die nek aan ‘n boom vasgemaak, betas en toe haal die aanvaller die baba uit die waentjie uit.  Sy ma het na sy voete gegryp en die aanvaller het haar gesteek in die hoop dat sy hom sal los.  ‘n Man het haar te hulp gesnel en sy kon ontsnap.  Die polisie het glo nie juis in haar storie belanggestel nie, maar ‘n saak is geopen en word nou geondersoek. 

‘n 10 jarige meisie van Newcastle is verkrag en aan ‘n boom gehang nadat sy en haar ma in hulle huis aangeval is.  Die pa was ten tye van die aanval in Taiwan.  Hegendhri Narainsamy is na ‘n kamer geneem en twee keer verkrag deur Siphamandla Nkosi, ‘n oud werknemer van Selvan Narainsamy, die pa.  Sy is gedwing om op ‘n stoel te staan, met ‘n tou om haar nek.  Die ander punt was aan ‘n prieël vas gemaak.  Die stoel is onder haar uitgehaal en sy het verwurg.  Haar ma, Ranjini Narainsamy, is ook verwurg.  Die voorval het in 2008 plaas gevind, maar die Nkozi en Mxolisi Masondo het nou eers in die hooggeregshof in Madadeni verskyn. 

‘n Man is gister na 14 dae lewendig uit die puin in Port-au-Prince gehaal deur die VSA weermag.  Die regering van Haiti het die naweek aangekondig dat die soektog na oorlewendes afgelas is, maar nog ‘n handjie vol mense is gered.  Uninhabited Aerial Vehicle Synthetic Aperture Radar (UAVSAR) gaan ook deur NASA ingespan word om die eiland se verskuiwingslyne te bestudeer.  Dit sal spanne kan help om die moontlikheid van naskokke ens beter te bepaal. 

Mickey Arthur is glo weg omdat hy nie transformasie teikens kon bereik nie.  Beide hy en Graeme Smith het ontken dat die verhouding tussen hulle onherstelbaar versuur het.

Cindy Nell-Roberts is gister uit Survivor gestem.  Juis omdat sy fiks en slim is en dus vir die ander spanlede ‘n bedreiging kon inhou.  Stank vir dank, sy het haar span eers gehelp om die beloningsuitdaging te wen en daarna om ‘n “aërodinamiese” skuiling te ontwerp nadat hulle die vorige aand natgereën het.  Jub Jub, ‘n sanger, het die kamp verlaat weens ‘n infeksie in sy geslagsdele.  Om dit aan jou stam te verduidelik. . . .