Hengel is nie my idee van ‘n aangename tydverdryf nie, maar selfs ek het ‘n visvang storie. My broers en van hulle vriende het die hele Saterdag langs ‘n modderdammetjie gestaan en probeer visvang. Met die klem op probeer, sukses het hulle nie juis gehad nie. Ons het hulle ‘n rukkie gaan geselskap hou. Eintlik net om vir hulle te lag. Die seuns was so 13 / 14 jaar oud en hulle was vasbeslote om grotes uit te trek.
Dit is moeilik om te glo dat daar iets meer vervelig as visvang is, maar net tot jy jouself in ‘n posisie bevind waar jy kyk hoe iemand visvang. Dit is erger. Ek vra toe of ek kan probeer en ek word ‘n stok in die hand gestop. Hy was seker maar te dankbaar dat hy die hengel vir ‘n paar oomblikke gespaar is. Ek doen maar wat hulle doen: gooi uit en katrol in. Gooi uit en katrol in. Gooi uit en skielik is die katrol in nie meer so moeiteloos nie.
Ek het iets aan die lyn! Ek was eintlik oortuig dat dit ‘n stuk rommel is, maar rommel kan nie spartel en probeer ontsnap nie. My broer kyk half vies vir my, hy probeer al ure lank, maar niks. Ek is skaars ‘n minuut met die stok besig en ek het iets gevang. Die iets blyk toe wel om ‘n vis te wees, net mooi pan grote. Ek was glad nie beindruk met die vis nie, ek was glad nie van plan om iets te vang nie. Ek wou net speel. Die vis moes terug. Daarna was die manne eers vasbeslote, maar nie een het ‘n groter vis gevang nie. Ek het nooit weer probeer hengel nie en ek dink hulle ook nie.
Die stories van vissers (en jagters) is wyd bekend. My persoonlike opinie is dat dit uit hulle brandewyn-geweekte-duim gesuig word terwyl hulle lyne natmaak. Hulle moet hulle self op een of ander manier besig hou. Die grote het altyd weggekom om een of ander rede. Gewoonlik omdat daar nie ‘n grote was nie. Almal weet tog dat visvangstories sinoniem is met liegstorie.
Nou stel jou voor jy is iemand wat hengel geniet en jy trek ‘n kabeljou van 82 kg uit. Die vorige rekord vir ‘n kabeljou is 73 kg. Wat maak jy? Wetende dat jy die kans het om jou visvang storie te laat dokumenteer en dat niemand dit ‘n liegstorie kan noem met die wêreldrekord agter jou naam nie.
As jou naam John Crabb, gooi jy die vis terug in die see. Hy het gevoel daar is iets swaars aan sy lyn en hy het gedink dit is ‘n skeurtandhaai. Na 15 minute se spook, het hy die kabeljou van 1.97 uitgetrek. Hy het die vis gemerk en vrygelaat. ‘n Stap wat baie voordelig vir voortbestaan van die spesie is. Dit is reeds ‘n algemeen aanvaarde feit dat daar nie meer baie visse in die see is nie.
Crabb kan nie die rekord houer word nie, omdat die vis nie amptelik geweeg is nie. Dit is ook vrygelaat. Hy is van plan om die vis se besonderhede vir die Oseanografiese Navorsingsentrum by die uShaka-oseanarium in Durban te gee.
Dit is nie enige man wat sy kans op ‘n wêreldrekord sal opgee om ‘n vriendelike hand na die natuur te reik nie. Daarvoor haal ek my hoed vir hom af.
Breinvasbrand: Wat is Suid-Afrika se nasionale vis?
Breinlosbrand: Regstellende verkragting is wanneer ‘n gay vrou verkrag word in ‘n poging om haar van homoseksueliteit te genees.
Wie runnik saam?