Deesdae is dit nogal die inding om verslaaf te wees. Verkieslik nou iets waarvoor daar geen hoop is nie, maar nogtans iets wat nie jou hele lewe sommer kan verwoes nie. Elke tweede meisie is verslaaf aan sjokolade. Adrenalienverslawing is ook baie gewild en dan praat ek nie eers van internet of nuusverslawing nie. Alles maar onskuldige praatjies, net om ‘n sekere liefde groot te praat as ek dit so kan stel.
Tog kom ek meer en meer agter dat daar ‘n lelike verslawing kop uit steek. Mense raak verslaaf aan drama. En ek is glad nie so seker dat dit onskadelik is nie. Vir elke klein gebeurtenis word daar ‘n draaiboek geskryf. Goed of sleg, dit word met elke beskikbare geleendheid op gevoer. Mense moet in die stroom inspring en stroomaf saam swem. Anders moet die draaiboek aangepas word om die nuwe verwikkelinge by te werk. Die draaiboek moet so lank as moontlik uitgerek word, niemand praat tog van ‘n fliek wat net ‘n dag lank gedraai het nie.
So word mense se lewens aansienlik meer interessant ingekleur as wat dit werklik is. Kan ek maar sê dat dit hulle belangrik laat voel? Dit hou die aandag op hulle gevestig en laat mense van hulle kennis neem. Dit laat mense selfs hulle eie lewe vergeet en hulle in ‘n ander se lewe vasgevang word. Alles word in die storie gegooi, dit is eintlik jammer dat dit nie vir een of ander toekenning genomineer kan word nie.
Soos enige verslawing weier die lyers daarvan om te herken dat daar ‘n probleem is. Sonder erkenning is daar geen genesing nie. Genesing is wel nodig, dit kan nogal ‘n giftige kringloop word.
Ek het onlangs ontdek dat ek self nogal melodramaties kan wees. Ek erken dit hier en nou, en wie weet? Dalk leer ek tog om ou koeie in die sloot te gooi en te begrawe. Nie om almal rondom my met dieselfde stront te verveel nie.
Is jy verslaaf aan drama? As jy heeltemaal eerlik moet wees? Watter ander giftige verslawings is daar waarvoor daar geen rehab is nie?
Breinvasbrand: Drama is uit Grieks uit afgelei. Wat beteken dit?
Breinlosbrand: 2.56
Wie runnik saam?