Geboortebeperking

24 01 2010

Almal word deesdae pal met hulle selfone vergesel.  ‘n Selfoon kan deesdae ook alles doen.  Eintlik gee selfone ‘n heel nuwe betekenis aan die woord sakrekenaar – en daarmee bedoel ek nie net ‘n calculator nie.  Party selfone se kameras neem beter foto’s as van die kleiner digitale kameras.  Dit is jou dagboek, dit kan mense roep in nood en hulle toelaat om jou op te spoor.  Daar is selfs sprake om mediese funksies in selfone in te bou.  Ek het vir hulle ‘n idee . . .

Spesiaal vir mense soos Vlam wat vergeet om haar pilletjie te sluk of mense wat nie geweet het dat hulle planne in daardie rigting gehad het nie.  Bou ‘n geboortebeperking in ‘n selfoon in.  En dit moet werk, al word die foon afgeskakel. 

Vandag nog is die grootste afskrikmiddel vir onverskillige seks ‘n baba.  Vir die meeste seksueel oordraagbare siektes is daar ‘n pilletjie wat jy kan sluk.  Vigs sleep jy dalk jou lewe lank saam met jou, maar dit is nie te beperkend nie.  Jy kan nog steeds relatief doen net mooi wat jy wil.  Maar ‘n baba . . . iets wat al jou vrye tyd, al jou geld en al jou geduld gaan opslurp.

Vroeg in die aand kan dit maar subtiel wees.  Net af en toe ‘n sms oor hoeveel babadoeke kos en hoeveel ‘n baba ‘n dag gebruik.  Wat sal ‘n kleuterskool jou ‘n maand ruk en hoeveel kos melk formule.  Interessante feite oor hoe dikwels hulle uit hulle klere groei en hoeveel speelgoed kos.  Hoe lank kan ‘n baba met ‘n sekere speelding gestimuleer word.  Die klem gaan hier meestal op kostes val.

Wanneer die persoon sy begroting vasgemaak het en besluit het dat dit darem nie ontmoontlik is nie, moet die mmse begin kom.  Goed wat wys hoe hulle tyd in die toekoms beperk gaan word.  Goed soos prysuitdelings en sport byeenkomste.  Kinderpartytjies en teletubbies wanneer jy dalk Desperate Housewives wou gekyk het.  Video materiaal van ‘n kind in ‘n volbloed vloermoer en hoe jy gaan moet hardloop hom hulle te red van hulle eie stommerikheid. 

Wanneer die mmse en smse geignoreer word, is dit tyd vir die groot gewere.  Die foon moet dan soos ‘n baba aan die huil gaan.  Niks wat die persoon doen moet die foon stil kry nie.  Of wag, dalk moet die foon vir ‘n sekond of 10 stil wees en dan van vooraf aan die skree gaan. 

As dit nie werk nie, is die paartjie in elk geval reg vir ‘n baba. 

Watter ander afskrikmiddels is daar?

Breinvasbrand:   Volgens die VN, wat is die Totale Vrugbaarheid Verhouding in 2010 – 2015?

Breinlosbrand:  Beenkop was reg met die pad is lank en swaar die mense wag al daar en die koffie is al klaar o laat julle kwassies swaai ,swaai o laat julle kwassies swaai, wieg julle koppies fraai en laat die wiele draai.