Almal wat hou van boeke het ‘n denkbeeldige lysie wat hulle beplan om deur te draf. Vandat ek van “Ek is Anna” gehoor het, het dit op die lysie verskyn. Ek wou dit lees, maar was bereid om baie geduldig daarvoor te wag. Dit sou een of ander tyd op afslag kom en dan kan ek dit opraap. Anders kon ek maar geduldig wag tot dit beskikbaar was in die biblioteek. Stories hardloop mos nie weg nie.
Die Allan Gray advertensie van “The only book your child will ever read” het my nog altyd gefassineer. Ek het dit eendag ‘n skrywe daaroor gedoen en gevra wat is die een boek wat mense bo alle ander sal uitsonder. Iemand het geantwoord “Dis ek, Anna” sodat my kinders kan verstaan hoekom ek is soos ek is. Ek het dieselfde middag nog Ek is Anna gaan koop.
As jy dit nog nie gelees het nie, moet jy ‘n plan maak. Dit is beslis een van daardie boeke wat ‘n mens moet lees. Ek het gehoop dit is nie Elbie Lötter se eerste en enigste poging nie. Wel, op ‘n manier was dit. Die vrou agter die naam het dit wel geniet om saam oor haar eie boek te skinder, maar sy het tog bekend gemaak wie sy eintlik is. En daarmee saam my hoop nie beskaam nie. Haar tweede boek het onder haar eie naam, Anchien Troskie, verskyn.
Ek het sopas die tweede boek, “Nooit is ‘n baie, baie lang tyd” gelees en ek is ‘n beslisde bewonderaar. En nee, Skoor, ek is nog steeds die grootste Dalene Matthee bewonderaar. Ek was mal oor die boek gewees, maar ek verstaan dat ek dalk die uitsondering is. Iemand het al opgemerk kritici “sal dié boek seker nie eers gebruik word om die debatkamer se deur oop te hou nie”. Gelukkig is ek nie ‘n kritici nie en kan ek geniet wat ek wil. Ek dink dit het ‘n paar interessante twists gehad, maar dalk net omdat ek heerlik in my kokon bly.
Tipies, is daar nie veel inligting oor Troskie beskikbaar nie. Sy het op 16 jarige ouderdom begin gil as haar stiefpa by haar kamer ingekom het. Haar ma wou haar nie glo oor wat daar gebeur nie en het haar uitgeskop. In Anna skiet sy haar stiefpa, maar in werklikheid is hy aan natuurlike oorsake dood.
Troskie is ‘n huisvrou. Sy is in 1968 gebore en het in die Vrystaat groot geword. Sy is met ‘n boer in die Oos-Kaap getroud en het twee kinders. As ek reg tussen die lyne lees is sy ‘n tuisteskepper, met ‘n passie vir Scrapbooking, borduurwerk en breiwerk. Saans sit sy in die koudste kamer in haar huis en skryf. Niemand anders wou die kamer gebruik nie. Sy beskryf haarself as iemand met ‘n vuil humeur, maar wat bang is vir slange. Sy is bang vir slange, haat leuens en rou vleis.
Haar grootste vrees is dat sy nie al die stories in haar kop sal kan neerpen nie. Ek dink ons gaan dus nog baie van haar in die toekoms sien. Self, kan ek nie wag nie. En die keer gaan die boek nie op die boekwinkel se rak verjaar nie.
Breinvasbrand: Wie het die Divine Secrets of the Ya-Ya Sisterhood geskryf?
Breinlosbrand: Demoerin was reg met Port-au-Prince.
Bronne: Huisgenoot, Burger; Litnet en NB uitgewers.
Wie runnik saam?