Skole atletiek

20 01 2010

As jy sê jy het nog nooit atletiek gedoen het nie, wil ek amper sê jy jok.  Anders was jy net baie slimmer as ek om dit jou lewe lank te kon vermy.  Almal het tog sekerlik al resies gehardloop, al was dit net met jou ma by die huis waar sy jou laat wen het.  Selfs kleuterskole doen so ‘n klein bietjie naellope vir die kleintjies. 

Om een of ander rede het die skole waar ek was, besluit om soveel as moontlik kinders by die atletiek te betrek.  Hoekom, sal net hulle weet.  Dit kan nie juis maklik wees om 500 – 1000 kinders op een veld besig te hou nie.  Miskien het hulle gedink die bloedrooi kinders steek mooi af by bottelgroen en spierwit.  Hulle beskeie poging om Kersfees te rek.  Goed, ek praat strooi, hulle het darem versoek dat kinders ‘n hoed moet skool toe neem.

As ek reg kan onthou, was kleuresport in die laerskool op ‘n Saterdag gehou.  Op hoërskool was hulle effens slimmer.  Saterdag is ‘n af-dag en kon hulle niemand dwing om by die skool te wees nie.  In die week is dit ‘n heeltemaal ander saak en die koshuiskinders ook heelwat gelukkiger.  Die leerlinge het ook nie juis omgegee nie, dit was twee dae wat jy nie in die klas moes gesit het nie.

Ja, twee dae.  Daar was eers ‘n dag opgeoffer om uitdunne te hou vir die kleurespanne.  Jy het dus die dag saam met jou rooi (groen of blou) span in jou ouderdomsklas deur gebring en van een item tot ‘n volgende beweeg.  Jy het nie ‘n keuse gehad nie, tensy jy dood was, moes jy elke item doen, behalwe die langafstande.  Die bestes van jou span, moes dan aan die kleuresport gaan deelneem het.  Wat so te sê beteken het dat almal een item gehad het om aan deel te neem.  Jy moes dan ook ‘n week lank gaan oefen het, tot die kleuresport.

Kleuresport was ook ‘n heeldagstorie, op ‘n gewone skooldag.  Met die verskil dat jou bas op die pavijoen moes gewees het wanneer jy nie self deelgeneem het nie.  Daar moes gesing en geskree word tot jy gedink het jy het nie meer ‘n keel nie.  Wat is die doel met die gesingery op die paviljoen?  Behalwe dat die onderwysers rus en vrede kon hê omdat almal se stemme weg is?

Na kleuresport, kon die skooljaar met erns weggespring.  Sport was beperk tot smiddae en naweke.  As jy gelukkig genoeg was om met kleuresport uit te val, het niemand hulle juis aan jou gesteur nie.  Tot dit weer interhoër was.  Jy moes geesvang bygewoon het, waterkaskenades en op ‘n weeksaand gaan sing het.  Dit was glo lekker.  Ek sal nie kan sê nie, ek het altyd iets beters gehad om met my aande te doen.

Eerlik – my 10 dae van gedwonge atletiek was nie sleg nie.  Ek het dit nogal geniet.  Ek is wel baie dankbaar dat dit vir altyd iets van die verlede is.

Onthou jy kleure sport?


Aksies

Information

12 responses

20 01 2010
corlivandermerwe

Ooh, ek onthou dit goed. Dit was gewoonlik die blou, groen/geel en rooi span. Die grootste beloning van die dag was om die geesbeker te wen, ek het myself elke jaar hees geskree daarvoor maar om die een of ander rede was ek meestal in die verloorspan.

Atletiek self het ek gedoen maar nie baie goed nie. Ook net die baannommers want `n pokkeltjie soos ek kon wraggies nie hardloop nie.

Jare later het ek besef dat ek dalk tog kan hardloop en ek het begin draf laas jaar. Plaas ek het dit al kleintyd gedoen, op die ou einde is dit toe wraggies net so cool soos die geesbeker!

20 01 2010
Jayde

Jaaaaa – en die dirigente wat op die snaakste maniere aangetrek was en op nog snaakser maniere daar aangekom het. Ek was weer een van daai wat nie genoeg kon kry nie en aan al wat ‘n item is deelgeneem het, het wel meer uitgeblink in die langafstande en hoogspring maar tog alles probeer – die gewig het my ook ‘n paar keer gestoot maar ek kan sê ek het dit gedoen ! Ons was ook kleur spanne. Die kinders nou in die laerskool het arende, uile en valke. Die huissport word ook op ‘n Vrydag gehou.

20 01 2010
ekisanna

Ek was dol oor skole atletiek (en enige ander sport). Ek was nooit ‘n atleet nie en kon nog minder netbal of hokkie speel en die tennisbal kon ek nooit sien nie tot dit my op die mond getref het. Ek was ‘n ONDERSTEUNER. Eers van my vriende en span en toe van my kinders. Ons woon nou naby genoeg aan ‘n skool dat ek die “Grootraas” kan hoor en ek raak nog steeds nostalgies opgewonde by die aanhoor van die geraas.

20 01 2010
Jayde

My ma kan tot vandag toe nie atletiek of enige sport bywoon nie – sy huil so sy kan anyway nie sien nie – sy kry altyd die agterossies so jammer en voel dan weer vir die ou kleintjies wat moet hardloop en so aan.

20 01 2010
Twilight

Ek was net in St 6 dom genoeg om my te laat intrek by kleuresportuitdunne.

In ons geval het dit twee dae beslaan – een dag vir swem en een dag vir atletiek. Nadat ek my naam verskeie kere met ‘n plank geslaan het gedurende daai twee dae, het ek besluit ek het geen sportaanleg nie en ek gaan dit nooit weer doen nie. Ek het derhalwe in die musiekkamers gaan wegkruip elke jaar tydens die uitdunne. Die musiekonderwyseresse was gelukkig niemand groot op sport nie en het ‘n blinde oog gedraai. Net met ‘n glimlag gevra of ons musiek oefen. Mettertyd het die ouens wat die sportlyste saamgestel het my van hulle lyste afgehaal. Seker gedink ek het getrek. Op dieselfde manier het ek ook alle LO, godsdiens en voorligtingsperiodes asook van die meeste registerperiodes ontsnap. Om musiek te neem as vak was regtig die moeite werd.

Ek het wel gewilllig gaan saamsing tydens kleure en skolesport, maar sou nie se ek het dit juis geniet nie. Saterdae het die skoolbusse nie geloop nie en kon ek ONGELUKKIG op geen manier by die skool uitkom van die plaas af nie. Tsk.

20 01 2010
demoerin

Ek was mal oor atletiek! Onthou dit baie goed.

20 01 2010
Pikkie

Lekker ‘slip’ dae gewees….

20 01 2010
Plaasjuppie

Atletiek was net ‘n onnodige ergenis wat afgehandel moes word sodat ons by die rugbyseisoen kon uitkom.
In standerd 9 het ek slim geword en by ‘n padwedloopklub aangesluit. Van toe af het ek verskoning gehad om skoolatletiek ‘n mis te gee

20 01 2010
Girl van die Suburbs

Okay… behalwe dat ek so nou en dan deel geneem het, het ons gewoonlik in die stromwater pyper wat kruis met die apies rivier gaan sit en rook, en as die son sak het die papsak uitgekom. Mis daai skelm-skoenlapper-oppie-maag gevoel van alles wat ons aangevang het.

21 01 2010
Xena Phoenix

Hie Hie

Baie uiteenlopende menings sonder dat een ‘n ander aan die keel wil gryp. 😆 Dink net as ‘n mens dit na filosofiese gesprekke kan oordra.

21 01 2010
beenkop

“As jy sê jy het nog nooit atletiek gedoen het nie, wil ek amper sê jy jok. Anders was jy net baie slimmer as ek om dit jou lewe lank te kon vermy”

“Om een of ander rede het die skole waar ek was, besluit om soveel as moontlik kinders by die atletiek te betrek. Hoekom, sal net hulle weet.”

kyk bietjie na die mense rondom jou nè dan werk jy nou die antwoorde op daai vrae vinnig vir jouself uit… dis nie rocket-science nie

21 01 2010
Xena Phoenix

Bedoel jy nou die gemiddelde gewig van die volk wat jaar na jaar toegeneem?

Ek het nie van skoolsport gehou nie. Die dag wat hulle my wou dwing om n wintersport te kies, toe kies ek rugby. Ek bewys seker jou punt, ek is baie breer as wat ek lank is.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: