Ai tog! Die ellende in Haïti kry net nie einde nie. Meer as ‘n week later, word daar nog steeds mense uit die puin gegrawe. Hulle is geheel en al uitgelewer aan die genade van die wêreld. Daar is geen noemenswaardige strukture oor om te help om orde uit die chaos te skep nie. Mens hoor van 5 jariges wie se handjie geamputeer is – sonder die hulp van ‘n dokter of verdowingsmiddels. ‘n Kind wat gegil het, maar wat dood is voordat sy gered kon word. Mense wat vuisslaan vir kos. Lyke wat ‘n gesondheids gevaar inhou. Daar word gespekuleer dat daar tot 200 000 mense kan dood wees . . .
Alles na ‘n aardbewing wat net 7 sekondes geduur het. 7 sekondes en alles wat mense oor generasies tot stand gebring het, lê alles nou in puin. Miljoene ure se kopkrap, miljoene liters sweet, biljoene dollars. Alles nou net verwoesting. Ironies ook. Die strukture wat die mens geskep het om hom te beskerm teen die elemente, is juis wat die elemente gebruik het om die mens te wys wie is baas.
‘n Les wat ons keer op keer vergeet. Sien, die mens is ‘n magtige bliksem. So magtig dat hy keer op keer vergeet hy is nie almagtig nie. Alles wat hom verhewe maak bo ander spesies, is juis wat hom sink wanneer die aarde weer neem. Die mens neem in oorvloed van die aarde en vergeet gerieflikheidshalwe dat daar terug gegee ook moet word.
Snaaks dat daar ook altyd ‘n tragedie nodig is vir die mens om te onthou dat ons saam in die ding is. Voor die aardbewing kon Haïti maar vergaan het van aarmoede, maar skielik steek almal ‘n hand uit. Met goeie rede ook, dit word gesien as een van die grootste rampe in die geskiedenis. Ek haal my hoed af vir almal wat dadelik alles kon los en gaan hulp verleen het. Mense, soos Gift of the Givers, wat ingespring het en gedoen het wat die hand vind om te doen.
Hopelik kom daar ‘n dag dat die mens sy hand so ywerig gaan uitsteek om nood te verlig, al het dit nie met ‘n tragedie begin nie.
Was jy al in ‘n natuurramp? Wat was die bangste wat die elemente jou al gemaak het?
Breinvasbrand: Wat is die hoofstad van Haïti?
Breinlosbrand: Riaan was reg met is elke persoon se reg om n feit, standpunt, gedagte, mening te huldig of ander daarmee saam stem, al dan nie.
NS: Ek lees nou net dat Haïti getref is met ‘n naskok wat 6.0 op die Richterskaal gelees het. Die skudding het 10 sekondes lank geduur.
Wie runnik saam?