James Bulger was 3 jaar oud toe hy weggeraak het terwyl sy ma inkopies gedoen het. Twee vreemdelinge het hom weggelok en 4 km weg van die sentrum na ‘n verlate spoorlyn geneem. Hulle het blou verf in James se gesig gegooi en hom met stene en ‘n 10 kg ysterstaaf aangerand. Daarna het hulle batterye in sy mondjie ingedruk. Hulle het hom op die spoorlyn neergelê, sy koppie toegepak en gehoop dat ‘n trein oor hom sal ry sodat alles na ‘n verskriklike ongeluk kon lyk. ‘n Trein het wel sy liggaampie in twee gesny.
(On)Gelukkig vir Jon Venables en Robert Thompson was die ontvoering op kringtelevisie vasgevang. Hulle is 20 Februarie 1993, 8 dae later, vir sy moord gearresteer. Hulle verhoor het op 1 November dieselfde jaar begin en hulle is op 24 November 1993 skuldig bevind. Hulle is vir ‘n “baie, baie lang tyd” tronk toe gestuur.
Was hulle daad wreed? Ja.
Verdien hulle om gestraf te word? Beslis!
Verdien hulle wat ‘n geen genade vir ‘n klein seuntjie gehad het genade? Baie mense dink nie so nie.
Jon Venables en Robert Thompson was 10 jaar oud toe hulle James Bulger so wreed vermoor het. Hulle was 11 jaar oud toe hulle gevonnis is. Altwee snotneuskinders, nie iemand wat jy sal verwag om baie verantwoordelik op te tree nie. In alle redelikheid kan daar van hulle verwag word om op ‘n gereelde basis stout te wees. Nie dat moord, veral so ‘n wrede een as stout afgemaak kan word nie.
Die Engelse het destyds koppe geëis en die stelsel het die publiek probeer tevrede hou. Daar was aanvanklik gelas dat Jon Venables en Robert Thompson 8 jaar van hulle vonnis moes uitdien, later 10 jaar en nog later 15 jaar. Steeds was die publiek nie tevrede nie. Mense het gevoel dat hulle nooit weer vrygelaat moet word nie.
Maar . . . Jon Venables en Robert Thompson was net kinders. Kinders wat ‘n gruweldaad begaan het, maar nogtans nog steeds kinders. Wat op dieselfde beskerming as James geregtig was. Ja, ‘n 10 jarige kind behoort te kan onderskei tussen reg en verkeerd. Hulle het geweet wat hulle doen. Het hulle regtig die omvang van hulle “spel” besef? Het hulle regtig besef dat James nie net ‘n speelding is nie, maar ‘n mens?
Hulle is in 2001 vrygelaat (toe hulle 19 was) nadat ‘n paroolraad besluit het dat hulle nie ‘n gevaar vir die gemeenskap sal inhou nie. Indien daar ooit besluit word dat hulle gevaarlik is, kan hulle summier weer toegesluit word. Om hulle veiligheid te beskerm is hulle nuwe identiteite gegee en op geheime plekke gevestig. Natuurlik was James se familie en ondersteuners nie gelukkig met die besluit nie.
Die Europese Hof vir Mense Regte was glad nie gelukkig met die aanvanklike verhoor nie. Hulle het bevind dat die kinders nie ‘n regverdige verhoor gehad het nie. Jon Venables en Robert Thompson is as groot mense verhoor, maar hulle was te jonk om die hof te golf en te verstaan. Almal, tot die eerste minister het ‘n bek vol te sê gehad, dus was vooroordeel ook betrokke.
Vandag, 17 jaar na die moord en 9 jaar na hulle vrylating is mense nog baie emosioneel oor die saak. Daar is mense wat voel dat Jon Venables en Robert Thompson nie genade verdien nie. Dat hulle niks meer is ongenaakbare, gevoelose wreedaards wat plesier put uit ‘n ander se lyding nie.
Mag waar wees, maar dit is ook waar dat geen hoeveelheid vergelding ooit weer vir James gaan terug bring nie.
Dalk moet Jon Venables en Robert Thompson die straf van ‘n gemeenskap dra. Ten minste 38 mense het gesien hulle sleep James teen sy sin saam. Net twee van hulle het navraag gedoen.
Wanneer is ‘n kind werklik aanspreeklik vir sy dade? Kan jeug marteling verskoon? Kan ‘n wrede kind ‘n groot mens word wat sy plek in die gemeenskap kan volstaan? Was daar in Jon Venables en Robert Thompson se geval reg opgetree? Staan die gemeenskap dalk skuldig teenoor hulle? Het hulle nie ook ‘n bietjie simpatie en onderskraging verdien nie?
Breinvasbrand: Hoe oud was George Stinney, die jongste persoon wat in die 20ste eeu in die VSA ter dood veroordeel is, toe hy op 16 Junie 1944 terreggestel is?
Breinlosbrand: Selene was reg met Kings Williamstown.
Wie runnik saam?