Name a rose by any other name . .

14 01 2010

Nee, kyk.  Nou het ek al alles gehoor.  Ek haal vir julle aan uit ‘n brief wat ek in die Beeld teëgekom het. 

Toe die matriekuitslae onlangs in die koerante gepubliseer is, kyk ek so ’n bietjie na die name van al die kinders met tradisionele Afrikaanse vanne.

Dit is opvallend hoe min van ons kinders nog tradisionele Afrikaanse voorname het.

Die meerderheid seuns én meisies het deesdae ’n enkele vreemde naam.

As ons ook enige toeristegids of die Geelbladsye deurblaai, is dit duidelik dat Afrikaanse name in die gasvryheidsbedryf en die handel deesdae baie dun gesaai is.

So ook die name van eiendomsontwikkelings.

Ai! Ons is darem maar te maklik oral uitgeskop.

En daar waar ons volle beheer het – die gee van name aan ons kinders, het ons onsself onder die jis geskop.

En dan kla ons as die ANC-regering plekname verander? Het ons nie maar self gekapituleer nie?

Olivier Henning (Beeld)

Nee, kyk.  Nou het ek alles gehoor.  Ek is nie seker hoe ‘n volksvreemde naam met die naamsveranderinge van die ANC te doen het nie.  ‘n Mens gee jou kind mos net een keer ‘n naam en dit hou meer as 99% van die mense die res van hulle lewe.  As hulle ‘n ernstige probleem daarmee het, verander hulle dit eenkeer, nadat almal wat eenparig onder die naam gelei het (ek bedoel nou die arme Albertusina Johanna) eenstemmig daaroor besluit het.

Die ANC verander die naam wanneer hulle lus het daarvoor, ongeag wat die mense wat betrokke is daarvan dink.  ‘n Paar jaar later, verander hulle dit weer ‘n keer as hulle dit goed dink.  Dit is ook aansienlik duurder om ‘n pleknaam te verander as om jou eie naam te verander.

Ek glo nogal in individualisme.  Word eers jou eie mense waarmee jy gelukkig is, voordat jy jou voet in ‘n groter groep vind.  Ek is dus eers Xena en daarna lid van welke gemeenskap ookal.  Kan die naam wat jy jou kind gee regtig ‘n invloed hê oor sy herkoms?  Lê die bewaring van jou agtergrond nie eerder in hou jy jou taal aanwend, waardering vir die kultuur en die bewaring van die geskiedenis nie? 

Baie mense dink dit gaan oor die naam wat jy saamsleep.  As ‘n ware Afrikaner se naam Gerhardus of Gertruida moet wees, is ek dankiebly dat ek nie ‘n Afrikaner is nie.  Al weet ek aansienlik meer van Suid-Afrika, geskiedenis en taal as menige trotse boere. 

Breinvasbrand:  Na die tot standkoming van die Nuwe Suid-Afrika, na wat het Benny Alexander sy naam verander?

Breinlosbrand:  Vlam was reg met Zambie (Lusaka)





Nuusbrokkies

14 01 2010

Rusland het ‘n nuwe sirkus.  Dirk Prinsloo is gister uit die hof gejaag omdat hy te veel die getuies in die rede geval het.  Hy brom al klaar dat hy nie ‘n regverdige verhoor gaan kry nie.  Hy mag nie weer terug kom tot al die getuienis aangehoor is nie.  Anastasia Gomza, een van sy minnaresse, het getuig hoe hy haar aangerand en met die dood gedreig het.  Prinsloo reken die foto’s wat haar beserings aandui was geneem nadat hy haar met beet gedokter het vir effek.  Truth IS stranger than fiction.

Nog ‘n meisie wat pas matriek geslaag het is dood, die keer na ‘n ongeluk met ‘n taxi.  Yvonne van Deventer het gesterf nadat sy haar verjaarsdag saam met haar ou by ‘n restaurant gevier het.  Dit het minder as 2 km van haar ouerhuis af gebeur.  Die taxi het vermoedelik die vierrigtingstop verontagsaam. 

Waar is die dae wat ‘n sportster by een vrou kon hou?  Jonty Rhodes het agter ‘n nuwe liefde en vir besigheidsbelange Kaap toe getrek.  Kate, sy vrou van 15 jaar, bly in Durban saam met die kinders agter.  Al het Rhodes by sy nuwe liefde in Bloubergstrand ingetrek, is hy en sy vrou net vervreemd en nog nie van plan om te skei nie.

Tussen 30 000 en 100 000 (volgens die radio) is in ‘n aardbewing in Haïti dood.  Dit het 7.0 op die Richterskaal geregistreer.  Gift of the Givers van Suid-Afrika was een van die eerste groepe wat hulp aangebied het. 

Caster Semenya gaan nou onder andere aan die 400 m en die 1500 m in verskeie SA kampioenskappe deelneem.  Die moontlikheid van Internasionale Byeenkomste is nie uitgesluit nie.  Die IAAF ondersoek is nog nie afgehandel nie en niks keer haar om tot tyd en wyl te hardloop nie.

Nog ‘n stukkie geskiedenis is finaal afgesluit.  Miep Gies is in die ouderdom van 100 jaar dood.  Gies het die Frank gesin vir ongeveer 2 jaar versteek en het ook die Anne Frank dagboek van die Nazi’s gered.  Sy het kort voor Kersfees op die trappe van haar huis gegly en haar nek beseer.  Sy het aan die besering gesterf.