Twilight het ‘n bietjie gal gebraak oor die gebrek aan goeie diens in ons land. Ek gaan probeer om die haas onmoontlike te doen, iewers moet ‘n mens besonderse goeie diens kry. Al is dit soms op die plekke waar ‘n mens dit die minste verwag.
Ek het al vrede gemaak met die feit dat ek lyk soos ‘n brandarm persoon wat onder die broodlyn lewe. Ek sal dit erken dat dit my soms goed pas ook. Dit is egter baie frustrerend die dag wat jy wel iets wil koop. Die verkoopsmense maak geen geheim wat hulle van jou finansies dink nie. Hulle druk jou in die goedkoper items se rigting, skimp dat hulle niks vir jou prysklas het nie of ignoreer jou blatant. Alles baie neerhalend asof jy nog boonop dom ook is, met ‘n katvriendelikheid asof hulle jou ‘n groot guns doen. Natuurlik is ek dan ook behoeftig en gaan na ‘n plek waar hulle my die voordeel van die twyfel gee.
Daarom is ‘n mens geneig om te dink wanneer jy regtig by rykmansspeelplekke, of eerder koopplekke kom, dat hulle jou ook teen die neus af behandeling gaan gee. En, ironies genoeg, is dit ook dikwels waar ek die vriendelikste personeel raakloop.
Van kuns weet ek nie veel nie. Kanse dat ek ooit R30 000 of meer vir ‘n geverfde doek sal betaal is maar skraal. Selfs al sou ek dit kan bekostig, is die kanse maar skraal dat ek dit sal waardeer. So het ek eendag ‘n paar ure gehad om te verwyl in Brooklyn en is toe by winkels in wat ek selde probeer vasstel het waar die deur is. Niemand probeer jou so vinnig as moontlik by die deur uitkry nie. Waar ek nou regtig verbaas was, was by Chris Tugwell Gallerye. Die verkoopsdame het baie vriendelik gegroet toe ons inloop, ons genooi om rond te kyk en ons herinner dat sy daar is as ons haar nodig kry. Nie iets aan ons probeer afsmeer nie, maar tog vriendelik en professioneel.
Ek is nie ‘n wynliefhebber nie, van landgoede en versnitsels weet ek nie veel nie. In die Kaap, maak jy soos al die ander toeriste en gaan proe wyn. Ons het eintlik Stellenbosch toe gemik, maar soos ons verby Groot Constantia ry, besluit ons dat dit seker net so goeie plek is om wyn te proe as enige ander. Spyt was ons beslis nie. Die oudste wynplaas in SA verwelkom alle besoekers gul. Die personeel trek nie hulle neuse op nie en maak die ervaring een wat jy beslis in die toekoms wil herhaal.
My laaste voorbeeld van die dag is die Diamant Winkel in die Cullinanmyn. Kyk, daar is vir jou geslypte diamante wat jou laat wens jy kan met diamante smokkel. Hulle weet die meerderheid van die mense is daar om te bewonder, hoeveel Suid-Afrikaners loop regtig met duisende dollars (jip, dollars, nie rande nie) in hulle gatsakke rond. Tog bedien hulle almal asof jy enige oomblik al hulle diamante gaan aankoop.
Kan meer van die tipe mense nie maar in die gewone kettingwinkels werk nie? Of die werkers in die kettingwinkels net ‘n paar lesse gee nie.
Watter plekke se diens staan vir jou uit? Wat was die beste diens wat jy in jou lewe gehad het. Wat sal gebeur as alle verbruikers hulle geld vasklou tot hulle soos miljoenêrs behandel word?
Breinvasbrand: Waar was Shoprite se eerste winkel buite SA geopen?
Breinlosbrand: Ons het altyd gesing: graad 1, parrabeen. Graad twee, koppie tee. Maar ek het BB se rympie baie geniet.
Wie runnik saam?