Grootskool toe

12 01 2010

Een manier om jou lewe te meet is met die aantal mylpale wat jy behaal het.  Hoeveel daar nog oor is en dalk ook met hoeveel jy nog moet byvoeg.  Jou heel eerste mylpaal was natuurlik daardie eerste skree wat jy laat wys het dat jy gearriveer het.  Die meerderheid van ons kan dit waarskynlik nie onthou nie.  Ook nie hoe daardie eerste waggeltreetjie verloop het nie of wat ons eerste woord was nie.  Ons moet maar aanvaar wat aan ons vertel word.

Die eerste groot mylpaal waaraan ons min of meer iets kan onthou is die dag wat ons grootskool toe is.  Kyk, kleuterskole is vir babatjies.  ‘n Grootseun/dogter raak mos nie slim in die kleuterskool nie.  Juffrou lees stories en al die maatjies teken en speel.  Wanneer jy klaar is met die dinge van ‘n baba, moet jy mos gróótskool toe.  Jy moet gaan leer lees, skryf, spel en somme doen.  Tannies moet juffrouens word en daar is groot kinders en menere en alles.

Dit was ongeveer twee dekades gelede wat ek in die groot saal (watter kleuterskool het ‘n saal?) aan my Juffrou voorgestel was.  Haar heel eerste vraag aan my was wat is jou naam?  Ek was nog besig om haar te vertel toe my pa my mond toedruk en haar my grootnaam vertel het.  In die grootskool moet ‘n mens mos jou regte naam gebruik.  Ons het elkeen beertjies met ons name opgekry.  (En 20 jaar later bes.ef ek wat aangegaan het  Dit was nie net in die hoërskool en varsity dat ‘n mens met verbrande naambordjies moes loop nie.  In die laerskool was dit aan ons opgedring en ons was naïef genoeg om dit met trots te dra.) 

Tye het verander, maar die groot ophef van jou eerste dag in graad 1 het gebly.  Pappas en Mammas bly ‘n oggend by die werk weg om seker te maak die nuwe graad een parabeentjie vind sy / haar voetjies stewig.  Daar is nog haasbekkies, bokstertjies en kaalvoete.  ‘n Juffrou uit wie die son skyn en ou bekende gesigte met ‘n hier en daar ‘n nuwe maatjie.  Die tasse wat amper groter as die aspatatte wat dit wil dra. 

Wat hulle deesdae in graad 1 doen, weet ek nie.  Klank het saam met tafels op die ashoop geland.  Vandag lees ek dat daar 1998 1.4 miljoen graad eens was.  12 jaar later het daar net 334 718 leerlinge matriek geslaag.  Minder as ‘n derde.  Die amper 40% wat gedruip het, het nie almal in 1998 skool begin nie.  Wat het van meer as 2 derdes van die oorspronklike haasbekkies geword?

Onthou jy jou eerste dag?  Onthou jy die seun/dogter langs wie jy moes sit?  Ek het nog nooit ‘n gr een kind ingeskryf nie, maar as jy dit al gedoen het, vertel ons hoe dit gevoel het?  Sal jy vandag ‘n dag lank in gr 1 uithou?

Breinvasbrand:  Graad een, parabeen.  Graad twee, . . . .?

Breinlosbrand:  Alexander McDonald





Nuusbrokkies

12 01 2010

Dirk Prinsloo se verhoor in Belo-Rusland het begin.  Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer, roof en wanordelike gedrag.  Prinsloo is geboei onder swaar polisie bewaking hof toe geneem en moes in ‘n staalhok die verrigtinge bywoon.  Hy het weer gesorg vir drama deur daarop aan te dring dat sy gehoor agter geslote deure moet geskiet en dat hy ‘n ander tolk moet kry.  Altwee die versoeke is van die hand gewys. 

Karl Schaefer (3) is vermoedelik deur ‘n kobra gepik in Kelso, Durban.  Hy het met sy fietsie gery en vermoedelik naby die slang geval.  Hy was ‘n teengif toegedien, maar sy been was al blou toe hy by die hospitaal gekom het.  Volgens sy pa gaan dit goed met hom.  Soveel daarvoor dat kinders nie deur slange gepik word nie en dat slange goeie baba wagters is. 

Kitty Botha (83) van Lyttelton Centurion was Vrydagnag in haar huis aangeval en vermoor.  Die inbrekers het huis geplunder, die wapenkluis onsuksesvol probeer oop forseer en haar huis aan die brand gesteek.  Haar worshond, Moomoo, het in die sitkamer weggekruip waar hy versmoor het. 

In Koster moes ‘n gesin gaan kerse koop het sodat die hospitaal hulle seun se arm kon toewerk.  Daar was fout met die elektrisiteittoevoer na die hospitaal en die hospitaal se kragopwekkers werk glo nie.  Dit alles op die woord van ‘n vrou wat langs die hospitaal bly.  Is dit verantwoordelike joernalistiek?

En soort van goeie nuus om mee af te sluit.  Die onderwysvakbonde het aangedui dat hulle nie onderwysers sal verteenwoordig wat hulle aan onprofessionele gedrag skuldig maak nie.  Vakbonde is ook bekommerd dat 334 718 leerlinge matriek geslaag het van die 1.4 miljoen graad 1’s van 12 jaar gelede.