Vee dit dood

11 01 2010

Vee dit dood is een van Tannie Dalene se gesegdes.  Saul het vir Kate ‘n verklaring daarvoor gegee in Kringe.  Deur iets dood te vee, vergeet jy die onreg, skandes en sondes van die verlede.  Jy vergewe en vergeet dit volkome.  Wanneer dit dood gevee is, bestaan dit doodeenvoudig nie meer nie.

Vanaand kyk ek toe na Momma’s Boys.  Tot my verdediging, daar was nie veel anders op televisie nie en ek moet darem waarde kry vir die lisensie wat ek betaal.  Die een seuntjie is dol verlief op ‘n vrou, een wat sy ma goedkeur, maar dan bars die bom.  Sy is die Pet van die Jaar vir Penthouse.  Wat dit ookal beteken.  Skielik was die mannetjie nie meer so verlief nie.  Haar verlede het tussen hulle kom staan en sou waarskynlik nooit dood gevee kon word nie. 

Daar is min mense wat ‘n silwerskoon verlede het.  Maar ongelukkig is alle sondes nie ewe groot in die mensdom se oë nie.  Wie sal nou daarvan hou as miljoene mense se vuil gedagtes; wat nie veel verbeelding nodig gehad het nie; rondom die ma (of pa) van jou kinders moet draai nie.  Almal kan seker nie met maagde trou nie, maar dit is ‘n ander saak as jou maat sy/haar lewe met seks verdien het.  Wat daarvan as hulle dalk hulle lewe in ‘n ontkleeklub gemaak het? 

Vir die bogenoemde dinge is daar seker die verskoning dat nood mense desperaat maak.  Daar is egter diegene wat met gevaarlike kalante gespeel het.  Soos diegene wat hulle aan dwelms vergryp het.  Dit is ‘n gevaar wat altyd weer kan kop uitsteek.  Iemand wat al aangekla was oor verkragting of kindermolestering?  Iemand wat ou mense se pensioen gesteel het.  Iemand wat sy vrou slaan of diere met vuurwerke seergemaak het.  Ensovoorts. 

Vandag wil ek weet of iemand se verlede vandag nog saak maak?  Sal jy  jou toekomstige eggenoot se verlede ten volle kan doodvee.  Kan iemand werklik verander ten goede of gaan hulle altyd op een of ander tyd terugval na hulle wortels.  Is dit regverdig om iemand se verlede teen hulle te hou?  Wat sal jy nooit kan doodvee nie?

Breinvasbrand:  Wat was Kate se pa se naam in Kringe in ‘n bos?  (Naam en van.)

Breinlosbrand:   Jayde was reg met ‘n centre of healing waar daar onder meer navorsing gedoen word op plante vir tradisionele genesers





Nuusbrokkies

11 01 2010

Dit is seker weer tyd om die drukpers in werking te stel. 

Lyk my die Bulle word te veel betaal.  Pedrie Wannenburg het erken dat hy kokaïen, Ecstasy en drank in oormaat gebruik het.  Hy reken dat dit net gebeur het wanneer hy gedrink het, nadat drank alleen dit nie meer vir hom gedoen het nie.  Iemand het ‘n video daarvan gemaak en vir die Blou Bul Rugby Unie gestuur.  Wannenburg was gewaarsku om homself reg te ruk of te skoert.  Hy het die eersgenoemde gekies.

Lolly Jackson is weer in die sop nadat hy gearresteer is op ‘n spoed aanklag.  Hy het 122 km/h in ‘n 80 zone gery (‘n mens kan gearresteer word as jy snelheid met meer as 40 km/h oortree).  Jackson was vroeër deur ‘n motorfiets verby gesteek toe die motorfietsryer beheer verloor het en ‘n ongeluk gemaak het.  Jackson het hom bygestaan en was juis oppad na die hospitaal om hom te besoek toe hy aangekeer was. 

’n Jabiru 400 het gister in Amanzimtoti op die strand ‘n noodlanding gedoen nadat skroef aan sy neus losgekom het.  Daar was ongeveer ‘n 100 mense op die strand wat die vliegtuig net-net gemis het.  Die gesin van 4 in die vliegtuig het nie ernstige beserings op gedoen nie.  Burgerlugvaart ondersoek die voorval, maar die losskroef is ‘n aanduiding van swak vakmanskap of swak instandhouding.

ENB is vol verskonings en verduidelikings oor hulle Swart Bemagtigings Beleid, maar dit kom eintlik net neer op die volgende:  ENB gaan net vir swart behoeftige laerskoolkinders beurse gee.  Hulle voer aan dat hulle BBBEE moet toepas en sodoende maak hulle seker dat dit wel by die armer swart bevolking uitkom.  ENB se ander beurse is beskikbaar vir enige verdienstelike en behoeftige geval.  Mense wat die stap veroordeel het glo nie al die feite nie.

Ten slotte:  ‘n Nadoodse ondersoek sal bevestig of Masego Kgomo (10) se lyk gevind is.  Sy het Oujaar in Soshanguve vermis geword.