Kommunikasie

7 01 2010

And the only way to stay in touch was a letter in the mail

Sandi Thom

Ek is nou nie so oud soos Sandi Thom nie, maar jonk soos ek is onthou ek ‘n tyd wat mense twee maniere gehad het om iemand te kontak.  Jy kon ‘n brief geskryf het of jy kon gebel het.   As jy nou regtig snobisties wou wees, kon jy ‘n faks stuur.  Ek was al op universiteit gewees toe smse in Suid-Afrika bekendgestel was.  Ek dink ‘n SMS het 33c in buite spitstyd gekos en 79c in spitstyd.   As ek reg onthou, bygesê.  Vodacom het maandliks hulle kliente 15 gratis smse gegee.  Ironies genoeg was die 15 genoeg vir die hele maand.  Waar is die dae?

Epos was daardie tyd nog nie algemeen vir elke Jan Rap en sy maat nie.  Ek het eers in my tweede jaar ‘n epos adres gekry, wat ek ook nie juis gebruik het nie.  Ek het eers ‘n paar jaar later by Facebook aangesluit.  Mxit en ‘n paar ander chatsites het gevolg.  Facebook en Epos het al hoe belangriker geword.  Jy kon almal op een slag laat weet wat in jou lewe aangaan.  Nog later het ek deel geword van die blog gemeenskap.  Eers net kommentaar gelewer, maar jare my eie hoekies in die www geskep.  Amper vergeet ek van Skype.   

En hier is ons vandag, waar ek amper wil vra wat is ‘n faks.  15 smse sien my nie eers deur ‘n dag nie, wat nog van ‘n maand.  Dankie tog vir sms bondels.  (Terloops, hoekom kos ‘n sms meer in spitstyd as na ure en heelwat minder as jy ‘n bondel het.  Moet internasionale smse regtig aansienlik duurder om aan te stuur?)  Ek is omtrent uurliks op my blogs of facebook. Enige iemand kan my binne sekondes in die hande kry as hulle my dringend soek. Ja, ek het baie vriende met die nuwe tegnologie gemaak.  Daar is byvoorbeeld die een man waarmee ek al 4 jaar op mxit gesels.  Ek dink dit is haas onmoontlik om werklik met iemand vandag nog kontak te verloor.

Ongelooflik dat daar vandag nog mense, in Suid-Afrika met toegang tot al die tegnologie, is wat nogsteeds glo dat ‘n mens net ‘n brief kan skryf, kan bel en kan faks.  Hulle stel nie eers belang om te probeer nie.  Daar is groepe wat redeneer dat al die moderne kommunikasie tweedegraads is.  Hulle het dalk ‘n punt beet, ‘n mens kan nie altyd die emosie vastel van die persoon met wie jy gesels nie.  Dit lei soms na ernstige misverstande, maar gelukkig kan die meer volwasse persone daaroor lag.  Daar is ook mens wat glo dat die kwaliteit van kommunikasie afgeneem het soos die kwantiteit toegeneem het.  Weereens kan dit waar wees, maar ek dink nog steeds dat al die nuwe vorme van kommunikasie vooruitgang was.  Baie waardevol ook en nie iets wat minag kan word nie.

Wat is jou gunsteling tipe van kommunikasie?  Hoe voel jy oor al die moderne vorms van kommunikasie? 

Breinvasbrand:  Wie word beskou as die vader van SMS’e?

Breinlosbrand:  Nell was reg met Josephine Cochran.