Ek het ‘n teorie. ‘n Paar jaar terug was daar ‘n bevolkings ontploffing onder die ooievare. In plaas daarvan dat van hulle ander beroepe oorweeg het of sommer net ‘n gelewe het op ‘n toelaag van die staat, het almal in hulle ouers se voetspore gevolg. Hulle lewe babas af. Nuwe besems vee skoon en hulle is geen uitsondering nie. Hulle lewer babas af asof dit uit die mode gaan.
Almal wat ek ken is swanger. Wel, dalk nou nie almal nie, maar ‘n spul van my vriende en kennisse wag vir die ooievaar: en nie om hom / haar dood te gooi nie. Dit beteken dat ek weer myself moet gaan verveel op ‘n paar ooievaarstees, die helfte van my begroting aan geskenke moet bestee en aan gelukwense moet dink wat nie bekotsingswaardig is nie. Ek is skoon uitgeput sonder dat ek ooit vir die bloedjie my slaap hoef op te offer.
Die ou mense het gesê babas kom soos groot maagwerk. Jy kan dit nie altyd keer, beplan of bestel nie. Een van die aarde se groot hartseers is dat babas nie altyd met ope arms verwelkom word nie. Hulle is bloot net nie altyd geleë nie. Dit is nie asof hulle eers vir toestemming vra nie.
Ek dink byvoorbeeld nou aan ma’s wat nog op die skoolbanke sit of sukkel om ‘n graad te behaal. Hulle moet in die eerste plek iets doen om vir hulle self ‘n toekoms te verseker. Hulle doen ‘n baba geen guns om hulleself van alle verder verbetteringe te ontneem nie. Daarom kan ek nie ‘n kind kwalik neem wat haar baba laat aanneem of selfs laat aborteer nie. Mits sy darem onthou dat nie eers ‘n donkie twee keer hulle kop teen dieselfde klip stamp nie.
Anders as jong werkendes wat oor die tou trap. Hulle kan ‘n plan maak, selfs al gaan dit broekskeur. Dit is nogal ‘n probleem as jy nie weet of wil weet wie die pa is nie. Gedane sake het seker geen keer nie. Selfs vir jong getroudes kan die nuwe lid van die gesin ‘n groot kopseer wees. Getroud beteken nie noodwendig gevestig nie. Dit kan ook die nuwe ma se loopbaan lelik omver gooi. Gelukkig verdamp die o-donner gevoel gou en word daar met groot entoesiasme na Mnr of Juf Pienkvoet se koms uitgesien.
‘n Mens kry ook daardie mense wat nie weet wanneer genoeg genoeg is nie. Ek sweer daar is nog mense wat glo hulle rykdom sit in die hoeveelheid kinders wat hulle het. Droe pap is ook kos en opvoeding is seker overrated. Hulle moet jaar vir jaar ‘n bondeltjie vreugde in die lewe bring. Hulle het soveel vreugde, hulle kan dit bottel en verkoop. En hopelik daarmee genoeg geld kry om al die honger mondjies te voer. Wat is die storie met die oumas en oumagrootjies wat hulle eie kinders soek? Het die aarde nie genoeg weeskinders nie?
Babas is ‘n seën, maar een wat ‘n mens verantwoordelik moet ontvang. Jou begeerte is nie wat voorkeur moet geniet nie, maar wel die mens wat jy willens en wetens in die lewe wil bring. Ek wonder soms of mense nie met kriminele vervolging tot verantwoording geroep moet word nie.
Hoe voel jy oor babas? Wat sal jy doen as jy nou ‘n ouer moet word? Hoeveel is genoeg?
Breinvasbrand: Wie word beskou as die jongste ma nog, wat in 1939 op ouderdom 5 aan ‘n seun van 2.7 kg mbv van ‘n keisersnee in die lewe gebring het?
Breinlosbrand: Demoerin was reg met Michael Collins.
Wie runnik saam?