Met die maan gepla

4 01 2010

Ek het ‘n aantal vriendinne wat met die maan gepla is.  Hulle kan skoon liries raak oor wanneer dit volmaan is en kan ure lank na die maan staar.  Ek was nooit juis met die maan beindruk nie, veral nie met volmaan nie.  Die maan is vir my net ‘n klip in die lug, ‘n noodsaaklike klip, maar so is baie ander goed.  Ek raak ook nie juis liries oor die lug wat ek inasem nie.

In 2008 het dinge effens verander.  Die maan het met 2 planete ‘n gesiggie gevorm wat nie elke dag gesien word nie.  Besonders genoeg om ‘n foto daarvan te neem.  Soos gewoonlik het ek gemik, gefokus en gedruk, maar ek kon nie die gesiggie afneem nie.  Die foto het gesmeer, ek kon die kamera nie stil genoeg hou nie.  ‘n Paar weke later het ek die maan probeer afneem, met dieselfde effek.  Ek kon nie die hemelliggame afneem nie.

Kannie is dood van kruiwa stoot.  Die maan sou ek afneem, met my huidige kamera of ek sou sterf terwyl ek probeer.  Ek het hier en daar goeie raad gekry, soos dat ek onder andere van Oom Teddiebeer dat ek in ‘n tripod sou moes belê.  Dit het die smeer van die foto’s gekeer, maar dit het my net ‘n wit bal in die lug gegee.  Wat help ‘n foto van die maan as ‘n mens nie die skaduwees van die maan daarop kon sien nie?  Heeltemaal niks nie.

Dit het beteken dat ek met elke geleendheid wat ek gekry het weer probeer het.  Selfs in die bibberkoue en die onbeskofde Suidooster.  Die maan moes oorwin word.  Nie dat ek skielik besonders lief geraak het vir die maan nie, eerder van hardkoppigheid omdat ek wil besluit wat ek kan en nie kan afneem nie.  Ek het in my boekie nageslaan en selfs op die net gaan raadsoek.

Toe kom die wat die foto’s wel die skaduwees wys.  Meer as 10 maande nadat die obsessie by my nesgeskop het, was daar lig aan die einde van die tonnel.  Dit was net nie ‘n volmaan nie.  Tog was die drif nie meer daar om elke slag wanneer ek die maan sien my kamera uit te pluk nie.  Ek het wel nog ‘n volmaan foto gekort.   En waar kry jy ‘n beter volmaan as ‘n blue moon.

Met ‘n gedeeltelike verduistering as kersie op die maan as ‘n bonus.

Wel, dalk nie ‘n perfekte foto nie, maar darem herkenbaar die aarde se enigste sateliet.

Ek kort ‘n nuwe uitdaging.  Enige voorstelle?

Breinvasbrand:  Wie het in die skip agtergebly terwyl Neil Armstrong en Buzz Aldrin die eerste mense geword het wat op die maan gewandel het. 

Breinlosbrand:  Boycott het die 3F’s veldtog in 1880 in Ierland geondermyn het, het die gemeenskap hom geisoleer en geignoreer.  Hy was as ‘n ware geboikot.