‘n Paar jaar terug was daar rondom Paasfees ‘n advertensie gewees wat ‘n paar mense laat stik het. Dadelik was daar ‘n epos wat alles in die fynste besonderhede verduidelik het. Nando’s het ‘n nuwe veldtog wat verkondig dat “Jesus has had his chips.” Mense het dadelik Nando’s begin boikot, ongelukkig sonder om eers hulleself van die feite te vergewis. Nando’s het dadelik die boikot gevoel en die media gebruik om te verduidelik dat hulle nie omgee om die grense te toets nie, maar ook dat hulle nooit met iemand se geloof sou spot dryf nie. ‘n Casino was klaarblyklik die skuldige in die geval, maar met die hele bohaai kon hulle vinnig regmaak wat hulle verbrou het sonder om dit te veel te voel.
Onlangs was daar op Facebook ‘n groep geopen wat smeek dat Nestle geboikot moes word. Nestle het na bewering besigheid gedoen met suiwelplase wat van boere in Zimbabwe onteien was. Nestle is soos ek verstaan ‘n Switserse maatskappy. Die groep het nie jare nodig gehad om ‘n effek te hê nie. Nestle het (soos ek van die Beeld verstaan) gou-gou ook besluit dat die Zimveterane nie die biokot werd is nie.
‘n Paar weke terug was daar ‘n berig in die Beeld wat vertel hoe ENB beurse aan laerskoolkinders bied wie se ouers minder as ‘n R100 000 ‘n jaar verdien. Die toegewing was net vir swart kinders beskikbaar. Weereens was daar ‘n beroep op mense om hulle banksake in heroorweging te bring. Talle het gedreig om hulle rekeninge te sluit en ‘n paar het inderdaad tot die stap oorgegaan. Optrede genoeg vir ENB om die beleid te hersien. Hulle het belowe dat hulle die blanke kinders sal help, mits dit nie hulle BBBEE telling sal benadeel nie.
Drie voorbeelde waaraan ek so vinnig kan dink. Ek het al van te vore gekerm dat daar nie juis veel krag in petisies skuil nie. Boikot vereis meer as net jou handtekening op ‘n stuk papier. ‘n Wilsbesluit wat beteken dat jy besluit om iemand in die beursie vastevat. En soos ek die storie vanuit my boom beskou, lyk dit of dit werk.
Skielik maak dit sin dat soveel plekke jou in ‘n 2/3 jaar lange kontrak wil vasbind voordat hulle jou besigheid aanvaar. Dit is maklik om te boikot as dit nie administrasie van jou neem nie. Die storie verander aansienlik wanneer jy jouself uit die kontrak moet koop. Teen die tyd wat jy los is, het jy al vergeet wat jou grief was.
Het jy al ooit aan ‘n boikot deelgeneem? Sou jy graag ‘n groep wil boikot? Het jy vertroue aan ‘n boikot aksie?
Breinvasbrand: Die woord boikot is geleen van Charles Boycott. Waarvoor was hy (die regering) geboikot?
Breinlosbrand: Pous Gregory XIII
Wie runnik saam?