Dierlike skande

31 01 2010

Ek was eendag by die dokter gewees.  Die besoek is deur die medies gedek, maar ek moes die medisyne uit my sak uit betaal het.  Ek het daardie dag onder andere antibiotika gekry.  Ek was natuurlik nie baie gelukkig met die wending gewees nie en het almal wat wou hoor vertel wat ek daarvan dink.  Tot my ma my vertel dat haar kat veearts toe moes gaan.  Sy antibiotika was dubbel die prys van my antibiotika.

Met een drastiese verskil.  Ek kon my voorskrif na ‘n apteek geneem het wat die medisyne van die medies sou eis.  Die kat het nie medies gehad nie.  Ek kon na ‘n staatshospitaal toe gegaan het en daar omtrent kosteloos behandel geword het.  Die kat kon veearts toe of siek bly.  Teen die veearts se prys.  Was daar doodeenvoudig nie geld vir die medisyne nie, was dit maar daarnatoe.  Dit is maar net ‘n kat.  Of ‘n hond, of ‘n bees, of ‘n skaap . . .  Dan word ek vertel dat mense wat lief is vir diere veeartse word.

Gaan loop ‘n mens deur enige minder-gegoede buurt, tref die oormaat diere jou altyd soos ‘n vuis tussen die oë.  Mens skud maar jou kop en wonder hoe die mense diere durf aanhou as hulle hulleself nie eers kan voer nie.  Dit is verseker vir die meerderheid gevalle wel ‘n geval van hulle gee net nie om nie.  Maar as ons nou regverdig wees, moet ons erken dat daar wel die enkeles is wat vir hulle vierpotige vriende lewe.  Wat eers hulle troeteldiere sal voer en dan, as daar iets oorbly, self sal eet.

Natuurlik het hulle nie geld vir die luukse vir ‘n veearts nie.  Natuurlik sal hulle diere aanteel teen ‘n skrikwekkende tempo.  Veeartse vra kontant en kontant is die een ding wat hulle nie het nie.  As die wollerige maatjie siek raak, is gebed die enigse uitweg.  Niemand kan van die veearts verwag om verniet te werk nie.  Selfs die DBV is glad nie skaam om hulle pond vleis te eis nie. 

Die probleem is nie net beperk tot die laer ekonomiese klasse nie.  Die gemiddelde gesin met uitgawes soos behuising, skoolfonds, elektrisiteit, kos, klere, motors ens het, het ook nie altyd die kontant vir ‘n onvoorsiene probleempie met die hond of kat nie.  Dit is hartseer, die is nie regverdig nie, maar dit is die realiteit.  Een wat die weerloses moet betaal. 

Ek wil graag weet of die tariewe van veeartse billik is.  Goed en wel, hulle moet ook ‘n bestaan kan maak.  Hulle het hard geswot om te kom waar hulle is.  Maar, is daar nut aan hulle as mense hulle nie kan bekostig nie?  Is daar iewers ‘n middeweg waarvan ek nie bewus is nie? 

Gestel nou daar is ‘n week elke jaar waarin diere gratis gesteriliseer kan word, sal die gevalle van dieremishandeling en -verwaarlosing nie aansienlik minder wees nie?





Sondae Aande

31 01 2010

Verskeie mense het al genoem dat Sondag aand nie heeltemaal hulle gunsteling tyd van die week is nie.  Dit is gewoonlik die tyd wat hulle na mense verlang wat hulle nie eers ken nie.  ‘n Blou aand, een wat hulle sou betaal om te vermy.

Ek het nie juis sterk gevoelens teenoor ‘n Sondagaand nie.  In my oë is Sondagaand familietyd.  Dit is een van die min tye wat jy verseker kan wees dat almal by die huis gaan wees, sonder veel om te doen.  Niemand sit vrywillig Sondagaand by die werk nie.  Kinders se sosiale lewens word ook op ‘n Sondagaand geonderbreek.  Dit is die een tyd wat ‘n mens ook nie sommer afsprake maak nie.

Toe ons klein was, was Sondagaande die tyd wat ons vensterkopies gaan doen het.  Siende dat ons op ‘n klein dorp gewoon het, het dit beteken dat ons voor elke moontlike winkelvenster gaan bestudeer het.  Ons het ook gaan vergewis oor watter karre daar op die oomblik op die mark was.  Dit was die tyd om so lank jou Kersgeskenk uit te soek en daarvoor te begin skimp en onderhandel.  Natuurlik het ons nie verniet geloop nie.  Snork!  Onthou, ons moes deur die HELE dorp loop.  Die beloning was gewoonlik ‘n draai roomys gewees. 

Noudat ek groot is, verskil die Sondagaand prentjie.  Ek vir een gaan nie op ‘n Sondagoggend vroeg opstaan vir kerk as ek ewe goed die aand ‘n diens kan bywoon nie.  Dus begin my Sondagaand “tradisie” in die kerk.  Na kerk beloon ek myself met ‘n ietsie uit Beker en Boontjie uit.  Beloon is seker nie die regte woord om te gebruik nie.  In elk geval, daarna sal ek kyk of ek die week wil gaan fliek en ‘n bietjie gaan rondkrap in die boekwinkel en CD winkels.  Daarna gaan ek huis toe waar ek gewoonlik ‘n fliek sal kyk en vroeg inkruip.  Sondae is die een aand in die week wat ek nie sommer middernag sien nie.

Hoe spandeer jy jou Sondae aande?  Polse afkou tel nie. 

Breinvasbrand:  Wat is die naam van die U2 lied wat handel oor die gebeure van 30 Januarie 1972?

Breinlosbrand:  Griffel was reg met Saab. 

En ‘n video wat met niks in die skrywe verband hou nie. 





Oplossing 018

31 01 2010

Algemene Kennis (1)

  1. Johan le Roux (Nell/Maxie)
  2. 1995 (Nell/Maxie)
  3. Ethiopian Airlines (Nell/Maxie)
  4. Sandra Laing (Nell/Maxie)
  5. BarOne (Nell/Maxie)

Uilspieel  (2)

  1. Charlene Smith het nie ‘n anti-verkragtings toestel ontwikkel nie. (Nell/Maxie)
  2. Martina Navratilova was nie betrokke by die 1973 battle of the sexes tennis toernooi nie. (Nell/Maxie)
  3. Kool groei nie ondergronds nie (Nell)
  4. Sense and Sensibility; First impressions was die oorspronklike naam van Pride and Prejudice (Maxie)
  5. Chardonnay is ‘n wit wyn (Nell/Maxie)

Liedjiepret (2; bonus 1)

  1. Stong enough – Cher (Maxie)
  2. Meet me halfway – Black Eyed Peas (Nell/Maxie)
  3. No Matter – Jack Radics (Xena)

Bonus:  Nell:  Stronger – Mary J Blige / Britney Spears / Kerry Hilson / Christina Aguilera / Jordyn Taylor; Clever – Erykah Badu;  Frustration – La Toya Jackson / Moffatts; My frustration – Coal Chamber; Strong Enough – Stacie Orrico / Kina Grannis; Not strong enough – The Undecided / Blackhawk;  Lift the Lid – Nazareth; Enjoy – Bjork / Janet Jackson;  Battle – Colbie Caillat / Missy Higgins;  The Art – Rachael Lampa / Levellers / Taproot;  Doesn’t Matter – Alicia Keys / Janet Jackson / Akon / Jeff Bernat; Favour – Keri Hilson / Rocco Deluca & The Burden

Maxie:  Don’t matter – Akon; Always – Atlantic Star; Strong – Robbie Williams; Strong – Jordan taylor; Meet me halfway – Moody Blues; Strong enough -Sheryl Crow; Strong enough – Stacie Orrico; Strong enough – Ryan Tedder; Struggle – Ashanti; The struggle – 30 seconds to mars; fireplace – REM; Fireplace – Jenny Lewis and the Watson twins; Always – Bon Jovi; Always – Erasure; Frustration – Soft Cell; Frustration – La Toya Jackson; Open – Demi Lovato; Ask – The Smiths; It doesn’t matter – Brandy; It doesn’t matter – Depeche Mode; It doesn’t matter – Wyclef Jean; Neighbor – Ugly Kid Joe 

Nommer kopkrap (3)

12  &  16  (Nell en Maxie) 

Toorwoorde (1, behalwe nr 5 – 3 na ‘n leidraad net 1)

  1. Verbetering van ‘n fout in ‘n teks (Nell/Maxie)
  2. Amalgameerde Banke van Suid-Afrika (Nell/Maxie)
  3. Om iemand op die ware stand van sake te wys.  (Nell/Maxie)
  4. picots (Maxie)
  5. Laventelhaan (Nell)

Nell:  50

Maxie:  46

Xena:  2

Gaan asseblief die punte na en laat weet my as daar foute is.





Chariots of Fire 018

30 01 2010

Algemene Kennis

  1. Wie was die matriekseun wat twee laerskoolkinders gered het voordat hyself in die Henly-on-Klip ongeluk omgekom het?
  2. Wanneer was Ruben Kruger as die Saru speler van die jaar aangewys?
  3. Aan watter lugredery het die Boeing 737-800 behoort wat die week in die Middellandse See by Beiroet, Libanon verongeluk het behoort?
  4. Oor wie se lewe handel die fliek Skin?
  5. Wat moet jy eet vir ‘n 25 uur dag? 

Uilspieël 

  1. Sonette Ehlers; Charlene Smith; Jaap Haumann
  2. Bobby Riggs; Billy Jean King; Martina Navratilova
  3. Beet; Kool; Raap
  4. Pride and Prejudice; First Impressions; Sense and Sensibility
  5. Chardonnay; Merlot; Shiraz

Liedjiepret

 Ek is slimmer as wat ek sterk is.  Tot my frustrasie is ek nie eers sterk genoeg om my eie flesse oop te maak nie.  Geen deksel ontmoet my halfpad nie, hulle kry te lekker as ek my as afsukkel.  Daar moet seker ‘n kunsie daaraan verbonde wees, maar dit is bokant my kaggel.  Hulle kyk op hulle neuse, want dit maak nie saak nie.  Ek kan altyd die buurman vra om die gunsie vir my te doen. 

Nommer kopkrap

4; 8;  _; _;  20

Toorwoorde

  1. Emendasie?
  2. ABSA?
  3. Waar Dawid die wortels gegrawe het
  4. _ _ C _ _ S
  5. LENAHALEVTAN




Vuiligheidgorrel

29 01 2010

Ek is ‘n slim heksie, ekke weet tog presies wat ‘n vuiligheidgorrel is.  :mrgreen:  Dit is die swart toue wat in alle karre is.  Ek ken van karre, al ry ek ‘n besem.  Baie keer moet ek saam met die Merriegriet iewers heen ry en dan sien ek die swart toue. 😀 Ek weet ook hoekom dit daar is.  👿  My ouma Heldina het altyd gevertel dat net domkoppe sonder hulle vuiligheidgorrel ry en ek is nie dom nie.  Ek is ‘n slim heksie.

Daar is baie maatjies in karre wat lekker dom is.  😡  Ek hoop nie julle is dom nie, ek hou my nie vas met dom maatjies nie.  Wanneer die Merriegriets  so woerts, sien ek altyd al die maatjies wat nie hulle vuiligheidgorrel dra nie.  Hulle weet seker nie dat hulle reg deur die venster kan vlieg as iemand hulle stamp nie.  😯  Hulle magies gaan dan oop gesny wees en dan sal hulle nie kan eet nie.  Al die kossies gaan net so uitval.  Hulle sal dan doodgaan van die honger 😥 en ons gaan dan ‘n bevrukkis hou.  😥  😥  😥

Nie eers die mens babatjies word vasgespyker nie.  😯  Die ma-maatjie wil seker hê dat die karre met die babatjie moet nekby speel.  Is hulle nie bang dat die babatjie gaan seer kry en bloei nie?  😈  Ek hou nie van bloed nie, die perse drink dit mos asof dit rooi koeldrank is.

Onthou nou maatjies, slim maatjies, dra altyd hulle vuiligheidgorrel.

Breinvasbrand:  Watter motorvervaardiger was eerste om veiligheidsgordels as ‘n standaard item in hulle motors te sit?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met Little Assassin.





Skrywes wat ek kan onthou

29 01 2010

Die vermetelheid, sekere mense blog skaars, maar deel sommer huiswerk uit wanneer hulle wel so ver kom.  Dit was by verre een van die moeilikste tags wat ek nog moes doen.  Was dit iemand anders wat gevra het, het ek haar/hom geignoreer.  GRRR!  Die meerderheid van die skrywes wat ek kan onthou is die waaroor ek nie iets goeds te sê het nie.  Ek sal julle dit eerder spaar.  Ek het maar probeer dink aan goed wat almal min of meer sal kan onthou. 

Daar was al baie gesê oor rooflesers.  Baie lees, min los spore en nog minder vertel jou regtig wat hulle van jou skrywe dink.  Die Suid-Afrikaanse blogwêreld is maar klein, maar tog is daar soveel uiteenlopende karakters, menings en waardes, dat daar min kere is wat die bloggemeenskap waarlik alles vergeet en saam staan.  Ek dink dit sal ook kan gebeur as ‘n gewilde blogger trou of ‘n baba gebore word.  Die spesifieke geval waaraan ek dink, was egter hartseer.  Ek was net-net bewus van Carina en het Nathan se storie so met ‘n halwe oog gevolg, toe hy gesterf het.  Die reaksie op daardie blog saam met al die eerbetone wat gevolg het, sal almal wat destyds op die blogs was seker altyd bybly.

Baie mense vind die emosies agter ‘n spesifieke skrywe baie interessant.  Een wat my nogal verbaas het, was ‘n skrywe van Jaco.  Dit is nie enige man sy onsekerheid en “minderwaardigheid”  aan die wêreld ontbloot nie.   Die eerlike emosies wat klinies neergepen word is seker die kenmerk van sy blog.  Ek dink ook Girl van die Suburbs se reeks oor Meneer Hartseer sal mense nie sommer wil mis nie. 

Van reekse gepraat, een wat ek besonders baie geniet het was Demoerin se 7 Deadly Sins.  Goed, ek dink daar was op die einde iets soos veertien gewees, maar dit was nogtans insiggewende posts.

Daar was ook die keer wat ek soortvan verplig was om myself aan die blogpolisie te verduidelik.  Dellie het die post geskryf wat almal se gevoelens saamgevat het oor verskeie blogname.  Ek was darem nie die hoofsondaar nie, maar skuldig was ek beslis ook.  Ek voel nog steeds dat dit meestal nie kwaadwillig is as mense meer as een blog met meer as een persoonlikheid het nie.  As jy dit kan behartig, gaan voort. 

Ek moet afsluit met my gunsteling skrywe nog.  Dit was dan ook die eerste een waaraan ek gedink het.  Sonkind se sirkus- en asblikdogtertjies was net te kostelik.  Ek glimlag vandag nog elke keer wat ek daaraan dink.

Dit is seker nie die “Best of the Best” post wat Vlam ingedagte gehad het nie.  Ek sal die opdrag oordra aan mense wat reg daaraan sal kan laat geskiet.  Dus tag ek SonkindDemoerin en Maxie (ek sal seker my naam na Toiletpapier moet verander) om die skrywes te deel wat hulle uitsonderlik gevind het.





Nuusbrokkies

29 01 2010

Mans wat hulle as polisie voorgedoen het, het ‘n boer en se gesin 2 ure lank aangeval.  Hulle het met karre met blou ligte en uniforms opgedaag en vertel dat hulle na onwettige vuurwapens soek.  Hulle kon hulleself nie positief identifiseer nie en het toe die gesin, insluitende ‘n 5 jarige dogtertjie vasgebind.  Die gesin was ook gereeld met skokstokke geskok, maar die kind was dit darem gespaar.  Die boer se werknemers het onraad vermoed en die alarm geaktiveer.  Die polisie het ‘n taakspan aangestel om na die aanvallers te soek. 

Willie Grobler van Irene het munisipale werkers gyselaar gehou nadat sy krag afgesit het, al het hy betaal.  Hy besit die Echo 4×4 sentrum.  Hy het hulle vasparkeer en vertel om hulle baas te vra om te verduidelik hoekom sy krag afgesit is nadat hy betyds betaal het.  Hy het ook R3000 terug gesoek wat hy betaal het aan diesel vir die krag opwekker.  3 motors met 12 metropolisie lede het opgedaag en gedreig om Grobler te arresteer as hy nie die werkers laat gaan nie.  Hy het hulle toe maar gelos. 

Verby is die dae wat jy gou met ‘n aanklaer kon gaan praat het met jou boete in jou hand.  Na dese sal jy in die hof moet gaan verduidelik hoekom die boete jou nie pas nie.  Alle staataanklaers het ‘n interne brief van Adv. Menzi Simelane ontvang. 

Tokyo Sexwale reken Suid-Afrika het ‘n mensgemaakte ramp op hande.  In 1994 was daar 304 informele nedersettings en vandag 2600.  Hy reken dat dit die boere se skuld was.  “Toe die regering aangedui het dat hy sekerheid van verblyfreg aan plaaswerkers wou gee, toe verjaag baie boere miljoene swart mense van hul grond af. Dié is daardie mense. Waar moes hulle gaan woon?” Verder is niks glo die regering se skuld nie, maar eerder faktore soos werkloosheid, skole en dienslewering wat mense stad toe jaag.





Die buksie van Hoopstad

28 01 2010

Agter in my kas kruip daar ‘n skelpienk tennisraket weg.  Nie omdat ek my skaam vir die kleur nie (nooit gesien nie), maar eerder omdat ek graag meer gereeld sal wil speel.  Al is ek pateties op ‘n baan, met geen “ball sense” en hopeloos te lui om te hardloop, hou ek van tennis.  Ek sal dit ook geredelik op televisie kyk.  Steffi Graf en André Agassi is by uitstek my gunstelinge:  julle het tog nie gedink dit is toevallig dat die twee met mekaar getrou het nie.  Maar enige iemand wat by Graf vrees ingeboesem het, verdien my respek.  Veral as sy nog boonop ‘n Suid-Afrikaner is.

Amanda Coetzer is op 22 Oktober 1971 in Hoopstad gebore.  Haar ouers was Nico en Suska Coetzer.  Sy het in 1988 begin professioneel speel.  Sekerlik een van die kleinste vrouens in professionele tennis, Coetzer is maar 1.57 m lank en weeg 54 kg.  Sy sal dus nie sommer as een van die wêreld se grootste spelers onthou word nie, maar sy is gewis Suid-Afrika se beste vroulike speler op datum. 

Vir die grootste gedeelte van haar loopbaan het Coetzer in Hilton Head, South Carolina gewoon.  Sy was afgerig deur Gavin Hopper.  Haar loopbaan het in 1997 ‘n hoogtepunt bereik.  In November van dieselfde jaar was sy 3de op die ranglys gewees van vroue tennis, haar hoogste ooit. 

Coetzer het nooit een van die Grand Slams gewen nie.  Sy het wel al die semi-finale rondes van die Australiese Ope en die Amerikaanse Ope behaal.  Coetzer het 9 titels in haar professionele loopbaan ingepalm, die grootste daarvan is seker die Hilton Head in 1998.  Saam met Wayne Ferreira het sy die Hopman Beker vir Suid-Afrika gewen.  Sy het Suid-Afrika ook drie keer in die Olimpiese Spele verteenwoordig. 

Glad nie sleg vir ‘n meisie van die Vrystaat nie, maar dit vergelyk maar vaal teenoor Steffi Graf wat 107 titels ingepalm het en 22 Grand Slam titels agter haar naam het nie.  Tog is Coetzer een van net 6 spelers wat Graf in een jaar 3 keer op haar neus kon laat kyk het.  Sy is ook een van 4 spelers wat Graf meer as een keer in Grand Slam toernooi ore kon aansit.  In 1995 het sy Graf se wedloop van 32 oorwinnings in ‘n ry beëindig in die Kanadese ope.  Graf het ook haar grootse pak slae van Coetzer gekry.  Dit was in die kwartfinale in Berlin en die telling was 6-0, 6-1.  Coetzer het met Graf binne 56 minute kaf gedraf.

Graf was nie die enigste nommer een speler wat deur Coetzer die loef af gesteek was nie.  In 1999, het Coetzer die enigste speler geword wat Graf, Martina Hingis en Lindsay Davenport kon wen terwyl hulle die beste in die wêreld was.  Haar krag was juis daarin dat die hoë gekeurde spelers haar nooit kon afskryf nie, sy het net te dikwels met hulle klaar gespeel.

Coetzer het amper $6 miljoen verdien met tennis toe sy in 2004 afgetree het.  Sy is getroud met Arnon Milchan wat 27 jaar ouer as sy is.  Milchan was die vervaardiger van onder andere Pretty Woman.  Hy is ‘n Isreali.

Breinvasbrand:  Wat was Amanda Coetzer se bynaam (behalwe Buksie van Hoopstad)?

Breinlosbrand:  Demoerin was reg met galjoen.





Nuusbrokkies

28 01 2010

Ruben Kruger is gisteraand in die ouderdom van 39 oorlede.  Kruger voer sedert 2000 ‘n stryd teen breinkanker.  Hy is in 2007 en 2009 geopereer om gewasse te verwyder.  Kruger was vanaf 1993 – 1999 lid van die Springbokspan, hy het 36 toetse gespeel en 7 drieë gedruk.  Kruger laat Lize (sy vrou), Zoë (7) en Isabella (4) (sy dogters) agter.

‘n Ma van Weltevredenpark in Johannesburg het verlede Dinsdag met haar baba tougetrek om te keer dat hy ontvoer word.  Die baba is maar 20 maande oud.  Hulle was oppad kleuterskool toe, toe ‘n man haar met ‘n mes in haar rug haar na ‘n parkie gedwing het.  Sy was eers met ‘n tou om die nek aan ‘n boom vasgemaak, betas en toe haal die aanvaller die baba uit die waentjie uit.  Sy ma het na sy voete gegryp en die aanvaller het haar gesteek in die hoop dat sy hom sal los.  ‘n Man het haar te hulp gesnel en sy kon ontsnap.  Die polisie het glo nie juis in haar storie belanggestel nie, maar ‘n saak is geopen en word nou geondersoek. 

‘n 10 jarige meisie van Newcastle is verkrag en aan ‘n boom gehang nadat sy en haar ma in hulle huis aangeval is.  Die pa was ten tye van die aanval in Taiwan.  Hegendhri Narainsamy is na ‘n kamer geneem en twee keer verkrag deur Siphamandla Nkosi, ‘n oud werknemer van Selvan Narainsamy, die pa.  Sy is gedwing om op ‘n stoel te staan, met ‘n tou om haar nek.  Die ander punt was aan ‘n prieël vas gemaak.  Die stoel is onder haar uitgehaal en sy het verwurg.  Haar ma, Ranjini Narainsamy, is ook verwurg.  Die voorval het in 2008 plaas gevind, maar die Nkozi en Mxolisi Masondo het nou eers in die hooggeregshof in Madadeni verskyn. 

‘n Man is gister na 14 dae lewendig uit die puin in Port-au-Prince gehaal deur die VSA weermag.  Die regering van Haiti het die naweek aangekondig dat die soektog na oorlewendes afgelas is, maar nog ‘n handjie vol mense is gered.  Uninhabited Aerial Vehicle Synthetic Aperture Radar (UAVSAR) gaan ook deur NASA ingespan word om die eiland se verskuiwingslyne te bestudeer.  Dit sal spanne kan help om die moontlikheid van naskokke ens beter te bepaal. 

Mickey Arthur is glo weg omdat hy nie transformasie teikens kon bereik nie.  Beide hy en Graeme Smith het ontken dat die verhouding tussen hulle onherstelbaar versuur het.

Cindy Nell-Roberts is gister uit Survivor gestem.  Juis omdat sy fiks en slim is en dus vir die ander spanlede ‘n bedreiging kon inhou.  Stank vir dank, sy het haar span eers gehelp om die beloningsuitdaging te wen en daarna om ‘n “aërodinamiese” skuiling te ontwerp nadat hulle die vorige aand natgereën het.  Jub Jub, ‘n sanger, het die kamp verlaat weens ‘n infeksie in sy geslagsdele.  Om dit aan jou stam te verduidelik. . . .





Die een wat weggekom het . . .

27 01 2010

Hengel is nie my idee van ‘n aangename tydverdryf nie, maar selfs ek het ‘n visvang storie.  My broers en van hulle vriende het die hele Saterdag langs ‘n modderdammetjie gestaan en probeer visvang.  Met die klem op probeer, sukses het hulle nie juis gehad nie.  Ons het hulle ‘n rukkie gaan geselskap hou.  Eintlik net om vir hulle te lag.  Die seuns was so 13 / 14 jaar oud en hulle was vasbeslote om grotes uit te trek.

Dit is moeilik om te glo dat daar iets meer vervelig as visvang is, maar net tot jy jouself in ‘n posisie bevind waar jy kyk hoe iemand visvang.  Dit is erger.  Ek vra toe of ek kan probeer en ek word ‘n stok in die hand gestop.  Hy was seker maar te dankbaar dat hy die hengel vir ‘n paar oomblikke gespaar is.  Ek doen maar wat hulle doen: gooi uit en katrol in.  Gooi uit en katrol in.  Gooi uit en skielik is die katrol in nie meer so moeiteloos nie.

Ek het iets aan die lyn!  Ek was eintlik oortuig dat dit ‘n stuk rommel is, maar rommel kan nie spartel en probeer ontsnap nie.  My broer kyk half vies vir my, hy probeer al ure lank, maar niks.  Ek is skaars ‘n minuut met die stok besig en ek het iets gevang.  Die iets blyk toe wel om ‘n vis te wees, net mooi pan grote.  Ek was glad nie beindruk met die vis nie, ek was glad nie van plan om iets te vang nie.  Ek wou net speel.  Die vis moes terug.  Daarna was die manne eers vasbeslote, maar nie een het ‘n groter vis gevang nie.  Ek het nooit weer probeer hengel nie en ek dink hulle ook nie. 

Die stories van vissers (en jagters) is wyd bekend.  My persoonlike opinie is dat dit uit hulle brandewyn-geweekte-duim gesuig word terwyl hulle lyne natmaak.  Hulle moet hulle self op een of ander manier besig hou.  Die grote het altyd weggekom om een of ander rede.  Gewoonlik omdat daar nie ‘n grote was nie.  Almal weet tog dat visvangstories sinoniem is met liegstorie.

Nou stel jou voor jy is iemand wat hengel geniet en jy trek ‘n kabeljou van 82 kg uit.  Die vorige rekord vir ‘n kabeljou is 73 kg.  Wat maak jy?  Wetende dat jy die kans het om jou visvang storie te laat dokumenteer en dat niemand dit ‘n liegstorie kan noem met die wêreldrekord agter jou naam nie.

As jou naam John Crabb, gooi jy die vis terug in die see.  Hy het gevoel daar is iets swaars aan sy lyn en hy het gedink dit is ‘n skeurtandhaai.  Na 15 minute se spook, het hy die kabeljou van 1.97 uitgetrek.  Hy het die vis gemerk en vrygelaat.  ‘n Stap wat baie voordelig vir voortbestaan van die spesie is.  Dit is reeds ‘n algemeen aanvaarde feit dat daar nie meer baie visse in die see is nie. 

Crabb kan nie die rekord houer word nie, omdat die vis nie amptelik geweeg is nie.  Dit is ook vrygelaat.  Hy is van plan om die vis se besonderhede vir die Oseanografiese Navorsingsentrum by die uShaka-oseanarium in Durban te gee. 

Dit is nie enige man wat sy kans op ‘n wêreldrekord sal opgee om ‘n vriendelike hand na die natuur te reik nie.  Daarvoor haal ek my hoed vir hom af.

Breinvasbrand:  Wat is Suid-Afrika se nasionale vis?

Breinlosbrand:  Regstellende verkragting is wanneer ‘n gay vrou verkrag word in ‘n poging om haar van homoseksueliteit te genees.