Ek raak seker ‘n holruggeryde onderwerp aan of dalk is dit ‘n geval van as wat verbrande vuurwerke is. Duidelik verstaan ‘n seker soort mens nog steeds nie wat dit behels nie. Hulle gee bloot nie om nie of hulle put sadistiese genot uit ‘n ander lewende organisme se lyding.
Ek self kan nog so opgewonde raak soos ‘n kind oor ‘n goeie vuurwerk vertoning. Die verskil is dat dit dan gewoonlik goed georganiseerd is, skouspelagtig is en bowenal net ‘n kort tydjie duur. ‘n Paar minute sodat ‘n sorgsame eienaar sy diere kan kalm hou.
Tog, as ons verder dink as ‘n kortstondige kunswerk. Vuurwerke is beslis nie goedkoop nie. Nadat dit afgevuur is het dit geen verder nut nie. Niemand word werklik daarmee bevoordeel nie. Diere, huislik en wild, word vir ‘n paar minute onder ondraaglike spanning geplaas. Die aantal swael wat met die afskiet vrygestel word is beslis ook nie voordelig vir die omgewing nie.
Die probleem hou nie by die groot georganiseerde vertonings op nie. Dit is maar die minste. Dit gaan oor die hoe vrylik vuurwerke bekombaar is vir elke Jan Rap en sy maat. Wat dit begin afskiet van die oomblik wat die son sak tot die oomblik wat die son weer opkom. Ongeërgd vir die ongerief wat dit vir mens en dier inhou, die drank is nog koud en dit is mos net een keer ‘n jaar oujaar.
Self dit is nie die ergste nie. Party mense moet dit verder voer, die liggies en geraas is nie genoeg nie. Gryp ‘n weerlose kat en kyk wat gebeur met ‘n klapper wat in sy anus opgedruk word. Wie gee om dat die kat met sy agterlyf half weggeskiet huis toe sal sukkel om voor ‘n paar geskokte kinders te gaan vrek? Gelukkig was die kinders nie naby nie, dink net watter skouspel sal ‘n kind met ‘n brandende klapper in elke oor gee. As jy dit met ‘n dier kan doen, kan jy dit met ‘n mens ook doen.
Waar laat dit ons? Kan ons willens en wetens toelaat dat vuurwerke links en regs verkoop word aan almal wat die geld het? Ja, dit is teen die wet, maar niemand steur hulle daaraan nie.
Breinvasbrand: Wie was die leier van die Gunpowder Plot waaraan Guy Fawkes sy ontstaan te danke het?
Breinlosbrand: Virgo
Wie runnik saam?