Elemente vir die laaste paar dae

29 12 2009

Dit is weer daardie tyd van die jaar.  Tyd vir voorraadopname van wat die afgelope jaar met jou gebeur het.  Waar jy fouteer het, maar ook watter suksesse jy behaal het.  Natuurlik besluit ‘n mens ook so half en half wat jy met die volgende kalender jaar wil doen.  Wat hou die nuwe jaar vir jou in?  ‘n Nuwe uitdaging, nuwe wendings, ‘n nuwe liefde dalk of ‘n jaar wat verby gaan draal?  Sommige mense glo dat dit nie nodig is om te wonder nie, alles staan tog in jou sterre geskryf.

Ons was geleer dat elke mens uniek is.  Iets om op trots te wees, tot jy die dag besef dat almal rondom jou ook uniek is.  Daar is dus niks unieks aan uniek nie.  Geen rede om jou polse af te byt nie.  Gelukkig, volgens Astroloë, is daar darem 12 tipes mense.  Wel, eintlik as jy mooi oplet is daar net 4 tipes.  Alles afhangend van wanneer jy gebore is natuurlik.  Dit is die aanduiding van wat jou sterreteken is en dit is weer bepalend tot watter element jy behoort:  Vuur; Aarde; Lug en Water.

Die Vuurelement verteenwoordig Aries, Leo, en Sagittarius en hulle is klaarblyklik die geregtelike mense.  Jy kan glo altyd die waarheid, regverdigheid en op-die-man-af optrede van hulle verwag.  Hulle is die ware krygers, diegene wat in die doodsnikke van die oorlop nog steeds verbete sal veg vir wat hulle in glo.  Aggressiewe, ferm en dapper mense wat floreer op ‘n uitdaging en nie ‘n nederlaag sal erken nie.  Hulle hou daarvan om die kern van belangstelling te wees en het groot ego’s.   Moet nie op hulle tone trap nie, want hulle vergewe nooit nie en vergeet nog minder.  Hulle is baie wraak gedrewe.  Hulle is heeltemaal instaat om mense fisies en geestelik seer te maak, sonder om ‘n oomblik slaap daaroor te verloor. 

Taurus, Virgo en Capricorn val onder die aard element en hulle weet altyd hoe om in enige omstandighede op te tree.  Hulle is konvensioneel, ordentlik en gepas.  Hulle is goed gemanierd, baie beleefd, maar kan ook baie preuts wees.  Handel en wandel mense, hulle is gewoonlik mense wat handelswêreld uitblink.  Hulle is mense wat baie nou met hulle sintuie saamlewe, hulle hou ook van ‘n mooi omgewing.  Hulle het oor die algemeen goeie smaak en is ook baie modebewus.  Hulle is ook wraaksugtig, maar sal nie sommer iemand fisiese leed aandoen nie.  Hulle sal iemand eerder deur hulle beursies laat boet.  Hulle is mense wat vinnig kwaad raak en dadelik uiting aan hulle emosies moet gee.

Lugelement is die kern Gemini, Libra en Aquarius wat kennis verteenwoordig.  Die element is nie noodwendig meer intelligent as die ander nie, maar het oor die algemeen baie goeie algemene kennis  en is op hoogte van sake.  Hulle het ‘n goeie begrip van tale en is oor die algemeen goed met woorde.  Hulle het klaarblyklik goeie persoonlikhede en is maklik om te leer ken.  Die Lugmense is nuuskierig, het inisiatief, is oorspronklik, gedissiplineerd en is vinnige denkers.  Hulle sal sake deurdink sonder om deur emosionele of fisiese faktore beinvloed te word.  Hierdie mense is op hulle self ingestel en is geneig om hulleself baie harder te oordeel as wat hulle ander mense sal oordeel.  Die mense is ook wraaksugtig, maar met die uitsondering van Gemini, sal hulle nie sommer fisies raak nie.  Hulle sal wraak sweer en met ‘n skelmstreek hulle wraak kry.  Hierdie element is veral geskik vir booshede. 

Laastens is die Watertekens, Cancer, Scorpio en Pisces wat vir hulle goedhartigheid bekend is.  Hierdie mense leef vir liefdadigheid en wil welwillendheid bevorder.  Hulle is vrygewig en tree dikwels filantropies op en is op hulle gelukkigste wanneer hulle goeie dade doen.    Diensbare mense, mense wat hulle onselfsugtig wei aan die mensdom.  Die element is die emosionele element, hulle dink ook met hulle hart en nie verstand nie.  Hulle kry maklik seer, maar sal nie dit aan ‘n ander wys nie.  Hulle tree ook nie sommer emosioneel op nie.  Hulle is baie bekommerd oor wat ander mense van hulle dink en sê.  Al sal hulle hulle self vir ‘n ander uittrek, maak hulle moeilik vriende omdat hulle skepties en baie skaam is, maar hulle is ‘n vriend op wie jy kan reken.  Hulle kan ook maklik mense aanrand as hulle die dag hulle humeur verloor.  Watertekens se karakterfout is dat hulle skynheilig is, hulle manier om wraak te kry. 

Hmmm, ek erken myself in elke element, net soos daar goed in elke element is wat volksvreemd aan my is.  Sug!  Dalk is alles so geskryf dat almal ‘n ietsie van hulle self moet erken, mits hulle nie die ander goed lees nie. 

Glo jy daar is enige nut aan die sogenaamde elemente?  Erken jy jouself in dit?

Breinvasbrand:  Elke element het ‘n ooreenstemmende seisoen.  Wat is Vuur, Aarde, Lug en Water se ooreenstemmende seisoene?   Onder watter konstellasie is iemand wie se sterreteken ‘n Maagd is gebore?

Breinlosbrand:  Wangari Muta Maathai.  Olga was reg.