Morsjors tel op jou papiere
Morsjors waar is jou maniere
Hou die plek nou skoon
Anders kom trap ek op jou toon
Dit was ‘n liedjie wat ons iewers in die kleuterskool gesing het. Ongelukkig was almal nie in my kleuterskool nie, want party mense verstaan dit tot vandag toe nie. ‘n Mens gaan op ‘n uitstappie om een van die skoonhede van die natuur te bewonder. Die kamera is reg en jy het jou stapskoene aan. En dan kry jy dit:
Dit maak my kinderlik ongelukkig en grootmens die duiwel in. Hoeveel moeite kan dit nou wees om jou gemors ‘n paar meter saam met jou te dra en dan in ‘n asblik te gooi? Beslis nie meer moeite as wat dit is om die kos (of wat ookal) saam met jou te dra nie. As jy so bang is vir uitputting kan jy in jou kar eet en sommer die gemors net daar los ook. ‘n Mens wil mos juis nie die gemors in die veld sien lê nie. As dit die plan was, sou jy mos asgate toe gegaan het.
Dit stuit my teen die bors, maar dit is nie die ergste nie. Dit is bosbouwêreld en brande is die euwel wat bo alle ander gevrees word. 2 jaar terug is die hele gebied rondom Sabie deur brande verwoes gewees. Die inwoners sidder nou nog as hulle aan die ongenadige vlamme dink, miljoene rande se skade is aangerig en dit gaan die omgewing 50 jaar lank neem om te herstel. ‘n Ervaring wat niemand weer in hulle lewe wil herhaal nie. Behalwe die dom idiote wat nie verder as hulle eie gemak dink nie,.
Op hulle toon trap? Ek dink nie so nie. Ek sal hulle veel eerder hulle eie rommel laat vreet. Wat kan ‘n mens met sulke mense maak? Hulle weet daar is net een aarde, hulle kan sien hoe dit lyk, verwag hulle nou wragtig dat iemand agter hulle gatte moet kom skoonmaak? Daar is nie skoonmakers nie. Al was daar skoonmakers, kan dit moontlik te laat wees. ‘n Dier kon aan ‘n stuk plastiek versmoor het, iets of iemand kon beseer geword het met ‘n stukkende bottel en die hele plek kon afgebrand gewees het. Wat duisende mense hulle werk sou kos.
Maar hoekom sal ek nou omgee? Ek is mos net ‘n toeris.
Breinvasbrand: Wie het in 2004 die Nobel Vredesprys vir haar volhoubare ontwikkeling, demokrasie en vrede gekry? Sy was die eerste swart vrou en die eerste omgewingskundige om die prys te ontvang.
Breinlosbrand: Max was reg met Anne Geddes.
Wie runnik saam?