Dit is vir my al ondenkbaar. Om vir ‘n dag uit te gaan met ‘n kamera waarmee jy net 24 foto’s kan neem. As jy ‘n bietjie oorywerig is, moet jy maar bid vir ‘n ekstra filmrolletjie en ‘n donker hoekie. Eintlik net fyn beplanning, wanneer jy weet waarheen jy gaan, moet jy raai hoeveel films jy gaan nodig hê of eerder hoeveel films jy kan bekostig. En dit hou nie by die films op nie. Jy moet ook inagneem hoeveel dit jou sal kos om die hele boel te ontwikkel.
Na die nagmerrie gedagte, kan ‘n mens net opreg dankbaar wees vir digitale kameras. Die voordele is legio. Om mee te begin kan geheueskyfies skoongemaak word en weer gebruik word. Jy kan na honderde foto’s uitsien. As jy iewers met ‘n foto aanjaag, kan jy dit uitvee en die oefening herhaal. Jy kan alles afneem wat met jou praat en dit wat jou afstoot, dit wat jou vriende gaan waardeer en dit wat weird is. Gewoonlik is jou battery die bepalende faktor van hoeveel foto’s jy neem.
Almal kan entoesiastiese fotograwe. Tussen honderde foto’s moet daar ‘n paar wees wat besonders mooi is. Meer geluk as wysheid, maar as jy nie gaan sê nie gaan niemand weet nie. Jy hoef nie jou foto’s te ontwikkel nie, maar dit laat nou ‘n nuwe vraag. Waar bêre jy al die foto’s? Honderde foto’s op ‘n slag neem nogal ‘n aardige hoeveelheid van jou hardeskyf in beslag. Ongelukkig moet ‘n mens jou rekenaar vir ander goed ook aanwend. Wie hou nou na ‘n paar 1000 foto’s op foto’s neem? Nie ekke nie.
Ek moet nou of kreatief dink of leer om met ‘n swaar hand die duisende swak foto’s af te vee. Foto’s is nie net ‘n kuns nie, ‘n foto is amper soos ‘n visuele dagboek van wat jy gesien en ervaar het. Daarom wil jy nie noodwendig voor die voet afvee nie. Dus moet daar ‘n ander plan gemaak word. Ek moet ‘n biblioteek van my foto’s bou. Iets wat verkieslik maklik bestuurbaar is en min moeite en spasie gebruik. Tans gebruik ek CD’s daarvoor, maar oorweeg ‘n groot eksterne hardeskyf. Mens moet dan seker steeds die CD’s aanhou as back-up.
Dit laat my dink aan die advertensie van ‘n foto is nie ‘n foto as dit nie gedruk is nie. Ek druk nooit my foto’s nie. Ek deel dit met facebook, my fotoblog en van my rekenaar onder my arm. Blykbaar haat mense dit om na ander mense se foto’s te kyk. Ek geniet ander se foto’s, maar ek gee (gewoonlik) vir ander mense ‘n keuse.
Hoe bestuur jy jou foto’s? Is dit maklik om ‘n spesifieke foto op te roep? Geniet jy ander mense se foto’s en show jy graag jou eie foto’s af?
Breinvasbrand: Watter Australiese selfgeleerde fotograaf is veral bekend vir haar baba en moederskapfoto’s?
Breinlosbrand: Olga was reg met Frank Farian.
Wie runnik saam?