Familiemoleste

23 12 2009

Kersfees word voorgehou as gesins-/ familietyd.  Kersfees wil ‘n mens by die huis wees.   Spinnekop het juis nou die dag genoem hoe die expats opsien na Kersfees, juis omdat dit nie altyd moontlik is om huistoe te gaan nie.  Die Heilige Gesin is mos met die geboorte van Jesus gevorm.  ‘n Getroude paar raak mos eers ‘n gesin wanneer die eerste baba gebore word.

Vandaar die idilliese prentjie van familiefees.  In praktyk werk dit effens anders.  Families is nie altyd die beste vriende nie.  Kinders speel nie soet onder die Kersfeesboom nie.  Soms spat die vonke behoorlik.  Tieners word verveeld en so word familielegendes gebore. 

So gebeur dit een jaar dat ons Kersfees drie gesinne onder een dak is.  Die dak het net een toilet, maar dit is ‘n ander storie.  Dit was my ma se broer, met sy vrou en 3 kinders; my tannie, haar sleepsel en 2 kinders en ons 6.  In totaal was daar 9 onder 18’s.  Na ete, besluit die seuns dat hulle wil gaan stap.  Dit was in die bos en gou-gou was hulle nie net lus vir stap nie.  Daar moes geswem word ook.

Daar was net een genade.  Adamspakkies!  My broer (13) en my neef  (16) is eerste in en kla toe dat die water koud is.  Maar uitklim is min.  Terwyl hulle baljaar, neem my ander neef hulle klere en die res van die groep stap huis toe.  Daar sit die mannetjies in die dam, sonder ‘n draad klere.

My neef het vir Hitler en Napoleon maar sleg geken.  Die twee het nie ‘n skaam haar op hulle koppe nie.  Hulle het nonchalant huis toe gestap, sonder ‘n saak oor wie hulle kan sien.  Hulle is by die groentetuin is, net om te sien dat die vyeblare te klein is.  In hulle oë in elk geval.  Daar gryp die manne pampoenblare.  Een voor en een agter!

Hulle kom by die sitkamer in met hulle pampoenblare!  En daarmee het hulle die res van die dag geloop.  Die pampoenblare was blykbaar baie gemakliker as hulle eie klere.

Breinvasbrand:  Wie se breinkind was Boney M?

Breinlosbrand:  Nell was reg met die agterbeen.