Politieskorrekte Kersfees

21 12 2009

Geseënde Kersfees!  Merry Christmas!  Versigtig, jou kop mag dalk afgebyt word vir die goeie wense.  Daar is mense wat dit aanstootlik kan vind.  Vandaar die goue middeweg:  Happy Holidays!  Season Greetings!  Festive Season!  Alles, solank jy nie die woord Kersfees in enige vorm gebruik nie.

Ek is ten volle vir geloofsvryheid en terselfde tyd voel ek sterk daaroor dat jy nie jou geloof in iemand se keel kan afdruk nie.  Tog sien ek nie werklik fout met die goeie mense nie.  Persoonlik wens ek mense nog altyd ‘n Geseënde Kersfees toe.  Ek is seker almal wil graag geseënde dag of selfs jaar beleef.  Dit kan tog nie skade doen nie, self al glo jy dit nie.  Ek ken inderwaarheid ‘n aantal Moslems wat my ook ‘n Geseënde Kersfees toewens. 

Om die bohaai te verstaan, het ek my probeer indink hoe ek sal voel as iemand my Happy Eid of Gelukkige Hanukkah toewens.  Ek is eerlik as ek sê dat dit my nie sal pla nie.  Ek sal beslis nie beledig voel nie.  Ek mag dalk bekommerd raak as ek weet dat my in hulle geloof vervloek.  Tog, goeie wense is iets wat bedank word, al beteken dit vir jou iets nie. 

Aan die anderkant is Suid-Afrika ‘n multikulturele land met ‘n verskeidenheid gelowe.  Jy kan nie net aanneem dat die elke persoon wat jy teëkom ‘n Christen is of Kersfees erken nie.  25 Desember staan tans nog as Kersfees bekend.  Selfs al erken ek nie Vrouedag nie, word ek gereeld ‘n gelukkige vrouedag toegewens.  Maak dit dan soveel saak as iemand in dieselfde gees ‘n gelukkige Kersfees toegewens word?

Is ek nou net stiksienig?  Druk ek my geloof in ander se kele af?  Watse skade kan ‘n Geseënde Kersfees doen?  Doen ons genoeg moeite om ander gelowe op hulle feesdae goeie wense toe te wens?

Breinvasbrand:  Wat word met Hanukkah gevier?

Breinlosbrand:  Olga en almal anders was reg met A Christmas Carol.