Vakansietyd

17 12 2009

Desember is in Suid-Afrika by uitstek vakansie tyd.  Baie mense vat die tyd van die jaar verlof en baie mense werk ook hulle jaarlikse kusuittog in die tyd in.  Ander sit weer by die huis en probeer so min as moontlik, indien nie minder nie, doen.  Persoonlik dink ek net ‘n mal mens is nog na die 16de Desember by die werk.  Ek verwag enige oomblik die ooms met die wit jasse.

Om een of ander rede dink ons almal gaan net see toe.  Dit is nie heeltemaal juis nie, al is daar ‘n aansienlike klomp binnelanders wat in die vissepie wil gaan swem.  Suid-Afrika het darem ook ‘n aantal groot wildtuine, wat besoekers van oorsee af lok.  Pasella  wys ook elke week watter juwele is in ons kleindorpies versteek.  Die buurlande is glad nie buite ons bereik nie en oorsee is ook vir baie mense ‘n moontlikheid.  As jy bereid is om die koue aan te durf.

Wat ek vandag wil weet, wat is jou ideale vakansie?  Waarheen sal jy wil gaan en wie/wat sal jy wil saamneem.  Soek jy bosse, berge, winkels of wit strande?  Wat was jou beste vakansie nog?  As geld nie ‘n kwessie was nie, hoe sou jy een maand ‘n jaar (nie noodwendig Desember nie) graag sal wil deurbring?

Van die os op die jas.  Jaarliks is daar ‘n paar flieks wat altyd die tyd weer afgestof word.  Ek dink byvoorbeeld aan Driving Miss Daizy en Dinner for One.  Wat is jou gunsteling feestydfliek?  Hou jy van flieks wat rondom Kersfees afspeel?

Breinvasbrand:  Wie het die rol van die volwasse Lukas vertolk in Fiela se Kind?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Afrika.





Wat kruip hier weg?

17 12 2009

Skokkend maklik, ek weet.  Julle was meestal reg.  ‘n Tier van Pretoria Dieretuin.





Nuusbrokkies

17 12 2009

Vir die wat in ‘n grot woon, Manto Tshabalala-Msimang is dood weens lewer komplikasies. 

‘n Petrol joggie het die polisie in kennis gestel nadat ‘n BMW vol bloed by hom petrol ingegooi het.  Boonop het die bestuurder nie die pin van die kaart geken waarmee hy petrol wou ingooi nie.  Die polisie het die verdagte naby Fochville gekry.  Die motor het aan Hennie en Magda Visagie behoort wat op ‘n plaas naby Vierfontein gebly het.  Sy lyk is 12 km buite Orkney gekry en sy vrou s’n net buite Potchefstroom. 

Die skrywer, Henriette Grové, is Maandag aand op die ouderdom van 87 dood.  Haar werk was met verskeie pryse bekroon. 

Regter Aubrey Ledwaba het Hanria Kriek se eis van R800 000 van die hand gewys nadat hy self ondersoek gaan instel het.  Kriek  het in Johannes Steinberg se huis geval en ‘n ernstige skouerbesering opgedoen.  Volgens Kriek het kombinasie van die onvoldoende beligting en/of glibberige teëls en/of trappe se oneweredigheid, of al dié redes veroorsaak dat sy geval het.  Die regter het gemeen dat sy bespiegel en niks kan bewys nie. 

En dit is die trant oor die nuus.  Niks werklik interessant nie.