Tuisnywerhede

16 12 2009

Soms het jy meer nodig as ‘n sny koek van jou plaaslike Beker en Boontjie.  Dit is nie vir ons almal moontlik om gou-gou self iets aanmekaar te slaan nie.  Dan raak die Tuisnywerheid op die hoek nogal ‘n uitkoms.  Wel, veral as jy met iemand anders se geld iets koop.

Tuisnywerhede is nogal aan die duur kant.  Die keuses wat geword is ook nie juis iets om oor huis toe te skryf nie.  Tog sien jy goed wat jy nooit in ‘n koffiewinkel gaan kry nie.  Ystervarkies, koeksisters, repelsteeltjies, roompoffertjies, frikkadelletjies en fudge.  Jy weet skaars waar jy moet vat en waar jy moet los.

Ou tannies bak mos vir tuisnywerhede en waar in jou lewe het jy ‘n outannie gesien wat nie kan bak nie.  Ba!  Het ek nuus vir jou!  Maak jou reg vir ‘n teleurstelling.  Jy sal jou mond wil gaan was nadat jy jou lewe gewaag het.  Die ou vroue wat vir ‘n lewe bak, se gebak is nie iets om oor te spog nie.  Dalk is daar nie genoeg liefde in nie of miskien het hulle besuinigingspoging alles opgemors. 

Die ystervarkies is nie met die sjokolade sous deurdrenk nie.  Dit is spierwit aan die binnekant.  Die koeksisters is kluitjierig.  Kliphard en die deurskynigheid is met ‘n kwas aangebring, beslis nie met stroop nie.  Die koek proe sout en die beskuit na koeksoda.  Die frikkadele proe na hondvleis en die southappies is eintlik smaakloos.  Die fudge is nie lank genoeg gekook nie, jy kan ‘n blokkie in jou koffie gooi.  Dit is ‘n melk en suiker blokkie.

Ek is ‘n leek in die kombuis en ek kan wragtig beter doen as dit.  Nie dat ek my pogings sal opveil nie, ek weet wanneer iets power is.  Weet hulle nie?  Toets die eienaars van die tuisnywerheid dit nie eers nie?

Breinvasbrand:  In watter vasteland word die meeste kokao verbou?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Wasbankspruit.





Invictus

16 12 2009

Hier is ‘n lieflike gemors.  Herriemerrie wat haar verbeel sy is die Kind van die Son.  Sonkind is in die eerste plek ‘n storie verteller, iets wat ek nie eers gaan probeer na-aap nie.  Haar resensies is ook altyd interessant om te lees, daarom sal ek maar my hand aan die laasgenoemde waag.

Opinies wat gelewer word is net ter illustrasie.  Dit is nie noodwendig my of Sonkind se mening nie. 

***

Dit is selde dat ek en Liefie in die middel van die week kan gaan fliek.  Bernard het sleg gevoel by die werk en was vroeg by die huis.  Te siek om planne van sy eie te maak, maar hy kan ‘n oog gooi oor Mila.  Mila kan hom ook sommer oppas.  Liefie kon ook netsowel by die huis gebly het.  👿  Ons was nog nie eers deur die voorprente nie, toe slaap hy al. 

Invictus beteken onoorwinbaar.  Wat die Bokke nie was in 1994 toe Mandiba president geword het nie.  Nou loop ek die storie ‘n bietjie vooruit. 

Mandela het die verkiesing gewen, maar kan hy die land regeer? Dit is die opskrif van die koerant op die dag wat Mandiba die eerste dag as president moet gaan werk.  Sy grootste kopseer is hoe om ‘n nasie wat deur apartheid verdeel is een te maak.  In sy eie woorde:  balancing black aspirations with white fears.  Dit is van die begin af duidelik dat dit geen maklike taak gaan wees nie.  Mandela is op sy eerste dag gekonfronteer met amptenare wat oppak voordat hy hulle in die pad kan steek.  Hy roephulle bymekaar en verseker hulle dat hulle niks te vrees het nie.  Hulle taal, geskiedenis, kultuur en ras sal nie beinvloed hoe hulle in sy kantoor behandel sal word nie. 

Sy visie vir ‘n reënboognasie gaan verder.  Sy lyfwagte was ‘n paar hande kort gewees en het gevra vir ‘n paar ekstra hande.  Die hande was nie veronderstel om van die spesiale magte te wees nie.  Mense wat hulle en Mandela in die verlede probeer vermoor het.  Tog is dit presies wie aangemeld het vir diens, aangestel deur niemand anders as Nelson Mandela nie.  Mandiba wou lei met vergifnis, vergifnis wat grense afbreek en mense saambind.  As dit beteken dat hy sy lewe in die hande van sy vorige vyande te plaas, so be it!

Die Springbokke moet binne ‘n jaar aan die wêreld beker deelneem.  Mandiba woon ‘n wedstryd tussen hulle en die Engelse Rose by, ‘n wedstryd waar alle hoop vir die Bokke afgeskryf het.  Tydens die wedstryd let hy op dat al die blankes vir die Bokke skree en al die swartes ondersteun die Rose.  Wat hy self in die tronk gedoen het en daardeur dikwels die troon van die wagte op die hals gehad het.   Mandiba nooi Francios Pienaar vir tee.  Hy praat meestal oor leierskap en inspirasie, maar Pienaar weet wat van hom verwag word.  Die haas onmoontlike taak, hy moet sorg dat die wêreldbeker gewen word. 

Terselfde tyd beywer die ANC hulle om die Springbok en die “Groen en Goud” vir eens en vir altyd te vernietig.  Hulle stel die Protea voor wat eenstemmig aanvaar word.  Mandela hoor van die uitslag van die vergadering en haas hom daarheen om hulle van plan te laat verander.  Hy vertel hulle dat die Springbokke tot die hart van Afrikaners spreek.  Om aan die Sprinkbok te raak, raak jy aan die Afrikaners.  Vergelding sal die land net meer verdeel, nie verenig nie.  I will build a nation, even if the bricks are wrapped in green and gold.  Hy wen die stemmery met net 12 stemme, maar dit is genoeg.

Mandiba wil ook hê dat die Springbokke harte onder die arm gemeenskappe moet wen.  Hy versoek dat hulle rugbyklinieke moet aanbied.  Die span is nie baie gretig nie, hulle moet oefen vir die Wêreldbeker en het nie tyd om kinders te leer rugby speel nie.  Met hulle aankoms word Chester gul gegroet, die res word verduur.  Dit verander na die einde van die dag.  Dit haal die nuus en Mandiba is in ekstase.  That will speak to the heart of people like no speech ever will. 

‘n Week voor die openingswedstryd gee Mandela vir Pienaar “Invictus”, ‘n gedig wat hom deur Robbeneiland gedra het.  Die res is vir elke Suid-Afrikaner geskiedenis.  Die Bokke wat die Australiërs in die openingswedstryd oortuigend klop.  Die wedstryd teen Wes-Somoa, die reën van die wedstryd teen die Franse.  Die vrees vir die reus, Jonah Lomu.  Die leë strate in die plakkerskamp, almal op ‘n plek waar die wedstryd uitgesaai word.  Die onvergete finaal teen die All Blacks.  En daardie skepskop wat ‘n telling van 15-12 gegee het wat die Webb-Ellis trofeë verower het.

Suid-Afrika het soos een man die Bokke se oorwinning gevier.  Wit en Swart het saam in die strate gedans en mekaar omhels van vreugde.  Die land was waarlik een. 

Out of the night that covers me,
Black as the Pit from pole to pole,
I thank whatever gods may be
For my unconquerable soul.

In the fell clutch of circumstance
I have not winced nor cried aloud.
Under the bludgeonings of chance
My head is bloody, but unbowed.

Beyond this place of wrath and tears
Looms but the Horror of the shade,
And yet the menace of the years
Finds and shall find me unafraid.

It matters not how strait the gate,
How charged with punishments the scroll
I am the master of my fate:
I am the captain of my soul.

William Ernest Henley (1849 – 1903)