16 Desember. Vir sommige mense sal dit vir altyd Dingaansdag wees, ander dink weer daaraan as Gelofdedag, die regering noem dit nou weer versoeningsdag. Vir sommige is dit ‘n heilige dag en vir ander net weer ‘n verskoning om te baklei.
Op 4 Februarie 1838 het Piet Retief ‘n ooreenkoms met Dingaan gesluit vir land in Natal. Om die ooreenkoms te vier is hy met ongeveer ‘n 100 man na UmGungundlovu vir ‘n bierdrink seromonie. Tydens die seremonie het Dingaan hulle van herksery beskuldig. Die impi’s het hulle onderlywe deurboor en na ‘n koppie (kwaMatiwane) gedra, waar hulle een met ‘n knopkierie om die lewe gebring is. Retief moes tot kyk hoe sy seun doodgemaak is, voordat hy heel laaste vermoor is. Dingaan het blykbaar sy hart daarna opgeëet. Hulle lyke is vir die wilde diere gelos.
Dieselfde aand nog het Dingaan opdrag gegee dat van die Trekker laers by Doringkop, Bloukrans, Moordspruit en Rensburgspruit aangeval moes word. Weenen is later daar gestig om die aanvalle te herdenk. Almal in die laers: vroue, kinders en werkers is voor die voet doodgemaak.
Die Voortrekkers wou Dingaan onttroon. Sarel Celliers het namens die Voortrekkers die gelofde die eerste keer op 9 Desember 1838 afgelê:
“Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde, om ‘n gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag, soos ‘n sabbat, sal deurbring en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”
Mense was vry gewees om te gaan indien hulle nie die gelofde wou aflê nie en blykbaar het twee gesinne wel geweier om deel te neem. Die gelofde is elke aand herhaal, tot op die 15 Desember. Die Zoeloes het die aan die oorkant van die Ncome Rivier saam gedrom. ‘n Aanval sou probleme veroorsaak het, aangesien die mistige weer die kruit nat gemaak het. Die Zoeloes was weer bang vir die laterns en het dit as spoke aangesien.
Die Trekkers mag net geskiet het wanneer hulle die wit van ‘n aanvaller se oë kon sien. Na 2 ure waarin die Zoeloes 4 keer aangeval het, het Andries Pretorius die ruiters agter hulle aangestuur. Die bloed van die 3000 gesneuwelde Zoeloes het die rivier rooi verkleur. Net 3 Voortrekkers was beseer.
Retief se lyk is op 21 Desember 1838 gekry deur een van die oorwinningskommando’s. Die traktaat vir die grond was nog ongeskonde by hom. Hy en sy manskappe is toe eers begrawe.
Vandag 171 jaar word die slag van Bloedrivier nog steeds herdenk. Selfs al woon ons nie self enige van die vieringe by nie, dink ons tog wel daaraan. Ek het hierdie stuk geskryf nadat ek datums en name nagegaan het, maar basies hoe ons dit op skool geleer was. Tog is daar vandag baie geskiedkundiges wat nie met die gebeure ooreenstem nie. Die Zoeloe nageslagte betwis dit ook.
Wat dink julle?
Persoonlik dink ek dat daar wel hier en daar met die feite gespeel is. Ek twyfel bv. sterk of daardie rivier wel rooi verkleur het. Tog dink ek dat die basiese gedagte juis is. Die weergawe is wat ek eendag vir my kinders gaan vertel. Hulle kan dan self besluit wat die waarheid was wanneer hulle die ander kant gehoor het.
Breinvasbrand: Waar was die gelofde op 9 Desember 1838 die eerste keer afgelê?
Breinlosbrand: Demoerin was reg met 1853.
Wie runnik saam?