Hier probeer die Herriemerrie maak of sy die Girl van die Suburbs is.

Vanmiddag, na werk, kon hierdie droomkind nie met haar geliefde agterstraatjies huis toe ry nie. So word ek in die spinneweb, ook bekend as William Nichol, vasgevang.
‘n Klein seuntjie het stroopsoet aan die voet van die robot gespeel. Sy ma besig om ‘n paar sente vir ‘n kossie die aand in te samel. Haar oë rus deurentyd op die knapie, soos sy van die een motor na die ander beweeg. Bevoorregte bliksems wat die venster in haar gesig toemaak. Weggekruip in hulle lugversorgde luukse motors, te skaam om haar in die oë te kyk.
Een kyk in haar desperate traannat oë en ek het haar my laaste noot gegee. Haar mannetjie is aan die skroeiende son en die Goudstadse bestuurders oorgelaat. Hy kan darem nie met ‘n honger magie huistoe gaan nie. Daardie verdwaasde, dankbare glimlag was soos ‘n aanklag teen die mensdom. Hoe min is ons nie bereid om te doen nie?
Nou sit ek kaalvoet opgekrul met Oscar styf teen my en popcorn eet. Watse luukse sal dit nie vir die gesinnetjie wees nie? Hoe bevoorreg is ek nie? Ek kla so maklik, maar eintlik het ek met my gat in die botter geval. Ek kan elke aand eet en ek is verseker daarvan dat my geliefdes veilig is. Ek werk in ‘n gemaklike kantoor waar daar koffie agter my aangedra word. Ek kan ry tot waar ek wil wees.
Ek het so baie om voor dankbaar te wees. Uit dankbaarheid wil ek graag terug gee, maar doen ek genoeg? Daar is die werk wat ek vir MES doen, maar daar is soveel ellende. As elkeen maar net ‘n bietjie van hulle tyd wil gee, sal ons so groot verskil kan maak.
Gedagtegroepe: Sommer maar net.
My beurt vir Huiswerk uitdeel:
Ek tag vir Twilight; Olga en Maxie om hulle voete in my hoefysters te sit. En enige iemand wat dapper genoeg is om te probeer. As jy nie jou eie blog het nie, epos my en ek sal dit hier plaas.
Wie runnik saam?