Roadtrips

9 12 2009

Wat kry jy met frikkadelle, koue hoender, blou eiers en broodjies het?  Padkos natuurlik.  Natuurlik kort jy ‘n pad en iets om die kilometers te laat krimp.  Dit is Desember, baie van ons gaan ons karre pak en die langpad aandurf.  Hoe maak ons dit anders as die gewone?  Hoe word elke kilometer ‘n plesier, sonder dat iemand wonder hoe ver is dit nog?

Ek weet nie.  Ek bestuur gewoonlik en met goeie musiek en mooi weer is dit baie lekker om op die pad te wees.  Dit help natuurlik ook baie as die verkeer gangbaar is.  Ek wil ry, ten minste 120 km/h.  Nie al my petrol opluier nie.  Maar ek het ‘n droom, ‘n droom vanaf Alexanderbaai tot Khosibaai.  Kuslangs!

Eerstens sal een van die UK loterye wat ek gewen het moet uitbetaal.  My ideaal gaan nie goedkoop wees nie.  Ek soek om mee te begin ‘n dubbeldekker bus.  Met ‘n bestuurder en ‘n kelner en nie meer as 3 of 4 passasiers nie.  Bo moet oop wees, met die nodige stoele en sambrele.  Daar moet ook ‘n kroeg gedeelte wees, ‘n mens sal dors word van al die foto’s wat ek sal neem. 

Onder moet dieselfde idee wees, die weer gaan seker soms onplesierig wees.   Onder moet daar iets wees om op te slaap en die kuier hoekie moet toegerus wees speletjies.  Weereens gaan ‘n klein kombuisie ‘n moet wees.  Onweer smeek mos vir warm sjokolade

Ek het nog nie al die besonderhede uitgewerk nie.  Ek weet daar moet alternatiewe vervoer saamgaan, maar ek weet nie of dit ‘n motor of twee Harleys moet wees nie.  ‘n Bus kan nie orals inwurm nie en ‘n mens sal seker moeg raak vir die bus.  Af en toe sal ‘n mens iets van die roete af wil gaan doen.  Of agter wil bly terwyl die bus solank na die volgende staanplek wil ry. 

Ai, dit bly maar lekker om te droom.  Hoe sal jou droom road-trip lyk? 

Breinvasbrand:  Wat is die aanbevele spoed van die Autobahn in Duitsland?

Breinlosbrand:  Nell was reg met Cynthia Lennon.





Vodacom Selfone

9 12 2009

Dit is so gerustellend om ‘n selfoon op kontrak te hê by Vodacom.  Anders as die meeste ander diensverskaffers bied hulle jou ‘n twee jaar waarborg op hulle selfone.  Siende dat die kontrak vir 2 jaar geldig is, is jy darem verseker dat jy altyd ‘n selfoon gaan hê.

Die oomblik wat die 7 dae omruil tyd verstreke is, gaan jou selfoon skree vir nuwe sagteware.  Jy gaan effens warm onder die kraag wees, maar die tegnikus gaan jou  verseker dat dit maar so is met die nuwe fone.  Niks om oor bekommerd te wees nie, tegnologie wat nog nie heel te maal verfyn is nie.  Buitendien, as dit 3 keer gebeur, vervang hulle jou foon vir jou.  Dit is deel van die waarborg. 

Tegnologie hardloop ook vinnig verby die nuwe sagteware ook en kort voor lank met die selfoon weer in.  Jy bekommer nie, na die derde keer kry jy mos ‘n nuwe foon.  Voordat jy behoorlik jou oë uit vee moet jou selfoon ‘n derde keer ingaan. 

Die selfoon word dan van bakboord tot stuurboord gestuur.  Vodacare (hoe ironies) hou dit vir ten minste 4 weke gevange.  Op ‘n dag wat jy die eerste beste Vodacom werknemer wil wurg, kom die uitslag.  Liquid Damage. 

Jy kan jou kop op ‘n blok sit dat jy nooit eers water naby jou foon gesê het nie.  Natuurlik kan niemand jou vertel waar kom die water skade vandaan nie.  Hulle werk is om jou te vertel dat daar water skade is en dat dit die waarborg laat verval.  Hulle kan niks doen nie, maar jy moet maar getrou jou kontrak betaal en sommer ‘n ander selfoon ook koop.  Natuurlik weer met ‘n twee jaar waarborg, net vir gemoedsrus. 

En so begin die sirkel van vooraf.  Gelukkig is Vodacom elke stap van die pad daar om jou te ondersteun. Hoe sou jy tog sonder hulle oor die weggekom het. 

Ek sê, as jy opsluit ‘n Vodacom selfoon moet hê, maak seker jy het Vodacom versekering ook.  Wanneer jou selfoon onverklaarbaar water skade opdoen, kan jy dit altyd stukkend teen ‘n bestuurder se kop gooi.  Dan weet jy wat jou foon makeer as jy ‘n eis insit. 

Breinvasbrand:  Wat was Lennon se eerste vrou se naam?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Elin Nordegren.





Nuusbrokkies

9 12 2009

‘n Vrou is in Kameeldrift deur ‘n man aangeval wat daarop aangedring het dat sy en haar kinders hom meneer noem.  Die man het haar ‘n week gelede net na 10:00 met ‘n mes oorrompel en na ‘n vuurwapen gesoek.  Hy het haar en die kinders vasgebind en gedreig om die kinders 50 keer te steek  en die vrou met ‘n strykyster te brand as sy hom nie ‘n vuurwapen gee nie.  Hy het haar in een van die kamers verkrag en het daarna met 3 selfone en ‘n skoot rekenaar gevlug.  Die polisie het nou nog nie hulle verklarings geneem nie, al was hulle binne minute op die toneel gewees. 

Adv. Barbie gaan Kersfees nog op vrye voet wees.  Vonnisverrigtinge is tot 8 Februarie uitgestel deur waarnemende regter Chris Eksteen.  Die verdediging se getuies is blykbaar nie reg om ter versagting te getuig nie.  Eksteen het gesê dit is die laaste wat hy die saak uitstel.  Visser was al in Oktober skuldig bevind. 

Regter Geraldine Borchers het Annanias Mathe (33) gister tot 464 jaar gevangenis straf opgelê, waarvan hy 54 jaar effektief sal uitdien.  Hy mag ook nie vir parool oorweeg word tot 43 jaar van sy straf uitgedien is nie.  Volgens die regter is hy onrehabiliteerbaar.  Mathe was ‘n kindersoldaat in Mozambiek gewees.  Mathe het die hofsaal glimlaggend verlaat. 

Lolly Jackson is vies omdat een van sy Teazers kliente met een van sy danser wil trou.  Michael Kalyminios wil met Yuliyana Moshorovs’ka (24) trou, maar moet R50 000 vir die voorreg betaal.  Jackson sê hy het Moshorovs’ka se permitte en ander uitgawes betaal, haar kontrak het nog nie verstryk nie en sy skuld hom die geld.  Volgens Jackson het Moshorovs’ka na SA gekom om te dans en nie om man te soek nie.  Kalyminios vertel dat Jackson hulle laat volg en dreig, maar dat die polisie net hulle skouers ophaal