Oral word ‘n mens herinner dat Kersfees ‘n tyd van gee is. En kom ons wees eerlik. Die mense wat jou daaraan herinner is juis dies wat hoop om daaruit voordeel te trek. Dit is die winkels wat graag wil hê jy moet jou geskenke wat jy gaan uitdeel by hulle gaan koop. Of, soos dit al meer die gewoonte raak, liefdadigheid organisasies wat wil hê jy moet geld / goedere aan hulle skenk.
Ons self is wel baie bewus dat Kersfees ‘n tyd van gee is. Die meeste mense maak hulle hande meer as gewoonlik oop wanneer dit Kersfees is. Almal wil graag op 25 Desember ‘n geskenk kry en uitsien na ‘n feesmaal. Juis omdat dit vir die meeste van ons so ‘n spesiale tyd is, wil ons dit graag deel. Daar was immers die ryk wyse manne en die arm herders om Jesus se krip. Almal het in die vreugde gedeel.
Daar was onlangs ‘n berig in die Beeld dat die oorywerigheid oor Kersfees dalk meer kwaad doen as goed. Eerstens aanvaar mense dat alle arm mense dieselfde is. Hulle misbruik drank, wil nie werk nie en mishandel hulle kinders. Hulle gee dan wat hulle dink die mense nodig het, sonder dat hulle enige idee het wat die mense se behoeftes werklik is. Die kinders word toegegooi onder goedkoop geskenke, wat ‘n paar maande later gebreek is en niks doen om ‘n honger maag te vul nie.
Daar word aanbeveel dat mense in plaas om 10 gesinne oor Kersfees te help eerder op 1 gesin te fokus en reg deur die jaar te help. Mense moet eers hulleself vergewis wat die mense se behoeftes is en nie wat hulle dink wat die gesin benodig nie. Hulle moet ‘n persoonlike verhouding met die gesin opbou. Alles goed en wel, maar nie almal kan ‘n persoonlike verhouding bekostig nie. Mense raak te vinnig emosioneel betrokke en verloor perspektief nie. Om ander te help beteken glad nie dat jy jouself te na moet kom nie.
Die wenslyste van onder andere kinderhuise is nie juis veel beter nie. Die probleem is dat 100 mense dieselfde oulike knapie kies en ‘n geskenk voor stuur, terwyl van die ander kinders niks kry nie. Te veel Kerspartytjies ontneem ook die kinders van dankbaarheid en die boodskap van Kersfees. Hulle aanvaar dit as iets wat hulle toekom en nie iets wat ‘n spesiale geleendheid is nie. ‘n Geskenkbewys is glo oor die algemeen ‘n beter keuse, omdat dit die kinders bemagtig om self ‘n geskenk te kies.
Dit is maar net ‘n paar voorbeelde. Die artikel is nogal die moeite werd om te lees. Die vraag is, hoe versprei ‘n mens die welwillenheid van die gety, op ‘n manier dat dit werklik iets beteken? Kersfees sal maar bra leeg wees as ‘n mens nie ietsie vir ‘n ander kan doen nie? Moet Kersfees 12 maande lank wees?
Hoe voel julle?
Breinvasbrand: Wat beteken Advent?
Breinlosbrand: ‘n Bloedblaas vorm wanneer ‘n klein aartjie naby die vel se oppervlak bars en tussen die vel lae in bloei.
Baie geluk aan Salome wat vandag (7 Desember) vervel. Mag al haar projekte goed verloop en mag dit al haar wildste drome oortref.
Wie runnik saam?