Windgatte wat kan doen wat hulle sê

2 12 2009

Ek het ‘n sagte plekkie vir windgatte.  Veral as hulle dade hulle woorde steun. 

In 1966 was daar ‘n 35 jarige man wat summier afgedank is.  Hy het die direksie geïrriteer met sy “gebabbel’’ oor “lawwe idees en strategieë’’.  Dieselfde gebabbel het die groep se 4 kruidenierswinkels binne ‘n paar jaar na 85 winsgewende winkels.  Die snotneus wou nie na die ouer mans luister nie en hulle ego’s kon dit eenvoudig nie meer hanteer nie.

Die man is met twee weke se salaris huistoe na sy swanger vrou en drie kinders.  Dit was ‘n bitter pil gewees om sy vrou te vertel wat gebeur het.  Sy was egter nie in die minste ontsteld nie.  Inteendeel, sy het dit as die beste dag van sy lewe beskou. 

Hy het toe gegaan en ‘n winkelgroep met net 3 takke gaan koop.  Nou dat Raymond Ackerman op 78 jaar aftree, kan hy 800 winkels in Suider-Afrika en Australië wys.  Hy het 60 000 werknemers en spog met ‘n omset van R60 biljoen ‘n jaar.  Glad nie sleg vir ‘n familie besigheid nie.  Hoef Pick ‘n Pay een tree terug te staan vir Checkers?  Ek dink nie so nie.

Dus lig ek vandag my hoed vir mense wat kan bekostig om arrogant te wees.  Mense wat hulle nie met ervaring laat rondbeveel terwyl hulle weet dat hulle idee’s beter is nie.  Mense wat Bernardo Trujillo se woorde kan uitleef:  jy het 90 persent moed en 10 persent kapitaal nodig om ’n onderneming te laat slaag.  Mense wat durf om na hulle gut te luister.

Mense soos Raymond Ackerman!

Breinvasbrand:  Watter winkelgroep het Raymond Ackerman se pa in 1919 gestig?

Breinlosbrand:  Fokker was reg met King Camp Gillette en William Nickerson.





Nuusbrokkies

2 12 2009

Sandra Olwage (65) het Pick n Pay suksesvol gedagvaar nadat sy op druiwekorrels gegly en beseer is in 2007.   Sy het ‘n rugbesering, oop wond aan die linkerbeen en ’n besering aan die regterknie opgedoen en het ‘n eis van R443 000 ingestel.  Pick n Pay moet ook al die hofonkostes dra. 

In Tegucigalpa was Carlos Rosa besig om lyke te laai, toe hy ‘n vrou in kraam van die plakkerskamp opgemerk het.  Hy het haar in die lykswa gelaai en hospitaal toe gejaag, maar het in die verkeer vasgebrand.  Die vrou het met Rosa se hulp in die lykswa gekraam.  Sy en haar man gaan die baba Rosa noem. 

ESKOM het nou vir ‘n jaarlikse 35 % verhoging gevra vir die volgende 3 jaar.  Asof dit nie erg genoeg is nie, dreig hulle nou weer met beurtkrag.  Volgens hulle gaan hulle nie genoeg geld hê vir al hulle aanbouings nie, wat druk op die kragtoevoer sal plaas. 

Suid-Afrika het nou behoorlik in die Wilde Weste ontpop.  Nederlandse toeriste is naby die Kruger-Mpumalanga- Internasionale lughawe aangeval.  ‘n Nissan het hulle gehuurde Golf ingejaag en op hulle geskiet toe hulle nie dadelik gestop het nie.  Hulle is uit die motor geboender en die rowers het met altwee motors gevlug.  Die gehuurde motor is 2 km verder gevind.  Al die toeriste se besittings in die motor, wat hulle paspoorte, selfone en videokameras ingesluit het, is gesteel.  Niemand is beseer nie. 

Nog ‘n predikant met ‘n seksprobleem – blykbaar.  Bongani Paulos (25) is gister in Grahamstown skuldig bevind aan moord en roof op Clive Newman, ‘n Anglikaanse priester.  Newman het Paulos as ‘n ryloper opgetel en kos en slaapplek gegee.  Hy het toe glo by Paulos seksuele toenadering gesoek, maar Paulos het hom met ‘n knopkierie van sy lyf af gehou. 18 jaar gelede was Newman se keel deur Antonie Wessels en Jean-Pierre Havenga, twee homoseksuele mans, afgesny, maar hy het die aanval oorleef.

Limpopo se Departament van Gesondheid kan nie van  R60 miljoen se voertuie, wat 80 ambulanse insluit, rekenskap gee nie.  Derrick Ngobeni van SKOOR het gesê hy weet van 2 ambulanse wat as taxi’s gebruik word.  Die Departement ontken dit, hulle sê hulle kan bewys waar al die voertuie is. 

Ten slotte:  Wielie Walie is terug – op DVD natuurlik.  Om dit te vier, het Wielie Walie ook die strate ingevaar met vertonings.  Gauteng sal van 5 – 13 Desember met opvoerings getrakteer word.