Haarlose Bene

1 12 2009

Dit is nogal iets waaroor ek gereeld wonder.  Veral as ek iets korts in die somer wil dra, maar van plan moet verander omdat my beenhare sigbaar is.  Hoekom op aarde moet vrouens se bene haarloos wees?  As niemand geskeer het nie, was dit nie gross nie.  Waar kom die neiging vandaan?

Volgens Wikipedia kan niemand met sekerheid sê nie.  Klaarblyklik het dit te doen om mans se guns te behou.  Niemand kan stry dat haarlose bene meer aantreklik is nie.  Daar word ook gespekuleer dat dit ‘n manier is om jonger en dus aantrekliker voor te kom.  In die verre verlede was dit niks snaaks vir ‘n 12 jarige om ‘n ma te wees nie.  Hulle beenhare is nog nie baie opmerklik nie.  Ouer vroue moes hulle beenhare geskeer het om met die veel jonger dogters te kompeteer. 

Dit het eers in die twintigste eeu algemene gebruik geword om bene te onthaar.  Die nodigheid het dalk ontstaan uit rokke wat al hoe korter geword het.  Die “safety” skeermes het toe ook in gebruik gekom, wat skeer meer prakties gemaak het.  Dit het natuurlik ook die mark vir skeermesse vergroot.  Daar word geskimp dat die mode deur die vervaardigers  aangemoedig is. 

Ons weet nie alle vroue skeer nie en baie van ons gril daarvoor.  Hoekom, sal niemand kan verklaar nie.  Daar is nogal ‘n paar interessante redes wat daarvoor aangevoer word.  Daar is die feministe wat dit as dubbel standaarde sien en ander wat dit as onnatuurlik beskou.  Ek het egter nooit gedink daaraan dat dit goed is vir die aarde om nie te skeer nie.  Dit verhoed omgewings vermorsing.

Blykbaar is die tannies met harige bene dies wat ‘n baie hoë selfbeeld en selfwaarde het as ons wat skeer.  Hulle is blykbaar gemaklik in hulle eie velle en steur hulle nie aan wat die gemeenskap verwag nie.

Hoe voel julle?  Moet vrouens skeer?  Wat van mans wat skeer?  Het jy dalk ‘n nagmerrie ondervinding met iemand wat nie geskeer het nie?

Breinvasbrand:  Wie het in 1901 ‘n skeermes met weggooibare lemme ontwerp wat in 1904 gepatenteer is? 

Breinlosbrand:  Olga was reg met Edward T. Hall.





Liedjie van 2009

1 12 2009

Ek werk nog aan my eintlike post, maar my tyd is ‘n bietjie beperk.  Terwyl ek skarrel, hier is iets om julle uit die kwaad te hou.

Wat was DIE LIEDJIE van 2009?  Ek het twee nominasies.

Pokerface – Lady Gaga

She-Wolf – Shakira

Wat is jou nominasies?





Nuusbrokkies

1 12 2009

Verskoon tog asseblief die laat koerant, daar was tegniese probleme.

Johann Rupert is as die Universiteit van Stellenbosch se nuwe Kansellier aangewys.  Hy is reeds drie keer aangewys as die mees invloedryke leier in Suid-Afrika en twee keer as sakeleier van die jaar deur die Sunday Times.

Ek het al gehoor van sieners, toordokters en Nelson Mandela wat spanne motiveer.  Carlos Parreira het sy hoop op die vuvuzela geplaas.  Die vuvuzela kan glo die ander spanne intimideer.  Tog hoop Parreira dat Brazilië die toernooi sal wen.  Soveel vertroue in sy eie span. 

Uitspraak in die Els-Klay saak word teen Vrydag verwag.  Volgens Els het hy net ‘n Vader-Seun seks gesprek met Klay gehad.  Els voer aan dat Klay die beweerde posisies wat hulle gebruik het in Basic Instinct gesien het.  Verder was Klay eiesinnig as kind, soos wat bewys word met hoe hy sy ma se kar gesteel het en ‘n meisie gaan swanger maak het toe hy 15 is.  Els beweer verder dat Klay publisiteit gesoek het om homself vir die Wêreld beker te bemark

‘n Rower het gister sy Moses in ‘n ambulans teëgekom in Boksburg-Noord.  Die rowers het ‘n man in ‘n Run X geagtervolg nadat hy geld by ‘n sekuriteitsmaatskappy gaan optel het.  Dit het ‘n wilde jaagtog afgegee.  ‘n Tweede motor van die rowers het met die polisie gebots en daar het ‘n geskietery ontstaan.  Een rower is gedood, maar die ander het weggekom.   Die eerste kar het die Run X bly jaag en op die hoek van Elizabeth- en Ridgestraat het een met ‘n wapen uitgespring.  ‘n Netcare ambulans het dit gesien en die rower in ‘n sloot gestamp met die ambulans.  Hy het homself toe geskiet, maar gelukkig is nie een van die paramedici beseer nie.  Die Run X kon wel op die einde ontsnap.  Die ander rowers is nog op vrye voet. 

En dit is in ‘n neutedop vandag se koerant.