Nuwejaarswense

31 12 2009

Ons wens vir ieder en elk ‘n Ierse Nuwejaar toe:  Mag jou hande in 2010 altyd in vriendskap uitgestrek word en nooit in nood nie. 

And I said to the man who stood at the gate of the year: Give me a light that I may tread safely into the unknown. And he replied: Go out into the darkness and put your hand into the hand of God. That shall be to you better than light, and safer than a known way.
Minnie L. Haskins

‘n Baie Voorspoedige Nuwe Jaar!





Oujaar opblaas

30 12 2009

Ek raak seker ‘n holruggeryde onderwerp aan of dalk is dit ‘n geval van as wat verbrande vuurwerke is.  Duidelik verstaan ‘n seker soort mens nog steeds nie wat dit behels nie.  Hulle gee bloot nie om nie of hulle put sadistiese genot uit ‘n ander lewende organisme se lyding. 

Ek self kan nog so opgewonde raak soos ‘n kind oor ‘n goeie vuurwerk vertoning.  Die verskil is dat dit dan gewoonlik goed georganiseerd is, skouspelagtig is en bowenal net ‘n kort tydjie duur.  ‘n Paar minute sodat ‘n sorgsame eienaar sy diere kan kalm hou. 

Tog, as ons verder dink as ‘n kortstondige kunswerk.  Vuurwerke is beslis nie goedkoop nie.  Nadat dit afgevuur is het dit geen verder nut nie.  Niemand word werklik daarmee bevoordeel nie.  Diere, huislik en wild, word vir ‘n paar minute onder ondraaglike spanning geplaas.  Die aantal swael wat met die afskiet vrygestel word is beslis ook nie voordelig vir die omgewing nie. 

Die probleem hou nie by die groot georganiseerde vertonings op nie.  Dit is maar die minste.  Dit gaan oor die hoe vrylik vuurwerke bekombaar is vir elke Jan Rap en sy maat.  Wat dit begin afskiet van die oomblik wat die son sak tot die oomblik wat die son weer opkom.  Ongeërgd vir die ongerief wat dit vir mens en dier inhou, die drank is nog koud en dit is mos net een keer ‘n jaar oujaar. 

Self dit is nie die ergste nie.  Party mense moet dit verder voer, die liggies en geraas is nie genoeg nie.  Gryp ‘n weerlose kat en kyk wat gebeur met ‘n klapper wat in sy anus opgedruk word.  Wie gee om dat die kat met sy agterlyf half weggeskiet huis toe sal sukkel om voor ‘n paar geskokte kinders te gaan vrek?  Gelukkig was die kinders nie naby nie, dink net watter skouspel sal ‘n kind met ‘n brandende klapper in elke oor gee.  As jy dit met ‘n dier kan doen, kan jy dit met ‘n mens ook doen. 

Waar laat dit ons?  Kan ons willens en wetens toelaat dat vuurwerke links en regs verkoop word aan almal wat die geld het?  Ja, dit is teen die wet, maar niemand steur hulle daaraan nie.

Breinvasbrand:  Wie was die leier van die Gunpowder Plot waaraan Guy Fawkes sy ontstaan te danke het?

Breinlosbrand:  Virgo





Elemente vir die laaste paar dae

29 12 2009

Dit is weer daardie tyd van die jaar.  Tyd vir voorraadopname van wat die afgelope jaar met jou gebeur het.  Waar jy fouteer het, maar ook watter suksesse jy behaal het.  Natuurlik besluit ‘n mens ook so half en half wat jy met die volgende kalender jaar wil doen.  Wat hou die nuwe jaar vir jou in?  ‘n Nuwe uitdaging, nuwe wendings, ‘n nuwe liefde dalk of ‘n jaar wat verby gaan draal?  Sommige mense glo dat dit nie nodig is om te wonder nie, alles staan tog in jou sterre geskryf.

Ons was geleer dat elke mens uniek is.  Iets om op trots te wees, tot jy die dag besef dat almal rondom jou ook uniek is.  Daar is dus niks unieks aan uniek nie.  Geen rede om jou polse af te byt nie.  Gelukkig, volgens Astroloë, is daar darem 12 tipes mense.  Wel, eintlik as jy mooi oplet is daar net 4 tipes.  Alles afhangend van wanneer jy gebore is natuurlik.  Dit is die aanduiding van wat jou sterreteken is en dit is weer bepalend tot watter element jy behoort:  Vuur; Aarde; Lug en Water.

Die Vuurelement verteenwoordig Aries, Leo, en Sagittarius en hulle is klaarblyklik die geregtelike mense.  Jy kan glo altyd die waarheid, regverdigheid en op-die-man-af optrede van hulle verwag.  Hulle is die ware krygers, diegene wat in die doodsnikke van die oorlop nog steeds verbete sal veg vir wat hulle in glo.  Aggressiewe, ferm en dapper mense wat floreer op ‘n uitdaging en nie ‘n nederlaag sal erken nie.  Hulle hou daarvan om die kern van belangstelling te wees en het groot ego’s.   Moet nie op hulle tone trap nie, want hulle vergewe nooit nie en vergeet nog minder.  Hulle is baie wraak gedrewe.  Hulle is heeltemaal instaat om mense fisies en geestelik seer te maak, sonder om ‘n oomblik slaap daaroor te verloor. 

Taurus, Virgo en Capricorn val onder die aard element en hulle weet altyd hoe om in enige omstandighede op te tree.  Hulle is konvensioneel, ordentlik en gepas.  Hulle is goed gemanierd, baie beleefd, maar kan ook baie preuts wees.  Handel en wandel mense, hulle is gewoonlik mense wat handelswêreld uitblink.  Hulle is mense wat baie nou met hulle sintuie saamlewe, hulle hou ook van ‘n mooi omgewing.  Hulle het oor die algemeen goeie smaak en is ook baie modebewus.  Hulle is ook wraaksugtig, maar sal nie sommer iemand fisiese leed aandoen nie.  Hulle sal iemand eerder deur hulle beursies laat boet.  Hulle is mense wat vinnig kwaad raak en dadelik uiting aan hulle emosies moet gee.

Lugelement is die kern Gemini, Libra en Aquarius wat kennis verteenwoordig.  Die element is nie noodwendig meer intelligent as die ander nie, maar het oor die algemeen baie goeie algemene kennis  en is op hoogte van sake.  Hulle het ‘n goeie begrip van tale en is oor die algemeen goed met woorde.  Hulle het klaarblyklik goeie persoonlikhede en is maklik om te leer ken.  Die Lugmense is nuuskierig, het inisiatief, is oorspronklik, gedissiplineerd en is vinnige denkers.  Hulle sal sake deurdink sonder om deur emosionele of fisiese faktore beinvloed te word.  Hierdie mense is op hulle self ingestel en is geneig om hulleself baie harder te oordeel as wat hulle ander mense sal oordeel.  Die mense is ook wraaksugtig, maar met die uitsondering van Gemini, sal hulle nie sommer fisies raak nie.  Hulle sal wraak sweer en met ‘n skelmstreek hulle wraak kry.  Hierdie element is veral geskik vir booshede. 

Laastens is die Watertekens, Cancer, Scorpio en Pisces wat vir hulle goedhartigheid bekend is.  Hierdie mense leef vir liefdadigheid en wil welwillendheid bevorder.  Hulle is vrygewig en tree dikwels filantropies op en is op hulle gelukkigste wanneer hulle goeie dade doen.    Diensbare mense, mense wat hulle onselfsugtig wei aan die mensdom.  Die element is die emosionele element, hulle dink ook met hulle hart en nie verstand nie.  Hulle kry maklik seer, maar sal nie dit aan ‘n ander wys nie.  Hulle tree ook nie sommer emosioneel op nie.  Hulle is baie bekommerd oor wat ander mense van hulle dink en sê.  Al sal hulle hulle self vir ‘n ander uittrek, maak hulle moeilik vriende omdat hulle skepties en baie skaam is, maar hulle is ‘n vriend op wie jy kan reken.  Hulle kan ook maklik mense aanrand as hulle die dag hulle humeur verloor.  Watertekens se karakterfout is dat hulle skynheilig is, hulle manier om wraak te kry. 

Hmmm, ek erken myself in elke element, net soos daar goed in elke element is wat volksvreemd aan my is.  Sug!  Dalk is alles so geskryf dat almal ‘n ietsie van hulle self moet erken, mits hulle nie die ander goed lees nie. 

Glo jy daar is enige nut aan die sogenaamde elemente?  Erken jy jouself in dit?

Breinvasbrand:  Elke element het ‘n ooreenstemmende seisoen.  Wat is Vuur, Aarde, Lug en Water se ooreenstemmende seisoene?   Onder watter konstellasie is iemand wie se sterreteken ‘n Maagd is gebore?

Breinlosbrand:  Wangari Muta Maathai.  Olga was reg.





Morsjorse

28 12 2009

Morsjors tel op jou papiere

Morsjors waar is jou maniere

Hou die plek nou skoon

Anders kom trap ek op jou toon

Dit was ‘n liedjie wat ons iewers in die kleuterskool gesing het.  Ongelukkig was almal nie in my kleuterskool nie, want party mense verstaan dit tot vandag toe nie.  ‘n Mens gaan op ‘n uitstappie om een van die skoonhede van die natuur te bewonder.  Die kamera is reg en jy het jou stapskoene aan.  En dan kry jy dit: 

Dit maak my kinderlik ongelukkig en grootmens die duiwel in.  Hoeveel moeite kan dit nou wees om jou gemors ‘n paar meter saam met jou te dra en dan in ‘n asblik te gooi?  Beslis nie meer moeite as wat dit is om die kos (of wat ookal) saam met jou te dra nie.  As jy so bang is vir uitputting kan jy in jou kar eet en sommer die gemors net daar los ook.  ‘n Mens wil mos juis nie die gemors in die veld sien lê nie.  As dit die plan was, sou jy mos asgate toe gegaan het.

Dit stuit my teen die bors, maar dit is nie die ergste nie.  Dit is bosbouwêreld en brande is die euwel wat bo alle ander gevrees word.  2 jaar terug is die hele gebied rondom Sabie deur brande verwoes gewees.  Die inwoners sidder nou nog as hulle aan die ongenadige vlamme dink, miljoene rande se skade is aangerig en dit gaan die omgewing 50 jaar lank neem om te herstel.  ‘n Ervaring wat niemand weer in hulle lewe wil herhaal nie.  Behalwe die dom idiote wat nie verder as hulle eie gemak dink nie,.

Op hulle toon trap?  Ek dink nie so nie.  Ek sal hulle veel eerder hulle eie rommel laat vreet.  Wat kan ‘n mens met sulke mense maak?  Hulle weet daar is net een aarde, hulle kan sien hoe dit lyk, verwag hulle nou wragtig dat iemand agter hulle gatte moet kom skoonmaak?  Daar is nie skoonmakers nie.  Al was daar skoonmakers, kan dit moontlik te laat wees.  ‘n Dier kon aan ‘n stuk plastiek versmoor het, iets of iemand kon beseer geword het met ‘n stukkende bottel en die hele plek kon afgebrand gewees het.  Wat duisende mense hulle werk sou kos. 

Maar hoekom sal ek nou omgee?  Ek is mos net ‘n toeris. 

Breinvasbrand:  Wie het in 2004 die Nobel Vredesprys vir haar volhoubare ontwikkeling, demokrasie en vrede gekry?  Sy was die eerste swart vrou en die eerste omgewingskundige om die prys te ontvang.

Breinlosbrand:  Max was reg met Anne Geddes.





Fotodilemma

27 12 2009

Dit is vir my al ondenkbaar.  Om vir ‘n dag uit te gaan met ‘n kamera waarmee jy net 24 foto’s kan neem. As jy ‘n bietjie oorywerig is, moet jy maar bid vir ‘n ekstra filmrolletjie en ‘n donker hoekie. Eintlik net fyn beplanning, wanneer jy weet waarheen jy gaan, moet jy raai hoeveel films jy gaan nodig hê of eerder hoeveel films jy kan bekostig.  En dit hou nie by die films op nie.  Jy moet ook inagneem hoeveel dit jou sal kos om die hele boel te ontwikkel.

Na die nagmerrie gedagte, kan ‘n mens net opreg dankbaar wees vir digitale kameras.  Die voordele is legio.  Om mee te begin kan geheueskyfies skoongemaak word en weer gebruik word.  Jy kan na honderde foto’s uitsien.  As jy iewers met ‘n foto aanjaag, kan jy dit uitvee en die oefening herhaal.  Jy kan alles afneem wat met jou praat en dit wat jou afstoot, dit wat jou vriende gaan waardeer en dit wat weird is.  Gewoonlik is jou battery die bepalende faktor van hoeveel foto’s jy neem. 

Almal kan entoesiastiese fotograwe.  Tussen honderde foto’s moet daar ‘n paar wees wat besonders mooi is.  Meer geluk as wysheid, maar as jy nie gaan sê nie gaan niemand weet nie.  Jy hoef nie jou foto’s te ontwikkel nie, maar dit laat nou ‘n nuwe vraag.  Waar bêre jy al die foto’s?  Honderde foto’s op ‘n slag neem nogal ‘n aardige hoeveelheid van jou hardeskyf in beslag.  Ongelukkig moet ‘n mens jou rekenaar vir ander goed ook aanwend.  Wie hou nou na ‘n paar 1000 foto’s op foto’s neem?  Nie ekke nie.

Ek moet nou of kreatief dink of leer om met ‘n swaar hand die duisende swak foto’s af te vee.  Foto’s is nie net ‘n kuns nie, ‘n foto is amper soos ‘n visuele dagboek van wat jy gesien en ervaar het.  Daarom wil jy nie noodwendig voor die voet afvee nie.  Dus moet daar ‘n ander plan gemaak word.  Ek moet ‘n biblioteek van my foto’s bou.  Iets wat verkieslik maklik bestuurbaar is en min moeite en spasie gebruik.  Tans gebruik ek CD’s daarvoor, maar oorweeg ‘n groot eksterne hardeskyf.  Mens moet dan seker steeds die CD’s aanhou as back-up.

Dit laat my dink aan die advertensie van ‘n foto is nie ‘n foto as dit nie gedruk is nie.  Ek druk nooit my foto’s nie.  Ek deel dit met facebook, my fotoblog en van my rekenaar onder my arm.  Blykbaar haat mense dit om na ander mense se foto’s te kyk.  Ek geniet ander se foto’s, maar ek gee (gewoonlik) vir ander mense ‘n keuse. 

Hoe bestuur jy jou foto’s?  Is dit maklik om ‘n spesifieke foto op te roep?  Geniet jy ander mense se foto’s en show jy graag jou eie foto’s af?

Breinvasbrand:  Watter Australiese selfgeleerde fotograaf is veral bekend vir haar baba en moederskapfoto’s?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Frank Farian.





Oplossing 013

27 12 2009

Algemene Kennis

  1. 5 shillings (Nell)
  2. Stal (Nell/Antie Koekie)
  3. 6 Desember (Nell)
  4. 1914 (Nell)
  5. Simeon en Anna (Nell- halwe punt)
  6. Die 4 eeue tussen die profeet Maleagi en die koms van Jesus
  7. Gabriel (Nell/Antie Koekie)
  8. Goud, mirre en wierook (Nell)
  9. O come, all ye faithfull (Nell)
  10. Charlize Theron (Antie Koekie)

Uilspieel 

  1. Bing Crosby, die ander het Stille Nag geskryf en getoonset. (Nell)
  2. St Christopher deel nie geskenke op Kersfees uit nie. (Nell)
  3. Deborah is nie een van die vroue wat in die voorgeslag van Jesus genoem word (Xena)
  4. Fairy is nie een van Kersvader se takbokke nie. (Nell)
  5. Petrus is nie een van die arch engele nie. (Xena)
  6. Skattejag is nie ‘n Kersfees tradisie nie (Nell)
  7. Stoute kinders, hulle gaan nie by Kersvader geskenke kry nie. (Nell)
  8. ‘n Somerfees is nie ‘n gebeurtenis wat deur Kersfees gekaap is nie, die ander was feeste wat deur Kersfees oorgeneem is (Nell – net omdat dit Kersfees was)
  9. I know what you did last summer speel nie oor Kersfees af nie. (Nell)
  10. Jean-Claude van Damme is nie op 25 Desember gebore nie. (Xena)

Liedjiepret (Omtrent almal het dit al gesing, daarom is die kunstenaars nie die week belangrik nie)

1. I Saw Mommy Kissing Santa Claus (Nell)
2. Santa Claus Is Coming to Town (Nell)
3. Silent Night (Nell)
4. Mary’s boy child (Nell)
5. Joy to the world (Nell)
6. Rudolph the Red–Nosed Reindeer (Nell)
7. We, Three Kings (Nell)
8. Away in a manger (Nell)
9. The Little Drummer Boy (Nell)
10. When A Child Is Born (Nell)

Nommer kopkrap

8 & 15 (Maxie)

Toorwoorde

  1. ‘n Spesiale uitgawe van ‘n tydskrif ens. rondom Kersfees (Nell)
  2. Sy eminensie (Xena)
  3. Vegtenue (Xena)
  4. Emmanuel (Nell)




Chariots of Fire 013

25 12 2009

Algemene Kennis

  1. Wat sou jou boete gewees het as jy tussen 1659 en 1681 in Boston Kersfees gevier het?
  2. Waarin het Josef en Maria oornag nadat hulle nie in ‘n herberg slaapplek kon kry nie?
  3. Wanneer is St Nicholas se feesdag?
  4. Watter jaar het Duitse en Engelse soldate ‘n skietstilstand op Kersdag gehou, waartydens hulle self sokker gespeel het?
  5. Wie was by die tempel toe die baba Jesus tempel toe geneem is om die bepalings van die wet na te kom (Lukas)?
  6. Wat stel die 4 weke van Advent voor?
  7. Wie was die engel wat die koms van Jesus aan Maria aangekondig het?
  8. Wat was die geskenke van die drie Wyse Manne?
  9. Watter Kersliedjie het John Francis Wade geskryf?
  10. Wie het verkondig dat Suid-Afrikaners nie Kersfees vier nie?

Uilspieel

  1. Bing Crosby; Joseph Mohr; Franz Gruber
  2. St Christopher; Babouschka; La Befana
  3. Deborah; Ragab; Rut
  4. Vixen; Blixer; Fairy
  5. Raphael; Michael; Petrus
  6. Kerskouse; Kersbome; Skattejag
  7. Kersvader; Stout Kinders; Geskenke
  8. Saturnalia; Winter Fees; Somer Fees
  9. I know what you did last summer; Home Alone; The Holiday
  10. Louis Chevrolet; Jean-Claude van Damme; Dido

Liedjiepret

Ek het gesien Mamma het Kersvader gesoen die aand wat Kersvader dorp toe gekom het.  Ek het reguit vir my Pappa gaan vertel.  Hy het net gesug:  Heilige Nag en gesê van Maria se seunskind.  Vreugde op aarde, gelukkig het my pappa nie Kersvader nie geskiet nie.  Ek dink nie Rudolf die rooineus takbok kan alleen die geskenke aflewer nie.  Pappa en ons het altyd gespeel dat ons drie konings is.  Daar ver in ‘n krippie het ons dan geskenkies gaan neersit en die klein dromspellertjie daar gesien.  Mamma sê ons moet stil wees as ‘n kind gebore word, maar ek dink kinders word in die hospitaal gebore.  Groot mense is simper

Nommer kopkrap

0; 3;  __; __; 24 (vierkant minus x)

Toorwoorde

  1. Kersnommer?
  2. S. Em.?
  3. V  _ G T _ _ U _
  4. ELAMUNEM




Geseënde Kersfees

24 12 2009

Ek en die Heks wil net graag aan almal ‘n baie geseënde Kersfees toewens. 

Mag die vrede en liefde wat die Christuskind verteenwoordig deel word van julle daaglikse bestaan. 

En mag die gifappeltjies omval en Griet nie julle kerskossies weg toor nie!





Familiemoleste

23 12 2009

Kersfees word voorgehou as gesins-/ familietyd.  Kersfees wil ‘n mens by die huis wees.   Spinnekop het juis nou die dag genoem hoe die expats opsien na Kersfees, juis omdat dit nie altyd moontlik is om huistoe te gaan nie.  Die Heilige Gesin is mos met die geboorte van Jesus gevorm.  ‘n Getroude paar raak mos eers ‘n gesin wanneer die eerste baba gebore word.

Vandaar die idilliese prentjie van familiefees.  In praktyk werk dit effens anders.  Families is nie altyd die beste vriende nie.  Kinders speel nie soet onder die Kersfeesboom nie.  Soms spat die vonke behoorlik.  Tieners word verveeld en so word familielegendes gebore. 

So gebeur dit een jaar dat ons Kersfees drie gesinne onder een dak is.  Die dak het net een toilet, maar dit is ‘n ander storie.  Dit was my ma se broer, met sy vrou en 3 kinders; my tannie, haar sleepsel en 2 kinders en ons 6.  In totaal was daar 9 onder 18’s.  Na ete, besluit die seuns dat hulle wil gaan stap.  Dit was in die bos en gou-gou was hulle nie net lus vir stap nie.  Daar moes geswem word ook.

Daar was net een genade.  Adamspakkies!  My broer (13) en my neef  (16) is eerste in en kla toe dat die water koud is.  Maar uitklim is min.  Terwyl hulle baljaar, neem my ander neef hulle klere en die res van die groep stap huis toe.  Daar sit die mannetjies in die dam, sonder ‘n draad klere.

My neef het vir Hitler en Napoleon maar sleg geken.  Die twee het nie ‘n skaam haar op hulle koppe nie.  Hulle het nonchalant huis toe gestap, sonder ‘n saak oor wie hulle kan sien.  Hulle is by die groentetuin is, net om te sien dat die vyeblare te klein is.  In hulle oë in elk geval.  Daar gryp die manne pampoenblare.  Een voor en een agter!

Hulle kom by die sitkamer in met hulle pampoenblare!  En daarmee het hulle die res van die dag geloop.  Die pampoenblare was blykbaar baie gemakliker as hulle eie klere.

Breinvasbrand:  Wie se breinkind was Boney M?

Breinlosbrand:  Nell was reg met die agterbeen. 





Die Kersmaal

22 12 2009

Goed, ons het nou al gepraat oor die ware betekenis van Kersfees en die toepaslikheid van Kerswense.  Dalk moet ons nou na die meer praktiese kant beweeg.  Wat gaan almal eet?

Kersfees is sinoniem met groot familie etes.  Die soort wat dae vooraf gekook word en binne ‘n uur of twee verorber word.  Langsaam.  Die doel gaan meer oor die kuier om die tafel as om die magies vol te kry.  Nie dat daar probleme met die laasgenoemde sal wees nie.  Elke krieseltjie gaan smaaklik opgeëet word totdat niemand meer kan beweeg nie. 

Dit is in elk geval die prentjie wat tydskrifte aan ons voorhou.  In ons huis is die spyskaart net so ‘n tradisie as die Kersboom en geskenke.  Dalk gaan daar ‘n effense variasie wees, maar geen groot verrassings word verwag nie.  Dit kan dalk ‘n oorlog veroorsaak. 

Al verruil ek nie my Kersmaal vir enige iets nie, sal ek graag wil weet wat gaan julle maak om te eet?  Het julle ‘n ete tradisie?  Enige gebruike of gebare wat net op Kersdag gedoen word?  Beplan julle vooruit of is dit gewoonlik op die ingewing van die oomblik?  Word die kos vooraf voorberei?  Is daar disse wat jaar na jaar verskyn of selfs tradisie is?

Natuurlik moet ‘n Kersmaal met ‘n behoorlike poeding afgerond word.  Ek het al gehoor van 5 c poeding.  Kry ‘n mens dit nog?  Ek neem aan ‘n mens moet seker R5’e deesdae gebruik en hoop die kinders word opgewonde daaroor.  Breek niemand hulle tande nie en word niemand siek van die vuil munte nie?  Hoe word die munte skoon gemaak?

Ek honger my solank uit.  Ek vir een kan nie wag vir ons Kersete nie. 

Breinvasbrand:  Van watter deel van die vark kom gammon? 

Breinlosbrand:  Olga was reg met fees van die liggies en Flint oor wanneer dit gevier word.  (Ek is in die Kersgees, shoot me)