Dit gaan my verstand te bowe

30 11 2009

Dit is die jaar 2009 en nog steeds word mense met tye almal soos skape in ‘n kraal gejaag.  Jy moet dalk van publieke vervoer gebruik maak (vliegtuie is ook publieke vervoer) of jy moet tou gaan staan vir ‘n paspoort.  Jy word in ‘n beperkte ruimte saam met ander Homosapiens Sapiens gegooi en jy moet dit oorleef.  Verkieslik sonder om iemand aan te rand.  Hoe nou gemaak?

Ek is oor die algemeen ‘n baie selfsugtige mens wat nie graag deel nie.  Ek is veral mal oor my persoonlike ruimte.  Daarom kan ek die pipperella koors kry as iemand teenaan my kom staan.  Dit is veral erg as ek kan voel hoe die persoon asem haal.  Ek ly nie aan entevrees nie, maar hel.  Kan jy nie maar ‘n paar sentimeters van my wegstaan nie?  Ten minste 50 cm, maar ‘n meter as beslis beter.  Al staan jy teen my, gaan jy nie een sekonde vinniger gehelp word nie.  Ek wag ook.

Nog erger – daar is altyd diegene wat daarop aandring om hulle liggaamsvloeistowwe met my te deel.  Dit is mos ‘n hoogsgeheime gebaar om jou kop weg te draai as jy nies of as jy hoes.  Etiket stel mos eintlik voor dat jy die swaap voor jou uit die pad uit moet hoes of nies.  Sonder ‘n verskoning. 

Daar is ook daardie narre wat jou sal bespring as jy doodonskuldig verby hulle loop.  Laat ek sommer dadelik onderskeid tref.  Daar is ‘n verskil om my beleef te nader en beskaaf met my te praat.  Moet net nie in my probeer klim nie.  Veral nie as jou asem nog boonop stink nie.  Daar skort niks met my ore nie, jy kan maar jou afstand handaf.  Ek gaan beslis nie ontvankliker wees vir wat jy wil sê nie.  Dit is een manier om my summier af te pis.

Hoekom moet iemand ook opsluit langs my kom sit as dit 10 000 ander stoele oop is? 

En my natuurlike gunsteling.  Hoekom wil jy my druk as ek nie eers weet wie jy is nie? 

Sharing is nie altyd caring nie.

Hoekom kan sekere mense nie ‘n ander se persoonlike ruimte respekteer nie?  Of is ek net vol stront?

Breinvasbrand:  Wie het die konsep van persoonlike ruimte ontwikkel?

Breinlosbrand:  Fokker was reg met 1 Desember.





Nuusbrokkies

30 11 2009

Hoe meer dae, hoe meer dinge.  Kgalema Motlanthe reken plaasaanvalle is gewoonlik uitlanders wat voorheen op plase uitgebuit is.  Natuurlik is die VF+ glad nie gelukkig hiermee nie en met goeie reg ook sal ek dink.  Werner Weber het uitgewys dat in die meeste plaasaanvalle die aanvallers en slagoffers mekaar nie ken nie. 

Manto Tshabalala-Msimang wag al weer op ‘n lewer.  Haar liggaam is besig om die vorige lewer te verwerp.  Daar word geskimp dat dit die gevolg is van oormatige alkohol gebruik, maar Prof Del Khan sê die lewer kan net deur akute (binne weke) en chroniese verwerping verwerp word na inplanting.  Sy woorde, nie myne nie.

Gavin Brasher sou R5 miljoen gekry het om mediese afval op sy perseel in Welkom te stoor.  Die stortings terrein, die grootste nog in Suid-Afrika, is Vrydag ontdek.  Dit was alles glo ‘n komplot van ‘n opposisie maatskappy om Wasteman te diskrediteer.  Afval was op Brasher se steenfabriek begrawe en die sakke met ander rommel gevul voordat dit na die verbrandings oond sou gaan.  Brasher het ‘n kontrak om afval van Durban af na Klerksdorp toe te vervoer.  As deel van sy ooreenkoms met die opposisie maatskappy, sou hulle sy boete betaal en die afval later kom verwyder.   

Twee reserviste het ‘n vrou se aanvallers na haar huis gebring om uitgeken te word.  Wilma Coetzer is Vrydag aand na 18:00 aangeval toe sy en ‘n 12 jarige wat by haar was aangeval is.  Sy was aanhoudend in die gesig geslaan en geskop terwyl die aanvallers haar na ‘n steggie probeer sleep het.  Sekuriteitswagte het haar te hulp gesnel.  Die polisie sou die volgende dag haar verklaring geneem het.  Laat die nag het hulle die aanvallers na haar huis gebring en toe ‘n verklaring gesoek.

En ten slotte:  SWAPO se twee derde meerderheid is vir die eerste keer in 20 jaar in gedrang.  Die nuwe party Rally for Democracy and Progress (RDP) het glo goed werk gemaak in Owambo-land gevestig te raak.  Namibië het die naweek hulle verkiesings gehad.