Ek onthou ‘n Saterdagoggend in 1993 waar ek baie opgewonde na die fonds in my pa se kas gaan soek het. Na jare se versigtige oppas het my ma uiteindelik vir Gina ‘n geskikte man gekry. Die kleintjies is deur die nag gebore gewees. Ek het haar bene versigtig oop getrek (daar was jare lank gespot oor die hond met haar kind) en kon net een kleintjie sien. Die produk van ‘n swart ma en wit pa. Die kleinste swart-en-wit-dingetjie wat 2 van my vinger litte lank was. Jy. Later die oggend het ons ontdek daar is eintlik 3 hondjies gewees.
Jy was veronderstel om die bure se hond te wees. Tog het jy jou tandeborsel by ons huis gelos, jy het altyd maar weer en weer jou op my vensterbank tuis gemaak. In die hoop dat niemand jou gaan sien en huistoe stuur nie, min wetende dat jou stert jou altyd verraai het. Jou ma het later die slagoffers van groot honde geword. Nogsteeds het jy klokslag by ons opgedaag.
Tot daardie Donderdagaand toe jy per ongeluk in ons erf raak gery is. Jy was toe omtrent ‘n jaar oud gewees. Ek onthou hoe jy onder die wiel vasgepen was. Ek het nog by myself gedink dat ek doodseker moet maak watter kant toe die kar moet ry, anders is jy dood. Jy is teen die spoed van lig daar weg. Ek het jou om die hoek gekry, toe ek aan jou geraak het, het jy my middelvinger stukkend gebyt. Ek het vandag nog die letsel. Nadat ek kalmerend met jou gepraat het, het jy my darem toegelaat om jou op te tel.
Jou baas het gereken dat jy geskiet moes word as jy te seer gekry het. Die volgende dag het sy jou kom haal, maar teen die Saterdagmiddag het jy nog nie mediese behandeling gekry nie. Dit was toe dat ek jou vir my gevat het. Jy het jou bekken in die ongeluk gebreek. Ek het die veearts met my sakgeld betaal en jy moes onder andere ‘n aborsie kry en reg gemaak word.
Van toe af kon jy openlik op die bed slaap. In die winter was dit styf teen my onder die komberse. In die somer was dit op ‘n punt waar jy nie afgeskop sou word nie. Soms het jy met jou kop om my kussing gelê, maar was vinnig afgesmyt. Net omdat ek my bed met jou gedeel het, het dit nie die kussing ook ingesluit nie.
Wanneer jou hare lank was, het die mense gedink dat jy ‘n klein Engelse Skaaphond was. Nadat ons verhuis het na ‘n huis wat nie vir jou toiletvriendelik was nie, het jy dikwels saam met ons gery. Ek moes toe koshuis toe gaan en dit het jou ‘n ruk lank geneem om dit te aanvaar. Jy was ‘n hond wat ‘n paar keer kerk toe gegaan het en wat self al ‘n begrafnis of twee bygewoon het.
Jy het ‘n leeuhart gehad, jy was die dominante hond op die erf. Dikwels was jy te dapper vir jou klein lyfie, ons moes male sonder tal keer dat jy nie een of ander groot hond die stryd aansê nie. Ons moes dikwels keer dat jy nie ‘n kuiken ontvoer om self groot te maak nie. Jy het die hoenders mooi aan hulle vlerke uit die huis uit gesleep. Wanneer daar ‘n siek/swak hoender was, het jy hom opgepas tot iemand kon kom help het.
Later het ek jou net vakansies gesien, nog later het ek jou darem een keer ‘n maand gesien. Altyd was jy uit jou vel uit om my te sien, nooit het jy my verwyt dat ek jou solank alleen gelos het nie. Tot daardie een naweek wat ek jou gebad het en vergroeisels by jou ontdek het. Plaas het ek jou toe veearts toe geneem.
Die volgende maand was dit te laat. Jou niere het begin ingee. Jy wou nie eet nie en het melk en water opgebring wat jy wel ingekry. Daardie Goeie Vrydag het ek jou op my bed getel (jy kon nie meer spring nie) en gebid dat jy op jou eie terme moes doodgaan. Jy het nie.
Die veearts was simpatiek gewees, maar dit was duidelik dat jy uitgesit moes word. Hy het voorgestel dat ons jou huistoe neem om te groet, maar ek kon jou nie langer daardeur sit nie. Toe ek jou groet het jou oë my vertel dit is okay. Ek het nogtans soos ‘n kind gehuil en nie omgegee wie my sien nie.
Jy was vir my ‘n goeie hond gewees. Ek was nie altyd vir jou ‘n goeie baas gewees nie. Ek raak vandag nog hartseer as ek aan jou dink. Ek sal jou altyd onthou.
Breinvasbrand: Wie was die eerste Dulux hond wat die rol vir 8 jaar lank vertolk het?
Breinlosbrand: Olga was reg met Storage (stoorplek).
Wie runnik saam?