Swart en Wit of dalk Bruin

23 11 2009

Wit mense kan ne saam lekkerkry, maar as die swaarte kom, kan hulle nie saam swaarkry nie.  Dan trek hulle stink op mekaar. 

Jeremia – Raaiselkind van Annelie Botes

Steek daar waarheid in die stelling?

Ek onthou eendag toe ons nog by Jac geblog het, het Willes verduidelik hoekom sy verkies om nie in ‘n blanke woongebied te bly nie.  Ek kan nou nie haar woorde direk onthou nie, maar dit was iets soos.  “Witmense kruip eerder banggat in hulle huise weg as die bure moeilikheid het.  Die coloureds storm die bure se huis in en baklei saam om van die aanvallers ontslae te raak.”

Is dit ‘n geval dat mense bang is ‘n ander se swaarkry smeer af?  Wanneer swaarkry aan die voordeur klop, hol enige sogenaamde vriende lank voor die liefde by die agterdeur uit.  Die oorsaak maak nie juis saak nie.  Kanker, dood, ‘n gestremde kind, werkloosheid, skandes of die tronk.  Eers word die drumpel deurtrap, maar dit raak gou nie meer edel nie.  Almal hardloop weg voordat hulle regtig iets moet doen.

Ek weet dit werk in die blanke gemeenskap so.  Wat ek wil weet is hoekom?  Kan ons werklik net saam feesvier, maar sodra donker tye kom is dit tyd vir nuwe vriende?  Maak ons velkleur ons selfsugtig?

Ek glo nogal dat ‘n mens ‘n mens bly, ongeag van kleur.  Is dit regtig verskillend onder die ander bevolkingsgroepe?  Indien wel, gaan verwestering selfsugtigheid mee bring?

Breinvasbrand:  Aan watter afwyking ly Daantjie Badenhorst, wat Noot vir Noot en Flinkdink gewen het? 

Breinlosbrand:  Giorgetto Giugiaro.





Seal the Deal

23 11 2009

Ek hoop julle het winter in November geniet.

Ek geniet winter, op sy tyd.  Dus tussen Mei en Augustus.  Dan soek ek lente gevolg deur somer.  Die ou normale verloop van die natuur.

Ons lewe in die begin wat 10 jaar terug as Wetenskapfiksie gesien is.  Daar is nie meer baie visse in die see nie, 9 uit 10 natuurrampe waardeur ons gaan is as gevolg van die klimaat wat verander het.  Ons is verby die tyd wat ons handjies gevou kan sit en hoop vir die beste. 

Veel kan ons seker nie doen nie, maar elke bietjie tel.  7 – 18 Desember gaan van die magtige state bymekaar kom om te kyk wat aan klimaatsveranderinge gedoen kan word.  Die Verenigde Nasies het ‘n petisie opgestel vir die volgende:

The petition will serve as a reminder that our leaders must negotiate a fair, balanced and effective agreement in Copenhagen, and that they must seal a deal to power green growth, protect our planet and build a more sustainable, prosperous global economy that will benefit all nations and people

 As jy wil teken, ‘n petisie wat dalk ‘n verskil gaan maak, kliek hier.





Nuusbrokkies

23 11 2009

Ek weet nie so lekker van die storie nie.  Faiza Booysens beweer dat ‘n hospitaal in Klerksdorp haar baba se kop en arms afgeruk het tydens ‘n bevalling.  Die hele kraamsaal was glo teenwoordig met haar bevalling en daar was glo ‘n dokter en ‘n suster wat op haar maag gesit het om die baba uit te pers.  Die kind is glo voor geboorte al dood gewees, maar sy ma sê die baba het beweeg terwyl sy in kraam was.  Vlam, ek sal graag wil hoor wat dink jy daarvan?

Saterdag aand het mense van Limpopo, Mpumulanga en Gauteng iets gesien wat die lug verkleur het.  Sommige reken die lug was wit, ander vertel weer blou en nou ander rooi.  Dit was waarskynlik ‘n asteroïede wat moontlik in Zimbabwe geland het.  Tot 10 000 ton asteroïedes tref die aarde jaarliks.

Die Eastern Pearl juweliers winkel is vir die 2de keer binne 3 maande die naweek beroof.  Volgens Michelle Rodrigues beloop die skade al R2.5 miljoen wat nie die herstelkostes insluit nie.  Die videokameras wys hoe 2 mans Saterdagoggend 02:00 die vertoonvenster met ‘n hamer breek en silwer juweliersware en horlosies steel. 

‘n Dierregte organisasie het ‘n aansoek gedoen vir ‘n interdik teen Koning Goodwill Zwelithini.  ‘n Bul word gewoonlik met die jaarlikse oesfees deur 40 mans kaal hande doodgemaak voor die koning.  Onder andere word die dier geskop, geslaan en oë, tong en geslagsdele uitgeruk om die dier te dood.  Hulle reken tradisies kom nie voor die wet nie.  Ander groepe meen weer die Zulu’s se tradisies word minag.  Wat dink jy?

Almal het seker al die epos gesien met die loodswalvis slagting in Denemarke?  Dit is toe wel die waarheid.  Vibeke Sandholm Pedersen van die Deense ambasade sê ‘n mens moet in ag neem dat dit die Faroe-eilande se kos is.  Hulle het nie toegang tot landbou soos ander plekke nie.  Hy reken ook dat dit nie wreder is as wat by die gemiddelde slagpale gebeur nie. 

Laura Hughes en John Cochrane het onlangs moeilikheid met hulle jag langs die Turkse kus opgetel.  ‘n Griekse boot het op hulle noodsein gereageer maar €10 000 gesoek om hulle te red.  Die paartjie kon dit nie bekostig nie.  Hulle het toe met honde en al kus toe geswem.  Cochrane het met die teef en reun.  Hughes het 9 babahondjies in ‘n krat gesit en daarmee 1 km kus toe geswem

Ten slotte:  Ryk Neethling is vir die tweede keer as Heat se hottest persoonlikheid aangewys.  Geen verrassing nie.