Die Slaap, die wondersoete ding

19 11 2009

Ja, ek weet.  Dit is nie vandag se tema nie.  Julle wil nie weet waardeur ek moes gaan om iets vir vanaand te skryf nie. 

Ek sit so gisteraand en dink.  Elke mens se idee van gaan slaap is anders.  Dit is amper soos ‘n ritueel, iets wat getrou elke aand gedoen word.  ‘n Soort afskakeling vir die nag wat wag.  Vanaand wil ek weet, hoe berei jy jouself voor om te gaan slaap?

Ek klim gewoonlik vroeg-vroeg in die bed.  My televisie is in my kamer (daar is nie ander plek nie) en ek kan ook gemaaklik met die rekenaar op die bed speel.  Dit is ook die plek waar ek meestal lees.  Kortom, ek spandeer baie meer as ‘n derde van my lewe op die bed.  Ek drink gewoonlik my laaste iets (koffie/melk / warm sjokolade) om nege uur.

Ek mik gewoonlik om die lig teen 11 uur af te sit.  Afsit, beteken nie slaap nie.  Ek sal eers gou vinnig stiltetyd hou en my badkamersake afhandel.  Dan sal ek die lig afsit en in die bed klim.  Die televisie kan dan nog moontlik aan wees.  Ek sal vinnig van my selfoon deur al die blogs hardloop wat beteken dat ek moontlik kan kommentaar lewer.  Ek sal dan besluit dit is tyd om te slaap. 

Ek slaap baie woes, maar raak half op my sy, half op my maag aan die slaap.  Dit is gewoonlik in die tyd wat my gedagtes met my weghardloop.  As ek dan ‘n goeie idee het, is dit tickets.  (Ek is oor die algemeen ‘n goeie slaper, ek slaap ook deur alles.)   Ek kan dan moontlik nog ‘n draai by die blogs en my epos maak.  Dan sal ek gaan slaap.  Ek slaap net met een kussing.  In die winter druk ek gewoonlik ‘n kussing agter my rug in vir die koue.  Ek slaap sonder ‘n teddiebeer.

En julle?  Hoeveel kussings en hoeveel ure ‘n nag?  Enige vreemde gewoontes?

Breinvasbrand:  Wat is Doringrosie se oorspronklike titel en wat beteken dit?

Baie geluk aan Willekjind wat vandag (20 November) weer 12 word. 





Nuusbrokkies

19 11 2009

Ek kan niemand blameer wat ‘n ietsie uit Browns probeer smokkel nie.  Ek sal self probeer was ek ‘n kwart kans het.  ‘n Browns werknemer was aangekeer nadat hy in Johannesburg goud in ‘n gaar hoender probeer steel het.  Die metaalverklikkers het hom uitgewys.

Maketa Moloantoa (21) het ‘n baie duur prys betaal vir aapstreke in die Park View Winkelsentrum.  Na ‘n kuier in ‘n restaurant het hy op die roltrap se reeling gespring om na onder te gly.  Na 1.2 m het hy sy balans verloor en kop eerste na onder geval.  Hy het ernstige kop en nekbeserings opgedoen en hy het later in die Pretoria Oos Hospitaal dood.

Die universiteit van Kwa-Zulu Natal het Ceasar, ‘n 27 cm hoog en 70 cm breë robot, bekend gestel.  Daar word gehoop dat Ceasar in die toekoms in soek en reddingspogings gebruik kan word.  Die koordlose robot kan in klein areas ingaan om vas te stel of daar mense in ‘n klein area vasgekeer is in ‘n brand.  Dit het ook ‘n luidspreker waarmee die slagoffer van raad voorsien kan word, terwyl hy gered word.

Daar is ‘n eensame krokodil in die Dusi en hy is honger.  Nivash Dhookran het kruie aan die oewer van die Dusi gepluk toe ‘n krok sy bek onverwags langs hom rek.  Hy het weggehardloop.  Organiseerders het die rivier met helikopters gefynkam, maar niks gekry nie.  Tog sien mense langs die rivier gereeld die krokodil.

Slotvertoë word vandag verwag in die saak van Kapt Renate Barnard die polisie van rasdiskrimininasie aankla.  Sy is al twee keer vir bevordering oorgesien omdat sy wit was.  Die poste is leeg gelos nadat daar geen geskikte swart kandidaat gevind is nie.

Ten slotte:  In Papoea-Nieu-Guinee het 8 mans vir 2 maande op ‘n  7m lange roeibootjie in die Stille Oseaan oorleef.  Hulle het water in die boot opgevang en dryfhout geëet.  2 mans is dood voordat hulle gered is, in sluitende ‘n seun wat in die see verdrink het terwyl hy probeer het om sy hemp te red.