Die regte Afrikaans is blykbaar wildekinders, maar ‘n 3 jarige wat ‘n tantrum is in my oë wild. Die wilde kinders waarvan ek praat is diegene wat min of selfs sonder enige menslike kontak groot geword het en dan soos diere optree. Iets hartseer en glad nie stout of prettig nie. Eintlik is hulle ‘n klag teen die mensdom.
Die kinders kom van ‘n verskeidenheid van omstandighede. Party mense ken hulle as wolfkinders, omdat die kinders dikwels deur wolwe en ander diere versorg word. Ongelukkig is dit nie kinders wat om een of ander rede van hulle ouers geskei is nie. Dit is dikwels hulle eie ouers wat hulle uitsmyt, juis omdat ouers nie die kind se gestremdheid kan aanvaar nie. Nie dat alle ferale kinders gestremd is nie. Sommige van die kinders was ‘n groot deel van hulle lewens opgesluit (weereens baie keer deur hulle eie ouers) en het hulle nooit basiese vaardighede geleer nie.
Verwerping en/of verlating, dus voorafgaande ernstige trauma is iets wat al die kinders in gemeen het. Dit kon met mishandeling voorafgegaan gewees het. Hulle ken nie menslike versorging en liefde nie. Hulle het nooit geleer was sosiaal aanvaarbare optrede is nie en ken glad nie menslike taal nie. Die kinders wat deur diere groot gemaak is, boots dikwels hulle “pleegouers” se gedrag na. Diegene wat bv saam met wolwe gewoon het, eet net rooi vleis. Hulle loop ook soos die diere waar hulle gewoon het en maak soortgelyke geluide as die diere. Die kinders wat op hulle eie gewoon het, eet dikwels net plantaardige kosse.
Asof die aanvanklike verwerping nie erg genoeg is nie. . . Daar is gewoonlike wye belangstelling wanneer so ‘n kind ontdek word. Hulle word toegegooi onder aandag en skenkings. Ongelukkig taan die belangstelling ook weer net so vinnig. Hierdie kinders eindig gewoonlik in ‘n inrigting op waar hulle weg van alles af moet doodgaan.
Dit is amper ‘n onbegonne taak om die kinders te help, die meerderheid kom nooit “reg” nie. Hulle leer ook baie selde mens taal aan en beweeg vir die res van hule lewe soos hulle gedoen het toe hule nog nie ontdek was nie. Hulle sukkel selfs om te leer hoe om die toilet te gebruik. Alles goed wat ons as vanselfsprekend aanvaar wat hulle nie as kleuters aangeleer het nie.
Soos Genie, die meisie in die onderstaande foto. Sy is in 1970 ontdek. Sy was op 14 maande as stadig gediagnoseer. Haar pa het hoor elke dag vir omtrent 12 jaar lank op ‘n potjie vasgemaak. Haar ma en broer was toegang na haar verbied gewees. 4 jaar nadat sy ontdek is het fondse opgedroog omdat sy so min vordering gemaak het. Sy was op ‘n stadium by pleegouers wat haar nog verder mishandel het. Sy is vandag, 35 jaar later, in ‘n gestig. Niemand het ooit weer probeer nie.
Suid-Afrika het ook hulle deel in wilde kinders gehad. Die mees onlangse voorbeeld is Mthiyane. Hy was 5 jaar oud en het ongeveer ‘n jaar lank saam met blou ape in Natal gebly.
Ek dink die hartseerste is dat ‘n mens vandag nog feral kinders kry. Van Wikipedia is dit die lys wilde kinders wat sedert 2000 ontdek is. ‘n Mens moet onthou dat van die kinders vroeg genoeg gekry is. Daar is ook baie onware verhale van feral kinders in die omloop. Mense sal enige iets doen vir sensasie.
- 2001 – Alex, die hondseun wat in Chile ontdek is.
- 2002 – Traian Cãldãrar is in Romanië ontdek nadat sy 3 jaar saam met wilde honde gebly het.
- 2004 – Andrei Tolstyk is deur ‘n waghond in Rusland groot gemaak nadat sy ouers hom verlaat het.
- 2007 – Lyokha ook van Rusland wat saam met ‘n trop wolwe gewoon het en soos ‘n wolf opgetree het. Hy was in Moskou in ‘n hospitaal opgeneem waar hy gebad en sy naels geknip was, hy mediese behandeling en ‘n paar etes gekry het voordat hy ontsnap het. Hy is vermoedelik steeds in die wild.
- 2008 – Danielle Crockett, VSA, was vir die eerste 7 jaar van haar lewe opgesluit gewees. Sy is aangeneem en kry intense terapie om haar aan die menslike omgewing gewoond te maak. Dit is nog net ‘n jaar, hopenlik gee haar versorgers nie op nie.
- 2009 – Natasha, ‘n Russiese 5 jarige meisie wat haar lewe lank in ‘n kamer saam met honde en katte opgesluit was. Daar was geen warmte, water of rioolstelsel gewees nie. Soos honde spring sy teen mense en deure op en blaf vir haar versorgers.
Hopenlik is daar vir die kinders ‘n bietjie genade. Hoe dink julle behoort hulle gehelp te word?
Lees gerus hier vir meer inligting.
Breinvasbrand: Suid-Afrika het in 1904 ‘n ferale kind, genaamd Lucas, gehad. Dit word vandag net as ‘n storie beskou, maar dit het destyds groot opslae gemaak. Watter tipe diere het Lucas na bewering versorg?
Breinlosbrand: Olga was reg met Rudyard Kipling.
Wie runnik saam?