Is anders foutief?

16 11 2009

Ek het die afgelope naweek vir die eerste keer Nell (Jodie Foster en Liam Neeson) gekyk.  Dit handel oor ‘n jong vrou wat ontdek word nadat haar ma sterf.  Sy was nog nooit in aanraking met enige iemand anders nie en het nog nooit die beskawing gesien nie.  Sy praat een of ander onverstaanbare taal.  Haar ma het ‘n beroerte gehad en was verlam aan die een kan van haar liggaam.  Dit het haar spraak aangetas.  Daar is later aangeneem dat Nell se taal ‘n vermening was van hoe haar ma gepraat het en tweelingtaal.  Haar identiese tweeling is as kind dood.

Twee dokters moet besluit of Nell in ‘n inrigting opgeneem moet word en of sy in staat is om op haar eie te oorleef.  Haar verstandelike vermoë word betwyfel omdat sy onverstaanbaar babbel en soms vreemd optree.  Hulle verstaan nie wat met haar aangaan nie, dus moet daar met haar fout wees. 

Ironies, nie waar nie.  Die oomblik wanneer ‘n Amerikaner – wag, laat ek regverdig wees – ‘n mens  met iets gekonfronteer word wat hulle nie verstaan nie, is dit verkeerd.  Daar skort nooit iets met die mens se begrip nie, as dit nie in die algemene blokkie pas nie, is dit foutief.  Klaar!  Daar word nie ‘n rede gesoek nie, niemand stel belang in ‘n verklaring nie. 

Ek moet toegee dat die mens dit altyd probeer regstel.  Die enkeling of minderheid word teen alle kostes gehelp.  Iemand besluit wat vir hulle die beste is, sonder om in ag te neem dat hulle moontlik self weet wat die beste is nie.  Hulle versorging word uit hulle hande geneem, hulle besluitneming word beperk, hulle menswaardigheid word hulle ontneem.  Net omdat diegene wat hulleself as intellektueles beskou iets gekry het wat bokant hulle intelligensie is.

Hoekom?  Is dit vrees?  Vir wat, om te erken ek weet nie en my teorieë kan verkeerd wees?  Is dit dalk omdat dit skrikwekkend is dat iemand buite die mens se raamwerk kan oorleef en selfs dalk gelukkig kan wees?  Kan ‘n mens ‘n oordeel vel oor ‘n ander se lewenswyse?

Breinvasbrand:  Wie het “The Jungle Book” geskryf?

Breinlosbrand:  Eureka.