Laviga gaan proe wyn

13 11 2009

Ek het in die skool gehoor dat die Kaapplek ‘n rooi see het.  Dit is waar al die rooi koeldrank vandaan kom.  Die skool sal mos nie lieg nie.  Iemand het iewers vir die skool gelieg.  Die Kaapplek se see is blou, soos al die seeprentjies in boeke is.  Rooi koeldrank word kammakastig in plase gegroei.  Hulle dink seker dat ek ‘n dom heks is.  👿  GRRR!  Ek het om die hoek vir hulle gevertel dat hulle lieg.  Die mense-sonder-tande het gesê ek moet by Tannie-Oom Simon wat-wyn-bestel gaan kuier. 

P1050913

Op sy plaas vertel die mense my dat hy al sebrajare, honderde jare, al dood is.  Ek is maar ‘n klein heksie en ek is bang vir spoke.  Ek wil nie rooi koeldrank drink wat spoke gepiepie het nie.  Ek het my standaarde.  Die tannies het vir my gelag.  Hulle sê hulle maak rooi koeldrank van druiwe wat in wingoor groei.

P1050907

Ek het glad nie bottels gesien aan die plante nie.  Daar was ook niks druiwe nie.  Buitendien is druiwe pers en ek hou nie van pers koeldrank nie.  Die tannies het my gevertel hoe hulle wyn maak.  Hulle pluk die druiwe en trap dit met vuil voet fyn en vlinders.  Dan sit hulle dit in groot tenke om te sweet en suur te word.  Die wit koeldrank word dan ‘n bottel gegee en die rooikoeldrank kry dan ‘n hout doek aan.  Ek jok nie vir julle nie.  Behalwe as die tannie vir my gejok het en sy sal nie jok nie.  Sy is ook ‘n heks en gelukkig nie die ou perse nie.  Sy het my gevertel sy bêre ook haar besem agter die kombuis deur, nes my Ouma my geleer het.

P1060002

Die hele storie het vir my maar vergesog geklink.  Sien julle, ek is ‘n slim heksie.  Ek ken ‘n paar groot woorde.  Vergesog beteken dat iets nog al die pad soos ‘n lieggediggie geklink het.  Ek wou die rooi koeldrank proe.  Die tannie het vir die Tannie-Oom gesê dat ek soveel rooi koeldrank mag drink as wat ek wil.  Een heks aan ‘n ander.  Die oom wou eers ‘n foto saam met my neem, hy sê ek is die mooiste heks wat hy ken.

P1060028

Die Tannie-Oom het lekker gedink hy is snaaks.  Kyk net hoe min wyn het hy in die grote glas gegooi.  En ek moes baie soorte rooi koeldrank drink.  Hulle was baie lekker, maar ek was dors.  Ek wou net van die portwyn gedrink het.  Baie!  Die Tannie-Oom het gesê ek moet maar die vat buite gaan opsuip. 

P1060019

Sjoe, dit was amper genoeg vir my gewees.  Ek wil ook so ‘n groot beker vir my rooikoeldrank hê.

P1060024

Breinvasbrand:  Op watter skip is Simon van der Stel gebore?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Modjadji.





Nuusbrokkies

13 11 2009

Hier is dalk iets wat bruikbaar sal wees:  Google is besig om die strate van 20 sentrums in SA te verfilm wat jou sal wys hoe die strate lyk waarop jy van plan is om te ry.  Google span ‘n driewiel trapfiets in wat ongeveer 115 kg weeg.  Dit is meer toeganklik as ‘n kar. 

Een of ander bright spark het besluit dat seker zones in PTA 30 of 40 km/h spoedbeperking moet kry.  Dit sal glo help om die verkeersdruk te verlig en om pad sterftes met die helfte te verminder. 

Gautengers moet binne die volgende 4 jaar almal na aluminium nommerplate toe oorskakel.  Dit kos gemiddeld R50 meer as die plastiekplate.  Dit gaan glo help om misdaad te bekamp.  Daar kom ook ‘n nuwe formaat, maar die huidige nommers gaan vir eers bly.  Die nuwe nommers gaan 2 letters, 2 nommers, nog 2 letters en die letters GP hê.  Dit gaan verder ook ‘n 2D strepieskode en ‘n passiewe elektroniese skyfie hê.

Dae van ons roof is terug.  3 rowers het gister ‘n spyseniersmaatskappy beroof en gehoop om in ‘n taxi te vlug.  ‘n Lid van die publiek het ‘n metropolisielid, Donovan van der Berg, in kennis gestel wat die taxi probeer stop het.  Hulle het op hom geskiet en toe skiet hy terug.  Een rower se been is glo in flarde geskiet en ‘n ander het ‘n ernstige kopbesering opgedoen.  Die derde een het weggekom.  Van der Berg het ‘n vleiswond opgedoen.

Leerlinge van Hoërskool Elspark, Germiston, is gister belet om eksamen te skryf tot en wyl hulle fondsinsameling briewe terug is.  Marie Marcus, die hoof van die skool het hulle huis toe gestuur om die vorms te gaan haal.  Van die betrokke leerders het glo nie die vorms terug gebring nie, omdat hulle nie lootjies teen R20 kon verkoop nie.

Op spesiale versoek van Vlam.  Dellie is besig met ‘n ketting storie, waarby hulle graag soveel as moontlik mense wil betrek.  Kliek hier om te gaan help.