Tannie Anna Barnard

12 11 2009

Ek het in ‘n koerantjie, nie te lank terug gelees van ‘n vrou wat vuur dansers afgeneem het.  Soos ‘n mens maar maak het sy die kwaliteit van haar foto geoordeel en ‘n man gesien wat voor die dansers staan en vir haar kyk.  Sy neem nog ‘n foto en wragtig:  Daar staan hy weer.  En sy het niks gesien toe sy die foto geneem net nie.

P1050549

Met ‘n onlangse besoek aan die Kasteel de Goeie Hoop (ja, van Riebeeck se Kasteel in die Kaap), was die verbod op foto’s vir my ‘n steen tes aanstoots.  Ek betaal ‘n fortuin vir toegang, juis vir foto’s, maar ek mag nêrens in die gebou foto’s neem nie.  Ek gra een van die gidse in wie se bewind Lady Anne Barnard in die kasteel woonagtig is.  Sy weet nie, natuurlik is dit ook nie juis ‘n verrassing nie.  Ek het my selfoon en ek begin soek.  En skielik taan my lus vir foto’s.

Anne Lindsay is in 1750 in Skotland gebore, die oudste van 5 kinders.  Sy trou met Andrew Barnard in 1793.  Sy het met Henry Dundas gekonkel en het vir Andrew ‘n pos as Kolonie Sekretaris in die Kaap gekry met die eerste Britse Besetting.  Hulle is in 1797 Kaap toe. 

Lord McCarthy was destyds die goewerneur aan die Kaap gewees.  Hy het sy vrou in Britanje agter gelaat  en buite die kasteel gebly.  Die Barnards moes al die onthale hanteer het, iets waarvan Lady Anne haar goed van haar taak gekwyt het.  Sy het ‘n groot saal agter die De Kat in ‘n balsaal ontskep.  Sy was ook ‘n skrywer en ‘n kunstenaar van formaat.  Van haar dagboeke en briewe kan baie van die Kaap in die laat 1700’s verstaan word. 

Lady Anne was blykbaar ‘n baie mooi vrou, haar man was 12 jaar jonger as sy.  Sy het glad nie ‘n probleem gehad om kaal te bad nie.  En nie in die privaatheid van haar kamer nie, maar in die Dolfyn Bad in die afgeskorte deel van die kasteel.  Sy het ook soms in ‘n stroom in Tafelberg gebad, wat nou as Lady Anne Barnard Bad in Kristenbosch bekend staan.

P1050479

Lady Anne het in 1801 na ‘n kothuis in Nuweland getrek en toe na die Vineyard.  Sy is in 1802 terug na Britanje.  In 1805 is Andrew Barnard weer terug gestuur Kaap toe, maar sy wou hom nie vergesel nie (ek neem aan die wind was haar Moses).  Hy is in 1807 in die Kaap dood en sy in 1825 in London.

Toe wil die Tannie mos terug gaan Kaap toe, waar sy nog steeds is.  Sy heet mense glo gereeld welkom in haar balsaal.  Verder is daar ‘n skildery in haar ou kasteel kamer wat nie beweeg kan word nie.  As iemand daaraan raak, sterf hulle.  Niemand weet hoekom die skildery vir haar so spesiaal is nie.  Sommige reken dat die VOC se skat daaragter versteek is.  Ander reken dat dit ‘n geheime tonnel na Tuynhuys is.

Ek weet nie regtig nie.  Ek wil my verbeel ek dat ek haar agter een van die boonste vensters agter die balkon sien.  Ek sweer daar is die weerkaatsing van ‘n vrou in die Dolfyn Bad.  Ek dink ek het Tannie Anna Barnard met die hand gegroet. 

NS:  Skoor, darem iets oor ‘n spook, maar ek sal nog formeel my huiswerk doen. 

Breinvasbrand: Wie is die Reënkoningin van die Limpopo en Suid-Zimbabwe?

Breinlosbrand:  Olga was reg met ‘n pond van Antonio se vlees.





Openlik skinder

12 11 2009

Ek, Xena Phoenix, se Engels is pateties.  Regtig!  Ek het ‘n onderskeiding in matriek daarvoor gekry en niemand was meer verbaas daaroor gewees as ek nie.  My grootste struikelblokke is tenses; uitspraak en dat mense nie vinnig kan luister nie.  Gooi nog ‘n dik Afrikaanse aksent by, dan weet julle presies hoekom ek nie graag Engels praat nie.  Ek lyk op my beste dom, maar ek klink superdom as ek die Engels gooi.

Soms is daar nie juis ‘n ander keuse as om wel die rooitaal aan te wend nie.  Soos in gevalle waar jy by ‘n Skotse dame tuis is, wie se Afrikaans 20 keer erger as jou Engels is.  Siende ook dat sy taamlik bejaard is, wend ek maar my beste Engels aan as ek met haar moet praat. 

Ek loop toe een oggend by die ontbyt saal in en groet die ou dame beleef.  Daar is ‘n paartjie van Port Elizabeth ook daar.  Soos ek verstaan is hulle tipiese voorbeelde van die gemiddelde Baaier.  Die vrou is saam met haar man om hom op te pas.  Niemand sal seker sy mullet, dik goue ketting en die borshare wat by sy hemp (wat tot op sy maag oopgeknoop is) uitpeul kan weerstaan nie.

Die vrou ken ook van, sy is duidelik nie van hier nie.  Sy dra meer blou oogskadu as wat ABBA in hulle hele bestaan gedra het.  Almal kan sien dat sy baie juwele besit en alles op een slag dra.  Verder is gewoond aan knegte as ek moet oordeel aan hoe sy die gasvrou rondbeveel.  Daar moet 11 uur tee na haar kamer gestuur word waar sy die tweede deel van haar ontbyt gaan nuttig.  Ek het nie eers geweet die gastehuis het ‘n kamerdiens opsie nie.

In elk geval, bied die man vir my kaas aan.  My mond is vol kos, maar ek skud my kop en glimlag half vir hom.  Ek probeer darem die bietjie maniere wat my ma my geleer het hou. 

“Sy is seker bang dit gaan sit om die heupies.” is die Mevrou se kommentaar. 

Vir hom, nie vir my nie.  Hy maak groot oë en eet verder.

“Jy kan mos sien sy verstaan nie Afrikaans nie.  Dink seker haar gat stink nie.”

Dit is op die punt dat my ontbyt my nou regtig geinteresseer het, ek was te bang ek mis iets van die insiggewende gesprek.  Ongelukkig het die gasvrou op die oomblik iets wat sy wil bevestig met my kamer en hulle maak hulle toe uit die voete. 

Ek wou hulle so graag in volmaakte Afrikaans groet.





Koerant Brokkies

12 11 2009

TLU-SA het ‘n paar interessante statistieke vry gestel.  Blykbaar is daar die afgelope meer mense in plaasaanvalle dood as in die oorlog in Afganistan.  91 Britse soldate is vanjaar daar dood en ten minste 111 mense is in plaasaanvalle vanjaar dood.  In 8 jaar is 232 Britse soldate dood in vergelyking met 292 mense wat in plaasaanvalle dood is in maar net 4 jaar.  TLU, ek stem saam dat plaasmoorde nie die aandag kry wat dit verdien nie.  Maar vergelyk appels met appels, Britanje is nie die enigste land wat in Afganistan baklei nie.

Die Klay-Els saga duur voort.  Klay het erken dat daar nie so baie seksdade plaas gevind het as wat hy te kenne gegee het nie, maar reken dat hy nie al die detail kan onthou van toe hy 11 was nie.

Die publiek gaan glo vertroue in die regsbank verloor soos die regeringslui dit afkraak.  Ek persoonlik dink dit is dalk ‘n bietjie te laat daarvoor.  Sandile Ngcobo is gister in die parlement as die nuwe hoofregter verwelkom en Pius Langa is vaarwel geroep.  Zuma het opnuut belowe om die integriteit en onafhanklikheid van die regsbank te beskerm.  Ek is seker hy gaan woord hou. 

Peter Rich, ‘n Johannesburgerse argitek, het vanjaar die prys vir die beste gebou in die wêreld ontvang.  Dit was vir sy Mapungubwe gebou in Limpopo. 

Eers kla die werkers van 1 Militêre Hospitaal van haglike werksomstandighede, personeel en geld tekort.  Nou het SA Militêre Gesondheidsdiens dit alles ten sterkste ontken.  Ek wonder of die administrateurs ooit hulle voete in die hospitaal sit.  Ek wonder of die administrateurs graag daar behandeling sal wil ontvang. 

Ten slotte, ‘n nuwe dinosourus spesie is in Senekal, Vrystaat, ontdek.  En ja, die nuwe spesie is ook uitgesterf.  Dan is dit in my boeke ‘n ou spesie.